Breindood
Skaars tien jaar oud, onbesorg, jaag jy ’n bal tot voor die taxi op hellevaart.
Steriel op ’n teatertafel afgedek, ventilator, monitors, oorplantingspan: volledig opgestel.
’n Hart fladderend bevry. Lewer en niere sorgvuldig afgeklem, losgesny. Korneas geskil.
Na afloop van die makabere tafereel tussen geteëlde mure, net ek en jy, donker wond en dooie oë, sonder iemand om tot slot jou óf my hand vas te hou.
(Uit: Atropos, Quillerie, 2015) |
Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig
- Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek het die gedig in 2012 geskryf. Ek het op ’n Saterdagoggend gaan help as narkotiseur met die oesting van organe van ’n jong seun wat breindood verklaar is na ’n tref-en-trap ongeluk. Die gedig het daar in sy primêre vorm beslag gekry. Ek het later dieselfde dag gaan narkose gee vir ’n skoolhoof van Hammanskraal of iewers wat een van die seun se niere ontvang het. Dit het nóg ’n gedig geword.
- Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het deur verskeie weergawes gegaan, wat nie noodwendig dramaties verskil het van die aanvanklike nie, maar wat tog klein en subtiele verstellings en aanpassings geverg het.
- Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?
Die vers, kom ons sê in sy primordiale vorm, is daar in teater vir my gegee. Die eerste weergawe het ek daardie dag geskryf. Daarna het die werk, die “bloedsweet”, die slyp en skaaf, skryf en herskryf gevolg. Selfs gedigte wat in sy primêre vorm “maklik” aanmeld, verg dikwels steeds harde werk en soms subtiele veranderings en aanpassings om dit so goed as moontlik te kry.
- In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “onderdeningsprinsipe” toegepas?
Gewoonlik skryf ek die narratiewe verloop neer, bloot as ’n “storie”. Daarna begin ek dit poëties verpak en snoei tot net die essensie oorbly, maak ek dus ’n gedig daarvan, of liewer, vind ek die gedig binne die storie. Die gedig is dus verskuil in die narratiewe gegewe wat ek aanvanklik neergeskryf het. Ek leun dikwels swaar op klank, met halfryme en binneryme. Ek werk ook pertinent na die slot, wat ek glo sterk moet wees. Dikwels is die slot die eerste deel van die gedig wat ek skryf. Die res volg dan daarop.
- Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?
Ek het die gedig vir Joan Hambidge en die res van die studente in die klas gewys by Universiteit van Kaapstad waar ek Kreatiewe Skryfkuns studeer het. Daar is dit voorgelê, bespreek en kon almal insette en kritiek lewer, wat my dan weer in staat sou stel om verder daaraan te werk om dit te verbeter en af te rond. Dis die pad wat ek met al my gedigte geloop het. Aan die einde van my studies is dit uiteraard ook deur twee eksaminatore gelees wat ook hulle kommentaar daarop gelewer het. Tydens die publikasieproses by Queillerie is dit aan twee keurverslae en ’n redigeerverslag onderwerp wat almal tot mindere of meerdere mate kommentaar en insette gelewer het. Alle insette kon ek uiteraard oorweeg en self finaal oor besluit en aanwend of nie.
- Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Sowat drie jaar later in November 2015 is dit gepubliseer in my bundel, Atropos, wat by Queillerie verskyn het.
- Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die basiese gegewe is feitelik soos dit gebeur het. Daar is klein verstellings gemaak wat nie absoluut feitelik korrek mag wees nie. Ek weet bv. nie of dit ’n taxi was in die ongeluk nie. Ek probeer in gevalle soos die ook om nie te veel persoonlike detail van die pasiënt uit te vind nie. Ek probeer bv om nie sy naam te weet nie, of as ek dit toevallig hoor, probeer ek dit vergeet. Dit maak dit makliker vir myself na die tyd om nie ’n naam te hê om te koppel aan die gesig nie. Die gesig bly jou sonder uitsondering by. Sonder persoonlike detail is dit makliker. Dit lei uiteraard daartoe dat alles nie feitelik tot op die letter akkuraat is nie.
- Is dit ’n narratiewe vers?
Ek dink mens sou dit as sulks kon tipeer.
- Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Ek dink ek het dit reeds grootliks beantwoord. Dis ’n jong seun, breindood na ’n tref-en–trap ongeluk, waar ek gaan help het, as narkotiseur met die oesting van sy organe. Na die organe verwyder is vertrek die chirurgiese span so gou moontlik met die organe om dit betyds by hulle onderskeie bestemmings te kry waar dit moet oorgeplant word. Die verskillende organe het elk ’n spesifieke lewensvatbare spertyd. Een assistent bly agter saam met die teatersuster om die wonde toe te werk. Die narkotiseur bly tot heel laaste.
- Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Nee, net die private drama in die teater soos ek reeds beskryf het.
- Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?
Objektiewe, eerlike, kritiese leser. Ook enige iemand wat persoonlik sou kon aanklank vind by ’n betrokke gedig, wat miskien persoonlik iets daaruit sou kon put. Joan Hambidge en my klasgenote is maar altyd my eerste lesers: objektief, krities en eerlik. Dis al wat vir my werk.
- In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Die mees omvangryke afdeling in my bundel is sg. “mediese poësie’, waarby die vers goed inpas. Ek het benewens dié gedig ook etlike ander gedigte geskryf wat die onderwerp van oorplantings en chirurgie aanspreek.
- Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Dalk ’n subtiele politieke subteks; swart/wit, taxis wat alle reëls en wette in die wind slaan, ’n wit kind word deur ’n taxi doodgery. In die gedig waarna ek vroeër vlugtig verwys het wat op die gebeure gevolg het word dieselfde jong wit seun ’n skenker van ’n nier aan ’n swart skoolhoof en word dié politieke subteks dus verder uitgedra, kry dit ’n verdere kinkel, word dit ’n gedig van “liefde oor die kleurgrens”. (Dit is uiteraard nie die gedig hier ter sprake nie).
- Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” (abandon)?
Ek kon dit tot so ’n mate bevredigend afhandel dat ek dit kon publiseer. Soos jy egter opgemerk het, is geen gedig ooit regtig “klaar” nie. Ek is egter onseker of “abandon” vir my die regte woord is, want al gee ons gedigte prys, keer ons tog telkens maar weer terug daarheen.
- Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek het heelwat positiewe terugvoer gekry, ja.
- Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?
Dit was in Januarie 1975. Ek kan nie onthou of die gedig ‘n titel gehad het nie, maar daar was beeste met weglêhorings wat kom water drink het met ’n bloedrooi son wat ondergaan en sprinkaanvoëls wat in formasie vlieg … Dit was nie ’n goeie gedig nie, maar ek het nie toe so gedink nie!
Ek kon die gedig vir niemand wys nie, want in daardie tyd op die Transvaalse platteland was dit nie ’n goeie idee om gedigte te skryf nie, veral nie as jy ’n seun was en veral nie as jy sestien jaar oud was nie.
Gedurende dieselfde tyd het my beste vriend vir my as Kersgeskenk ’n middelbladfoto uit ’n Scope tydskrif gegee. Die feit dat hy die foto gesteel het uit ’n tydskrif wat aan sy ouer broer behoort het, het nie gemaak dat ek minder waardering daarvoor gehad het nie. Die meisie op die foto was pragtig! Sy had koring-geel hare en het baie min klere gedra. Ek dink haar oë was blou. Soos die gedig, was die prent vir my ietwat problematies, hoewel nie om dieselfde redes nie.
Ek het besluit om die gedig en die prent saam in my klerekas te versteek, onder my truie. Dit was somer en ek was seker niemand sou dit daar soek nie.
Ek is terug koshuis toe, en met die langnaweek vyf weke later, het ek besef dat ek my ma onderskat het. Die klerekas was reggepak, ook die truie. Die gedig en die prent was weg. My ma het nie ’n woord gesê nie, maar daar was ’n bekommerde kyk in haar oë.
Dit was eers twee jaar later op universiteit wat ek my tweede gedig sou skryf.
Ek het deur die jare my bes gedoen om dié eerste gedig, en die prent van die meisie met die koring-geel hare, te vergeet. Ek het my voorgeneem dat ek my ma nog iewers sal vra wat van die gedig en die prent geword het, maar ek het nooit sover gekom nie. Ek wou ook weet of die bekommerde trek in haar oë oor die gedig was, of oor die prent. Sy is in 2009 dood voor ek onthou het om haar te vra.
Ek het twee lewenslesse geleer uit die episode.
Eerstens, moet nooit jou gedigte in jou klerekas wegsteek nie. Ook nie fotos van meisies met min of geen klere aan nie. Veral nie onder jou truie nie.
Tweedens, as daar iets is wat jy wil doen, of iets wat jy wil sê of vra vir iemand na aan jou, doen dit onverwyld. Soms gebeur die lewe skielik, en dikwels vergeet ons om te onthou om dit te doen, en somtyds is dit te laat as dit ons byval, en Charles Bukowski het gesê daar is niks so skrikwekkend in hierdie lewe as om te laat te wees nie …
***
Versindaba
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.