Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 April 2016

Francis Galloway. Aardedag [Breyten Breytenbach]

images 

Aardedag

Francis Galloway

 

Vanoggend het ek wakker geword met reën op die dak en ʼn vae herinnering aan ʼn Aardedag-gedig van Breyten Breytenbach. Na ʼn kort soektog in die boekrak vind ek die gedig, “paradys, ʼn pruimboom”, in een van my gunsteling Breytenbach-bundels. Die gedig is in 1993 gepubliseer in die bundel nege landskappe van ons tye; dit staan in die sesde afdeling, “al lê die berge nog so blou. HERINNERING IS VERBEELDING”. Tom Gouws skryf in sy resensie oor hierdie bundel: “ Selde in enige taal verskyn ‘n bundel soos hierdie. Al die clichémuntings van literêre kwaliteit wat ons ken: grootsheid van omvang en opset, deurgekomponeerdheid, hegtheid, reikwydte, noem maar op, laat nie reg geskied aan hierdie meesterlike teks nie.” Die bundel is in 1996 met die Helgaard Steyn-prys bekroon.

In 1997 was ek as uitgewer werksaam by J.L. van Schaik Akademies en gemoeid met die baanbrekende publikasie van Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent: Ons klein en silwerige planeet. Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Breyten het toestemming gegee dat hierdie gedig in die omgewingsbundel opgeneem kon word. En ook dat dit nou op Versindaba geplaas kan word:


paradys, ʼn pruimboom

 

ek sê ek is die Verbeelder van Urd

nou ontvleesde krygers sit kopknik in die aarde

met klerevodde die geskiedskrif  ʼn vryheidstryd

om lángs die vreeslikheid van die werklike te mag lewe

 

ons planeet so manjifiek met glansende pieke

en skeure wat etter die maan ʼn magneet

vir ou stukke dwars taal die engele se wieke

deurweek in ʼn swartreën woorde

meet ons die weet aan verlange en innering

 

in hierdie dae skryf ek vir jou ʼn liefde

soos ʼn landskap van ink oorspoel

en ʼn raaf wat ark! ark! kraak

in die takke van die kurkeik

omdat hy in die spieël moes droom

van ontblote geheime gebiede

 

sê nou maar, sê nou maar

die vrou se sekspel is ʼn snouende teef

en die man het ʼn slang glad soos ʼn gedagte

skreef-gaande tussen dye, en die dood

 

is daardie Grootbeer wat jy voer

met visse uit die kuil vir die opsy

se hou solank musiek nog huil

 

totdat hy met hónd se harige gedagte

jou omhels vir die vrymaakdans

en sy stink asem kwyl oor jou gesig

 

ek sê die pruimboom is ʼn bruilofslied van sneeu

 

hier benede bors paddas statig uit die nate

en houtsterre word gloeiend gekool

oor die swart vloer van ewigheid

waar visgrate die maat in en uit moet spel

 

ounag vertel ʼn nagtegaal nog verhale van wegsteek

maar aans word dit somer wanneer ander voëls

diktong om genade gaan sing

terwyl ou Grootbeer met ʼn rooi oog

die viool kom ontderm

 

en in hierdie tye skryf ek vir jou ʼn liefde

my donker dame, van die pruimboom

se brommende vrugte geswel soos harte van huweliksgaste

 

as ek bloeisel-lig dans by wyse en wysie

van die temmer

sodat jy lieflik verder mag lewe

onderweg na die bruidegom

 

22 April, Aarddag

 

© breyten breytenbach. 1993. Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde. Groenkloof/Somerset-Wes: hond/intaka

 

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Breyten Breytenbach. Kleinreis deur ‘n vergete notaboekie
Breyten Breytenbach. Mossie maar maan →

1e kommentaar op “Francis Galloway. Aardedag [Breyten Breytenbach]”

  1. Marlize Leyden says:
    23 April 2016 at 14:28

    Een van die min gedigte waarin hy hoofletters gebruik.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk
  • Bert Bevers. Aanwijzingen
  • Riaan le Roux. Kans
  • Paul Kloppers. bosluisvoël
  • Digtersprofiel: Marlise Joubert

Nuutste kommentaar

  1. Stephan du Toit on Stephan du Toit. Geboorteland13 January 2026

    Baie dankie Marthé.

  2. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Musikale oomblik9 January 2026

    Dankie, Joan.

  3. Marthé McLoud on Stephan du Toit. Geboorteland9 January 2026

    Treffende gedig.

  4. Joan Hambidge on Bernard Odendaal. Musikale oomblik8 January 2026

    'n Uitstekende palinode - spel met Cloete. En die slot is 'n mokerhou! Jou gedig is treffend.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Voorbeeldig8 January 2026

    Treffend. En: Gesondheid in die rondheid!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d