Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 May 201629 April 2016

Digstring: Emma Bekker. Nagvangs

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

Nagvangs

(Pediatriese onkologiesaal, Donald Gordon, Oktober 2009)

 

Daardie dag het die water vinnig opgedroog,

waters waar rus is,

die oase van die moedertong,

met sussende sinne en stories soos skole vis,

het drupsgewys verdamp,

onder skel teaterlig en geskropte vloer.

 

Daar is, goddank, visse so oud en eerlik soos die aarde voor die mens,

wat hulself onthef het van die nukke

van volgehoue vog:

daardie nag, droëmond, langs haar ontsmette bed,

het ek knielend kaalhand babers uit ’n kleikombers gegrou en

vir my kind sop gekook.

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

”Nagvangs” is in 2013 geskryf.  Die gedig is die filtraat van vier jaar se broei oor ‘n

 grensverskuiwend gebeurtenis in ons gesin se lewe. In 2009 moes my dogter, Emmie, sjirurgie ondergaan om te bepaal of ’n seldame melanoom op haar enkel enige ander kwaadaardigheid in haar lyf agtergelaat het.  Sy was op daardie stadium elf. Die melanoom is seldsaam en niemand het regtig geweet hoe om die situasie te benader nie. Die prosedure het gewys dat daar geen kankerspore in haar lyf oor was nie, maar ongelukkig het die ingryping haar met blywende limfedeem in haar been gelaat. As ouer worstel mens dan met die impak van die besluite wat jy omtrent jou kind se welsyn geneem het.  Om te dig, is my vorm van selfterapie.

2. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het op ’n Sondagoggend vroeg, voor die goue uur, uit my onderbewuste uitgekruip. Ek het dit in ’n slaapbenewelde toestand op my foon neergepen en vir my man geWhatsapp. En toe het ek weer aan die slaap geraak. Dit was soos ’n pitsweer wat my lyf verlaat het. Die gedig het omtrent in haar oorspronklike vorm in die bundel verskyn.

3. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Daar was vier jaar van emosionele bloedsweet en een nag van verlossing.

4. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “onderdeningsprinsipe” toegepas?

Nagvangs kom uit ’n oerbron. Daar was intuïtiewe ordening wat ek nie eers kan beskryf nie. ’n Sjamaniese proses.

5. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

My man het díe Sondagoggend die gedig op sy foon gelees en omtrent in sy oggendkoffie gehuil. Dis wonderlik om met die seun van ’n digter getroud te wees. Alber is ’n uitstekende leser. Hy is my “muus”. Ek dink die gedig was vir ons albei ’n soort katarsis. Ons het later die dag middagete gaan eet by die Burgers, wat amper-bure van ons is. Ná omtrent twee glase wyn, het Alber sy foon uitgehaal en vir Willie die gedig gewys. En toe vra Willie: “Emma, is daar nog waar hierdie vandaan kom?” Hierdie gedig was die impetus vir die uiteindelike verskyning van Skryn. Alber, Willie, my skoonpa, Pirow Bekker, Christo van Staden, Willem Krog, Charl-Pierre Naudé en ’n paar van my nabye vriende word as klankborde ingetrek in my skeppingsproses. Ek kies my klankborde volgens die inhoud van elke gedig.

6. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

“Nagvangs” is in Skryn (Protea, 2015) gepubliseer. Drie jaar nadat dit geskryf is.

7. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Ek dink ek het die vraag reeds gedek. Die res laat ek aan my lesers oor.

8. Is dit ’n narratiewe vers?

Dis ’n beeldende vers met ’n narratiewe gevoel. Dis hoe my derms dit wil beskryf.

9. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ek sou hoop dat die inhoud en die agtergrond wat ek pas gegee het, ’n avontuur van die ontsluiting van hierdie vraag vir die lesers sal inhou.

10. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die beelde wat in my geheue ingebrand is, daardie nag in die pediatriese onkologiesaal in Donald Gordon, was sterk genoeg.

11. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee. My gedigte is baie uiteenlopend. Ek hoop maar my selfterapie resoneer met diesulkes wat met soortgelyke stukke inhoud in hulle lewe stoei.

12. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis een van die latere gedigte in die bundel. Daar is moontlik ’n soort loutering in die beeldgebruik wat dui op ’n nuwe wending in my toekomstige werk. Ek het hier begin rondspeel met ’n nuwe, sekerder stem.

13. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ek wil sê babers, maar hulle is oral.

14. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” (abandon)?

Só gemaak en só gedruk. Gedigte is maar soos kinders. Hierdie een het geweet wie sy was sedert sy gebore is. Ek moes haar net los om haarself te wees.

15. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek was aangedaan en ontroer.

16. Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Ek maak al rympies vandat ek die towerkrag van rymwoorde ontdek het. Die eerste “ernstige” gedig, het ek geskryf toe ek tien was. Al wat ek oor daardie poging gaan sê, is dat die inhoud baie ambisieus vir ’n tienjarige was. Ek dink ek poog steeds om moeilike inhoud in verspakkies te klee.

***

Versindaba

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d