Troeteldiere het kleiner geword. Ek verwys natuurlik nie na die olifant in die hoek van die kamer nie. Ek het fisiese troeteldiere in gedagte. Dit is seker maar die moderne wooneenhede wat kleiner geword het. Die kompartemente waarin ons woon se leisels word deur ‘body corporates’ beheer en die meeste laat slegs ‘n klein hondjie toe. Die wooneenhede word naby aan mekaar gebou vir sekuriteit en ekonomiese redes. Geen voëls of katte, slange of perde word in die interpersoonlike ruimtes van sekuriteitskomplekse toegelaat nie. Die meeste slaapkamers in die wooneenhede is nie groot genoeg vir dubbelbeddens nie – slegs ‘n enkelbed en bedkassie.
Troeteldiere het stom geword. Voëls maak te veel geraas op die stoep wanneer die eienaar weg is. Dit dien as steen des aanstoots of anders gestel – dit krap die buurman se persoonlike ruimte liederlik om. Ons het ‘n jaar of drie gelede ‘n troue in Gauteng bygewoon en in ‘n gastehuis oorgeslaap. Die eienaar/skoonmaker het met ons aankoms uit die gaste-eenheid gekom as deel van haar roetine om seker te maak dat alles netjies is. In haar een hand was die skoonmaakmiddels en in die ander hand ‘n hok. Ek het tot op daardie stadium nog nooit van ‘n ‘bearded dragon’ gehoor nie. Dit was so paar jaar gelede die nuutste inding met betrekking tot troeteldiere. Die draak is gelukkig nie vuurspuwend nie en maak slegs sis-geluide as dit kwaad is – dit voldoen dus aan beide die veiligheidsvereistes en klankdrempeltoetse van die hedendaagse troeteldier. Die draak was haar skoolgaande seun s’n en sy het die akkedis te jammer gekry om dit heeldag en aldag alleen in ‘n kamer opgesluit te hou.
Ek wonder of die ontwikkeling wat plaasgevind het slegs met kleiner huise te doen het. Ek is seker daar is ‘n voor die hand liggende rede vir die verandering in die tipe troeteldiere wat ons persoonlike ruimtes met ons deel. As ‘n mens daarna verwys as ‘n vorm van evolusie, sou dit seker ‘n soort evolusie van die aanpasbaarste wees, want hier is dit nie die grootste en sterkste wat oorleef as troeteldier nie. Dit is die troeteldier wat aanpas by ons moderne lewe se verkleinde spasie en die oorkruising van persoonlike auras wat die keuse van troeteldiere beperk. Dit is ook nie ‘n gemaklike skuif om te maak nie, want diere soos die bebaarde draak het spesiale UV ligte, krieke en insekte nodig om te oorleef. Dit voldoen ook dus nie aan die mense se natuurlike strewe na meer gemak nie. Die olifant is steeds in die kamer, maar ek weet nie wat om hom te noem nie.
Here be dragons
Hier is inderdaad drake –
hier in ons huise en tuine,
hier waar die laatmiddag stuiptrek en omkom
en stof word vir môre se maaiers.
Hier in die koninkrykies wat ons ons s’n noem
tussen die teekoppies, die kikoejoe en die tv
slinger die warm asems soms om ons bene
sodat ons sug en die vensters wyer oopgooi vir wind,
hier waar ons kinders met klippe speel,
hiér is
drake.
– deur Ilse van Staden uit ‘Watervlerk’
Swaai die stert die hond of andersom?
Daar is interessante webbladsye wat handel oor die interaksie tussen mens en dier. Ek het heelwat verwysings na boeke oor hierdie interaksie gesien. Die sielkundige effek wat so ‘n interaksie het, werk in beide rigtings. Daar is onlangs ‘n olifant in Indië dood wat pretritte vir toeriste gegee het. Die olifant het blykbaar ineengestort as gevolg van te veel werk. Sirkusse, wat olifante in vertonings gebruik, kry baie kritiek oor hul praktyke. Die vraag is dus of diere deur mense afgerig mag word om werk of toertjies te verrig. Word die toertjies as werk gesien? In hoe ‘n mate mag die werk buite die dier se natuurlike aard aangeleer word? Al hierdie etiese vrae se antwoorde het deur die jare verander. Kyk maar na die gebruik van honde as gids vir mense. Honde help ook met behandeling en terapie vir outisme en getraumatiseerde kinders. Mense het dertig jaar gelede anders gedink oor sirkusdiere. Ek wonder hoe mense na dertig jaar gaan dink oor gidshonde?
Honde word nog op baie plekke as waghonde ingespan. Hul goeie reuk- en gehoorsintuie maak hul geskik vir die werk. Die interaksie gaan hier oor dinge wat die diere aan ons as mens kan bied. Daar is die sekuriteit, die emosionele voordele ens. Daar is natuurlik the vraag wat ons as mens aan die diere en spesifiek die troeteldiere kan bied. Watter voordele is daar vir iets soos die moderne bebaarde draak of die tradisionele hond in die transaksie? Waar lê die balans vir hulle?
Van honde en halsbande
Die mens begin ook al meer te dink aan die manier waarop hulle met diere omgaan. Vorige generasies het dieretuine besoek om vreemde diere te sien en ook te bewaar. Elke hok was ‘n nagemaakte habitat. Deesdae wonder ons meer oor die etiese vrae rondom dieretuine. Ons verkies om in oop voertuie eerder na die dier se habitat toe te gaan as om ‘n habitat te skep. Die bewaring en ondersoek van diere bly ‘n tameletjie selfs met so ‘n sienswyse. Die perspektief wanneer dit by bewaring kom, skuif miskien nader na die dier se belang en minder na die mens se belang.
Die Amerikaanse Indiane is bekend daarvoor dat hul naby aan die natuur geleef het. Hulle het families volgens dierename ingedeel. Hulle het die gesigte van diere op hul totempale uitgekerf. Die beer het ‘n prominente rol in baie van hul volksverhale en fabels ingeneem. Die lyn tussen mens en dier word somtyds in hul volksverhale vervaag deurdat ‘n mens nie kan uitmaak of die beer ‘n dier is en of dit moontlik ‘n mens met ‘n beervel oor sy skouers is, wat rondom die vuur in so ‘n vertelling sit nie.
Die mens se beste vriend
Om terug te keer na die interessante webblaaie: ‘Anthrozoology’ (miskien antrodierkunde of antrozoölogie in Afrikaans) is die studie van interaksie tussen mense en ander diere. Dit laat ‘n paar dissiplines oorvleuel en betrek sosiologie, dierkunde, sielkunde, geskiedenis en geneeskunde. Al meer tersiêre instansies reg oor die wêreld begin aandag skenk aan hierdie tipe interaksie. Antrozoölogie word vanuit ‘n paar rigtings benader, maar een wat my opgeval het, is antropomorfisme. Atropomorfisme is ‘n ingebore sielkundige neiging van die mens en behels die toedig van menslike emosie en eienskappe aan nie-menslike entiteite. Dis nouliks verwant aan personifikasie. Literatuur en ander vertellings gebruik dit al vir solank as wat die mens stories vertel. Voorbeelde sluit Lewis Carroll se ‘Alice se avonture in Wonderland’, Rudyard Kipling se ‘Die Oerwoudboek’ en Beatrix Potter se karakters in. Die moderne kinderboeke gebruik dit so dikwels, dat dit moeilik is om ‘n kinderboek op te tel wat dit nie gebruik nie. Daar is ook voorbeelde van hoe mense weer eienskappe aanneem wat met diere geassosieer word.
‘n Mens sou jouself kon afvra wat die rede vir ‘n studierigting soos antrozoölogie sou wees. Dit probeer miskien verklaar hoekom mens en dier mekaar se lewensruimte wil deel. Die plek waar die mens en die natuur se paaie kruis, is sekerlik nog ‘n invalshoek. Ons wortels in die natuur word dalk met ‘n blok sement van modernisering bedek, maar die wortels het die grond nodig om te oorleef.
Miskien is die olifant in die hoek van die kamer ‘n tweede kyk werd. Die vraag is hoe interaksie tussen die mens en die natuur behoort plaas te vind. Ek is nie meer seker of die rol van die olifant in die kamer so ‘n uitgemaakte saak is nie. Ek verbeel my dat die olifant dalk ‘n pels aanhet en dalk ‘n mens soos ek en jy is. Gelukkig voel my hond instinktief aan as ek te diep dink oor onsinnige dinge. Sy gooi haar papnat tennisbal op my voete en druk haar snoet teen my been waar ek voor my lessenaar sit en werk. Honde en ander troeteldiere weet hoe om ten volle te leef. Ek leen graag ’emosie’ vir stories, gedigte, psalms en lewensresepte by ons gidse, ons begeleiers, ons troeteldiere. Ek is dankbaar vir elke voor die hand liggende geheim wat ek andersins mis sou gekyk het. Troeteldiere word daagliks groter in my oë en praat met stomme insig oor dinge wat ons as mens nog moet leer.
om op die rug van ‘n donkie in die see te swem
om op die rug van ‘n donkie in die see te swem
deur ‘n land bo die wolke
oor landskappe van droom
‘n pen soos ‘n staf in die hand
om bloots op ‘n esel oor ‘n golf te galop
warrel in die hare
Stormmeeu op die skouer
se vlerk gesprei teen die strale
om saam met ‘n hings deur die seë te ry
voorkop rug voetbrug gesout
teen die brand van blindwit branders
om borsdiep in ‘n woord te toer
die walvis ‘n inkvlek op blou papier
wanneer die Windmaker se asem
die water stadig roer
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son ‘n engelkop
vanaf ‘n eselrug aanskou
om die heelal en hemel so dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees
-deur Carina Stander uit ‘woud van nege en negentig vlerke’
Bronne
1. Stander C, woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg Uitgewers, 2009
2. Van Staden I, Watervlerk, Tafelberg Uitgewers, 2003
Dankie Wicus. Interessante perspektiewe wat jy opper. Toe honde nog honde was, was daar erwe en strate en gras.
Hierdie honde in woonstelblokke is dalk nie ‘n goeie ding nie – ‘n woonstel sonder ‘n tuin is maar net ‘n groter ‘voëlhok’ vir ‘n hond. Al is die hond klein, hond bly mos hond. Natuurlik stem almal nie saam nie. Hond kry minstens liefde en versorging en die eienaar het geselskap.
Die soepel en sensuele gedig van Carina Stander is treffend.
Baie interessante artikel, Wicus!
Bly jy’t dit geniet, Susan. Ek vind die onderwerp vreeslik interessant.
Ek het my verlustig in jou artikel en die gedigte, Wicus!
Bly jy’t dit geniet! Baie dankie vir die lees, Nicolette.
Interaksie tussen mens en hond… Wicus, ek ontvang onlangs hierdie skakel van ‘n vriend:
https://www.facebook.com/latenightviralvideos/videos/1020736764628280/
Kostelik, Leon. Dankie hiervoor!