Nuwe publikasie: Waar die oog van stil word (Ilse van Staden)

Omslag

Waar die oog van stil word                

Ilse van Staden

Waar die oog van stil word is Ilse van Staden se derde digbundel en is net so keurig afgerond soos haar vorige bundels. Die eerste groep gedigte handel oor die verwerking van verlies en afskeid van die bekende. Dan betree die digter die onbekende wêreld, waar sy haar vereenselwig met klein lewende wesens soos slakke en torre wat dit ook moet waag in die groot buitewêreld in. Die digter het net ’n veerpen oor om mee te skryf en om ’n skip met woorde en drome te bou waarmee sy in die verbeelding kan reis. Daar is ’n sterk bewustheid van die vervlietendheid van alles: Al probeer die oog ook onthou, maar dit kan slegs weerkaatsings boekstaaf vir die brein se verbeeldingskrag en kan die digter dit met woorde probeer vasvang.

            Deurgaans is die digter daarvan bewys dat dinge nie bewaar kan word nie, soos die lig wat in donker oorgaan, die wind wat vlugtig aan skouers raak, die geluide van voëls teen skemer, ’n brander wat oor die strand spoel en onmiddellik verdwyn. Ten slotte is die digter ook bewus van die paradoks van die digkuns: Dit is onmoontlik om die stilte van die see in woorde vas te vang, want “daar’s geen woorde in die see nie/en geen stilte in ’n vers!”

OOR DIE OUTEUR

Ilse van Staden het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en as veearts op verskillende plekke gepraktiseer. Haar eerste digbundel, Watervlerk (2004) word met die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy skryf ook prosa. Tans woon sy in Australië. Haar debuutroman, Goeie dood wat saggies byt, verskyn in 2016.

(Protea Boekhuis, 2016.  R150.00 (BTW ingesluit) ISBN:978-1-4853-0605-4 (gedrukte boek)   978-1-4853-0606-1 (e-boek) 978-1-4853-0607-8 (ePub), 137 x 213 mm, Sagteband, pp 60.

Donkerkloof, Waterberg

.
daar wás ’n blou trekker

of miskien was dit ’n dobbering
op iemand anders se horison
iets wat ek as my eie wou eien, later,
soos die berge en die water
maar ’n kleiner, blouer detail
soos ’n blom
of ’n foto teen ’n opspeldbord

’n mens is op vier, vyf, reeds sovéél
van wat jy mettertyd as grootmens word

die dam en die spruit en die kloof
het oor die jare heen gekrimp
tot plasse in ’n voortuin
waar visse soms in kolle sonlig flits
en die trekker op ’n foto net in swart en wit

maar die berge bly, die berge en die water
en die klein blou detail van ’n blom
wat op die spieëlvlak van herinnering
tydelik tot ruste kom.

 

(Uit: waar die oog van stil word. Protea Boekhuis, 2016)

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Nuwe publikasie: Waar die oog van stil word (Ilse van Staden)”

  1. g2 :

    die mooiste cover…

  2. anton van der woude :

    cover

    cover my ‘n lover, ooo! cover my ‘n lover
    gee twee, gee drie, gee vier
    ‘n lover, ‘n cover
    dis gee twee voor met die cover
    en agterloop die lover
    haitsa! vir die wonnerlike taal
    van die cover
    en sy lover

  •