Nuwe publikasie: Die kleur van water (Louis Jansen van Vuuren)

kleur van water

Die Kleur van Water

Louis Jansen van Vuuren

Tussen die bundel se blou voor – en agterplat vervloei leitmotiewe van kleur en water; die tematiek berus op die vasvang van die erotiese oomblik wat nie net sintuiglik ervaar word nie, maar ook deur ’n ryk tekstuur van kuns, mitologie en milieu. Die verkenning van die self en die geliefde word ontgin in die uiteenlopende landskappe van drie kontinente – Europa, Afrika en Australië  – wat in drie tale verwoord word: Afrikaans, Engels en Frans.

Die metaforiese vertrekpunt is Horace-Bénédict de Saussure se cyanometer, ’n instrument waarmee blouheid gemeet word.  Nie net bied die bundel lesers genuanseerde verwoording nie, maar ook die visuele impak van Jansen van Vuuren se kuns. Elke gedig word afsonderlik deur ’n oorspronklike Jansen van Vuuren kunswerk/skets vergesel. Die kleur van water word in sewe afdelings verdeel: Blavus, Smalt, Turchino, L’Heure Bleue, Cyanometer, Ekraka en Vlamblou. Die bundel eksploreer ook motiewe soos flora as mikrokosmos en metafoor; die liefde vir astronomie en die nostalgie van die digter-spreker.

In Scrovegni se kranskapel

die hemel, blou gefresko.

Lapis lazuli salf ons.

Adam sak sy kop

Eva bedek haar borste.

Tien gerubyne, bedroef.

Ek herken jou, Oerman,

Onse Vader met oë

die kleur van water.

Ons herken jou, Moeder,

jy met oë die kleur

van umbalawamanzi.

Die bundel is self uit gegee en gedruk deur Scanshop, 2016. R300. (BTW ingesluit.) ISBN: 978-0-620-71075-6. 21 cm x 21 cm, Sagteband, pp 112. Slegs beskikbaar by Protea Boekwinkel, Stellenbosch.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •