Breyten Breytenbach. Mossie maar maan
mossie maar maan
toe die maan half was
soos ‘n stukkende klip
of ‘n binnensmondse skreeu
agter versteende lippe
het ‘n voëltjie op die balkon
kom sterf – stil
sonder om aandag te trek
met die pootjies netjies gevou
van ‘n leerlingkoster se Sondagshande
maar die nekkie slap
en die oog afgryslik leeg
miskien het miere die kyk weggedra
wat sou die rymritme wees
tussen ‘n verweerde ruimteliggaam
wat nie kan sterf
en slegs ‘n wit skaduwee is op die werf
en hierdie gestolde moment
van wat vlug en vryheid was ?
alleen die herinnering aan vere ?
het ek die maan probeer begrawe ?
is dit van op afkyk in die niet
waar blou vure onsigbaar brand
dat ‘n vlietende vlieënde lewe
verdood moes raak in ‘n oop kwatryn ?
Can Ocells, 24 Augustus 2016
aangrypende beelde wat gryp
Baie pragtig. Ek moes nie net verlede week vir Straatkat groet nie, maar die gedig het my dadelik herinner aan hoe ek myself lank gelede byna dood gehuil oor ‘n beseerde duifie wat ek nie kon red nie. Hoe werk dit? Dat ‘n voëltjie se dood mens so kan aangryp. Die lewe bly ‘n ongelooflike geheim!
Oe, daardie eenvoudige “stil / sonder om aandag te trek” breek my hart! Ek singgroet my Straatkat opnuut!
“is dit van op afkyk in die niet”
“mossie maar maan” – nie alles is vlietend nie
Hierdie bejaarde mossiewyfie se dood was ‘n ideale gawe.Tot haar vere leef in die vers. Ruik sy al na maanskadu?
Engela: ‘n engel wat die digter vermaan?
Daniel: nee, darem nie! Vanuit die leeukuil: eerder so bedoel – die titel troos. Hoewel die ewige dinge (bv. die maan) die “gestolde moment” natuurlik beklemtoon.
Eintlik troos die hele gedig omdat dit ook tot die ewige dinge behoort. (So miskien tog n vermaaning!)
Om so bruin en wit te kan sterf op BB se balkon en dan verewig te word met sulke woorde …