Dewald Koen. Wanneer die ‘swart hond’ kom kuier

 

Gedig om ’n pil

Stelazine is jou naam

of liewer

so verkoop hulle jou

– wat jou herkoms is

of samestelling

sal ek vir my broer moet vra.

vir nou’s dit genoeg dat ek weet:

na die godsalige dag

van smeulende son by Clifton

is jy die koel bries oor my lyf

in my lyf

tot in die onderste lae van my gees

waar die son nooit kom nie…

 

Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel is een van die minder bekende Afrikaanse digters met slegs twee gepubliseerde bundels wat onderskeidelik in 1966 (Bloedsteen) en 1970 (Mure van mos) verskyn het. In 2011 verskyn As die woorde begin droom – ‘n keur van sy gedigte saamgestel deur Johann de Lange. Wilhelm Knobel was gedurende sy leeftyd in Stikland en Weskoppies (psigiatriese inrigtings in onder andere Bellville en Pretoria) opgeneem vir behandeling. Sy bipolêre gemoedstoornis en die behandeling daarvan is een van die sentrale temas in sy poësie. Knobel is ‘n enkele voorbeeld van ‘n Afrikaanse digter wat gedurende sy leeftyd met ‘n psigologiese siekte moes worstel.

Depressie is nie ‘n onderwerp waaroor mense graag wil praat nie. Ten spyte van die feit dat daar op gereelde basis meer bewusmaking omtrent die siekte deur middel van veral die media geskied, koester talle mense steeds sekere vooroordele omtrent depressielyers asook die siekte in die algemeen. Hierby kan talle ander siektetoestande soos bipolêre gemoedstoestand en skisofrenie gevoeg word.

Aangesien hierdie nie ‘n akademiese artikel in ‘n mediese joernaal is nie, gaan ek nie fokus op die fynere besonderhede omtrent die siekte nie. Depressie is ‘n komplekse mediese toestand wat sielkundig en fisiek van aard is. Dit affekteer miljoene mense regoor die wêreld en vir sommige is dit ‘n lewenslange stryd teen die “swart hond” soos die staatsman, Sir Winston Churchill, na sy eie depressie verwys het.

In die Engelse literêre kanon is daar talle digters en skrywers wat openlik oor hul stryd teen depressie geskryf het. Dramaturge, romansiers en digters soos Sylvia Plath, Dylan Thomas, Emily Dickinson, Virginia Woolf, Anne Sexton, Tennessee Williams en Edgar Allan Poe is maar enkeles wat aan depressie of ander psigologiese siektes gely het. In Afrikaans het veral die digter Ingrid Jonker deels kultusstatus bereik weens haar stryd teen depressie wat bygedra het tot haar selfdood in 1965. Die programgedig in haar debuutbundel Ontvlugting (1956) lui soos volg:

ontvlugting

Ontvlugting

Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug

en dink my nou in Gordonsbaai terug:

 

Ek speel met paddavisse in ‘n stroom

en kerf swastikas in ‘n rooikransboom

 

Ek is die hond wat op die strande draf

en dom-allenig teen die aandwind blaf

 

Ek is die seevoël wat verhongerd daal

en dooie nagte opdis as ‘n maal

 

Die god wat jou geskep het uit die wind

sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

 

My lyk lê uitgespoel in wier en gras

op al die plekke waar ons eenmaal was.

 

Dit is ironies hoe Jonker haar eie dood in bogenoemde gedig ‘voorspel’. Haar komplekse lewensverhaal lees soos ‘n roman met ‘n tragiese slot. Talle Afrikaanse digters het gedurende hul lewe hul eie stryd met die ‘swart hond’ geveg en sommige deel steeds hul lewenspad met hul skadugenoot. Ek vind dit interessant dat talle kreatiewe individue aan depressie ly. (Lees gerus Marius Crous se artikel getiteld Wilhelm Knobel: ‘n Psigotiese siektebeeld in digterlike taal in Stilet. In laasgenoemde artikel ondersoek Crous die verband tussen kreatiwiteit en psigologiese siekte.)

Die digter, Ernst van Heerden, skryf soos volg in sy gedig “Die wroegende” uit sy bundel Amulet teen die vuur (1987):

Ernst van Heerden

Ernst van Heerden

 

Die marse van beskawings

word trekspore vir die ontuig

as jy planetaries terugkyk en sien:

die grein en graan van die lewe is net

waansin, kuipery, bedrog.

‘n onvoltooide gesukkel

om op die baksteen te fluit.

 

Panoramies

onder die wildernis van sterre

lê spikkels van onbewaakte littekens

ná eeue van verkenning in die doolhof.

 

Ek het laat-laat in onslaap verval

(soos ‘n slang wat eksegeses bedink

en skubbe van betrokkenheid afskei)

en wou deur ‘n saamgeperste sin

die bitter lewe tot ‘n blinkpunt buig.

 

En God? –

ononderbroke neurie sy sang in my ore

soos ‘n sonbesie in die doringboom,

maar ek bly huiwerig en bang

om in my eie spieël te kyk,

want hierdie swart en broei-stil lugte

wat die haelvlae kweek,

sê vir my en my wêreld:

onnosel, mank, erbarmlik, gedoem.

 

En my visvanger-hart

wat sy eie hongertes vertroetel,

sien die kuit in doellose kabbeling

ongebroed wegsypel.

 

Waarom bly ek besitter

van tuie sonder perde,

kaarte sonder reise,

wetenskap sonder wete,

want die addertand

het op die jagterstewel afgebreek,

terwyl ‘n nuttelose see roesterig knaag

óm ‘n aanlegsteier se paal en tros

 

Groot Stem

uit donkertes, uit stiltes, uit die ruim,

praat met my

sodat ek u ritseling in die biesiepol kan hoor,

u aromas in die tiemiebos kan ruik,

die sout van u blink bloed kan proe,

en met u klippies

se uitrimpelende rimpels

oor al die wêreldwaters dein…

 

Maar net die barmhartige reën

Val sag

tussen die swart rose.

 

Net soos talle depressielyers, het Ernst van Heerden sy eie uitdagings beide fisiek as geestelik in die gesig gestaar. Die poësie is ‘n skat van woorde wat talle kreatiewe geeste se gevoelens verwoord. Die kreatiewe skryfproses word ‘n spreekwoordelike uitlaatklep vir die hartseer en donkerte wat talle in hul harte dra. Die kreatiewe geeste onder ons voed ons geestelik en verwoord daardie gevoelens wat ons nie altyd kan verduidelik nie.

My hoop is dat daar lig in die donkerte sal wees. My hoop is dat meer mense simpatiek sal wees teenoor diegene wat aan depressie ly. My hoop is dat die “swart hond” ‘n vriend op die lewenspad eerder as ‘n doodskaduwee wat talle volg, sal wees.

 

Bibliografie

Crous, M. 2011. Wilhelm Knobel: ‘n Psigotiese siektebeeld in digterlike taal. Stilet 23(2): 145-156.

Jonker, I. 2016. Ingrid Jonker – Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Knobel, W. 2011. As die woorde begin droom. ‘n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Saamgestel deur Johann de Lange. Kaapstad: Bel Monte.

Van Heerden, E. 1987. Amulet teen die vuur. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •