isomorfiese trompe-l’oeil
ek skryf ander se gedigte op vensters:
deursigtige woorde
amperklanke wat vryelik
aanhou omgekeerd sweef
asof in water
ook (as ´n voorteken van reën en uitkruipende
visse wat tog weer vasteland verlaat)
sandhoospollock ek die ou en nuwe meesters
orals op kaste mure plafonne van
tuiste en begrip
ja, ek verf fonetiese baaiers
en klank dit:
mý; ba·lyn´wal´vis.
© Fransi Nieuwoudt / 2017