Gilbert Gibson in gesprek oor sy nuwe bundel, Die sin van die hut,
met Louis Esterhuizen.
LE: Gilbert, ten eerste wil ek jou van harte gelukwens met ʼn uiters indrukwekkende bundel. Dit was inderdaad vir my ʼn enorme leeservaring. Die sin van die hut is reeds jou sesde digbundel sedert jy in 2005 gedebuteer het met Boomplaats (Tafelberg), wat met die Protea Boekhuisprys vir poësie bekroon was. Daarna het jy nie net talle toekennings ontvang vir volgende bundels nie, maar jou gevestig as een van die min hermetiese digters in Afrikaans.
Tog wil ek ons gesprek met ʼn sywaartse stap begin. In Riana Scheepers en Leti Kleyn se Die Afrikaanse Skryfgids (2012: Penguin) het jy een van die belangrikste bydraes oor die digkuns gelewer met ʼn essay getiteld “Die gedig as Laingsburg”. Jy begin jou argument met die volgende stelling: “Die eerste en heel belangrikste element van digkuns is om koelbloedig en met voorbedagte rade ʼn aanslag te maak op die emosionele, op die tonus van die leser se gevoel.” (Die Afrikaanse Skryfgids, p.165)
Uiteraard verwag ek nie van jou om die hele relaas van jou essay hier te herhaal nie, maar ek beskou hierdie stelling as een van die mees akkurate taakstellings van die digter; sal jy daarom asseblief hierdie siening by wyse van aanloop tot ons gesprek kortliks in perspektief stel?
GG: ʼn Gedig is een van die maniere waarop teks onderskei tussen ʼn narratiewe mededeling en ʼn emosionele mededeling.
Gedigte is nie ʼn in-wêreld soos musiek nie, maar ʼn nie-in wêreld, ʼn fiksionele ruimte van en na buite. Die emosionele gevolg wat hierdie ‘nie-in’ ruimte in ʼn mens bewerk is afhanklik van die empatie wat ʼn mens met ander het. En daarin lê dan die leser se konstante beelding en hipotese-vorming oor daardie empatie, en die voortdurende ontwikkeling van die interaksies wat ʼn mens met ander mense rondom jou het.
Op daardie manier het gedigte nie eintlik ʼn storie nie, maar ʼn emosionele opwekking. Gedigte het natuurlik ook hulle gewone fonetiese en sintaktiese struktuur, hulle gewone semantiese betekenis, maar poësie besit ook ʼn semiotiek wat bietjie ʼn verwysing met die eksterne wêreld verloor in hierdie betoog dat dit meer gemik is daarop om emosie by die leser op te wek as wat ander teks noodwendig sou (wou) doen. Hierdie emosionaliteit van gedigte is nie afhanklik van die klassieke retoriese oordrag van feite nie (wat aan teks eintlik ʼn forensiese of gemaakte inhoud sou gee). Gedigte gaan hoofsaaklik om die emosionele mededeling, met of sonder ʼn narratief. Sodat jy (die leser) dan anders dink as wat jy intuïtief sou dink.
Die gedig moet jou herinner aan wat jy alreeds vergeet het. Dit moet jou herinner aan wat jy nog nie weet nie.
Die leser en die digter bereik onderskeie sukses in die lees en in die skryf van ʼn gedig in direkte verhouding met dit wat hulle met of in empatie deel.
LE: Dankie, Gilbert. Ek wens só dat ek jou kon vra presies hóé jy hierdie ontroering bewerkstellig, maar dit sou nou wees om iemand na sy fabrieksgeheime te vra … Nietemin, dit slaag, want in hierdie bundel van jou – soos in al jou voriges – is daar talle verse wat die leser nie net emosioneel ontroer nie, maar as sodanig onvergeetlik is.
Aan die hand van jou vorige publikasies het ons jou leer ken as ʼn digter waar hoegenaamd niks lukraak of ongemotiveerd gebruik word nie. Kom ons begin dus by die titel Die sin van die hut. As motto gebruik jy ʼn wonderlike aanhaling, geneem uit Gaston Bachelard se La Poétique de l’Espace (1957). In die Engelse vertaling van Maria Jolas: “The house./ From cellar to garret./ The significance of the hut.” Kan jy hierdie aanhaling – en daarvolgens ook die titel – vir ons kontekstualiseer ten opsigte van hierdie bundel? (Volgens bepaalde gedigte is die “hut”, oftewel “huis”, byvoorbeeld nie net ʼn plek van toevlug nie, maar ook slagveld. Is ek reg?)
GG: Bachelard se boek ondersoek die filosofiese ruimte in argitektuur (topoanalise). In sy werk is die as van (dig)kuns en die as van wetenskap simmetries en opponerend tot mekaar, en poog hy om hierdie uiteenlopende pole te versoen deur die een tot die ander te komplementeer – hy redeneer dat die “huis” sy kosmetiese effek verloor en dat spasie in en om die huis (die hut) ʼn baie kunsmatige verhouding koester met die inwoners van daardie huis. Die intieme ruimte van die “hut” word eintlik ʼn ander tipe ruimte, ʼn ruimte van krisis en afwyking en uitsluiting en illusie wat die huis in ʼn ander wêreld kontekstualiseer.
LE: Die omslag vind ek besonder interessant, in hoofsaak omrede dit basies ʼn tipografiese ontwerp is met die titel en outeursnaam in groot blokletters soos bakstene wat in ʼn muur gemessel is. En tog – agter die outeursnaam is ʼn swerm duiwe in ʼn tipiese sirkelvlug om ʼn geïmpliseerde huis se dak. Dié suggestie word verder versterk vanaf die eerste gedig, (tuin), se openingsreëls en verder na gedigte soos (bodrumpel) (p.16) en die aangrypende (geute) (p.57) – my gunsteling gedig in die bundel! Ter wille van die leser haal ek aan:
Uit die ooste kom die lig wat soos lig of
bloed deur die tuin spoel dat voëls opvlieg nes oorlewendes
na ’n ramp van onherstelbare verwoesting
***
Op die dak loop wolke hul valse toenadering
laat ons in koue sweet agter as hul voete
op die sink om teen die skuinste op na die nok hul
vlerke bonatuurlik grys te keep teen die lyf
waaronder heupe nes meerderwaardigheid
die middeljare verspil in liefdestories.
.
Op die dak loop wolke langs geute hulle
.
Ontstig jou oë blink sirkone ywerig en skoon
soos woorde wat in stilbly girts
as die dreigende voëls op die dak
die bodrumpel met amper raak beloon
***
As dit eendag genoeg Laingsburg reën
deur die drif van leë leivore tot
lopende water enkeldiep op paaie staan
veërs wat verstreep en versigtige
motors deur uitlaatgasse soos
roofvoëls voor wolke verby
.
As dit eendag genoeg Laingsburg reën
sal vol geute ons sypaadjies
gronddamme wat oor-
loop en welige spaansriet op die
banke en daaronder verspoel
sodat jy soos ’n duif pleit om hierdie
ark te verlaat
***
In al drie die aanhalings vind ons die duif (of voëls) as simbool van sowel oorlewing as bedreiging weens die verwysings na “ramp” en “verwoesting” (tuin), “dreigende voëls” (bodrumpel) en “roofvoëls” (geute). Ook dít hou verband met die teenstelling tussen die huis as ruimte van geborgenheid én slagveld.
Kan jy hierop uitbrei, asseblief?
GG: Soms is daar hierdie stil oomblik.
Soos. As jy terugry huis toe: jy hou stil in die motorhuis, die garagedeur gaan toe, jy sit nog steeds geëlektrifiseer in die bakkie, te uitgeput om te beweeg, en jy visualiseer hoe jy uitklim en opstap huis toe, in die voorkamer instap, ʼn rol vervul van iets wat die huis vul en daardie stil oomblik om jou kop voel soos ʼn orakel, op ʼn manier bekend maar ook onbekend – net soos ʼn droom wat ʼn mens net halfpad gedroom het.
Dit is in hierdie gaping waarin die voëls bokant die huis vlieg. Die gaping tussen die een lewe en die ander, die gaping tussen die een ruimte en die ander. In die stil oomblik.
LE: Nog ʼn gedig wat direk met die titel verband hou, is (skuiling) op p.31. Ek haal aan:
Ek sit nie my hart in jou hande nie
maar druk dit in jou bors waar dit soos
asemrige verligting elke sug in jou
slaak. Dan sal jy weet my hart bly
waar jy dit sal moet bewaar
in die skuiling wat drome in jou are
plaak. So klop ek in jou bloed. So
stuur jy my in die rigting van die hut
Hierdie vers, dog ook ander, laat die vermoede ontstaan dat die “hut”, oftewel “huis”, nie noodwendig ʼn fisiese entiteit is nie, maar ʼn abstrakte konstruk soos die taal, byvoorbeeld. Lees ek skeef, of kan die titel, Die sin van die hut, ook na die taal as huisvesting én slagveld verwys? Met ander woorde: die hut (gedig) as sin (taal)?
GG: Om hierdie rede is die hut vandag nie noodwendig die veilige toevlug nie, maar ʼn spasie van opponerende emosie: in hierdie faling van ons veilige ruimtes ondersoek ons die sin (betekenis) van die hut, asook die sin (sentence) van die hut.
LE: In aansluiting tot bogenoemde is dit ook so dat talle gedigte – die hele eerste groepering (pp.7-20), byvoorbeeld – na die “hut” oftewel “huis”, as iets liggaamliks verwys. Daarvolgens bevat hierdie versameling besonderse mooi, dog ongewone, liefdesverse; asof die maak van ʼn gedig terselfdertyd is soos om “liefde te maak”. Of oorlog te verklaar. Jou kommentaar?
GG: Liefde is so “isoleerbaar” deel van die sosiale en kulturele wêreld waarin jy leef. Dit is onmoontlik om dit te ignoreer as ʼn mens praat oor vertroue en empatie en gesin en kinders en respek en vertroue en geluk. Binne in al hierdie dinge lê daar die morele wêreld van liefde, wat dan per definisie vatbaar is vir jaloesie en naywer en blaam en wraak en woede en diesulke.
Dit is presies hoe oorlog ook is.
As jy jouself in die geveg van liefde of oorlog begewe, dan weet jy dat krag jou laaste toevlug gaan wees. En dat daar geen limiet is nie, net die limiet van hoeveel krag tot jou beskikking is.
Daardie twee (die liefde en die veldslag) is nader aan mekaar as ʼn road less travelled.
LE: Nog ʼn verwysing wat reeds met die openingsgedig, (tuin), geaktiveer en deurlopend as tematiese motief behou word, is die kwessie van stilte. Ek haal die slotreëls aan:
Uit die ooste kom die lig tot waar
.
Woorde soggens lig soos bloed op die bed
wegraak en hoe die geblaf buite sal bepaal
dat die donker net tot herinnering dreineer
.
En deur die huis tot stilte.
Buite. Die honde asemhaal
.
Wat is die belang van hierdie prominente (tematiese) teenwoordigheid van “stilte” te midde van taal en deklamasie?
GG: As ʼn mens ʼn geluid hoor en die geluid raak weg, word dit opgevolg deur ʼn ander geluid. Hierdie tweede geluid kan nie ʼn geluid van niks wees nie: dan is dit ʼn non-geluid. Tussen hierdie twee geluide is die oomblik van stilte. Wallace Stevens:
The house was quiet and the word was calm.
The reader became the book; and summer night
Was like the conscious being of the book.
The house was quiet and the world was calm.
The words were spoken as if there was no book,
Except that the reader leaned above the page,
Wanted to lean, wanted much most to be
The scholar to whom his book is true, to whom
The summer night is like a perfection of thought.
The house was quiet because it had to be.
The quiet was part of the meaning, part of the mind:
The access of perfection to the page.
And the world was calm. The truth in a calm world,
In which there is no other meaning, itself
Is calm, itself is summer and night, itself
Is the reader leaning late and reading there.
LE: Gilbert, waarskynlik is Die sin van die hut jou mees toeganklike bundel sedert Boomplaats; in hoofsaak weens die mindere gebruik van tipografie en punktuasie as elemente van betekenisverdigting. Twee tegnieke wat jy egter deurgaans gebruik, is die titels in hakies en die afwesigheid van punte aan die einde van die gedigte. Is daar ʼn spesifieke rede hiervoor?
GG: Daar is niks wat so doodstop soos ʼn trein wat ʼn vlieg tref nie. Daar is niks wat so doodstop soos ʼn koppie wat ʼn mens neersit in ʼn piering dat die teelepel rinkel nie. Daar is niks wat so doodstop soos ʼn deur wat klap nie. Niks wat so dodelik stop soos ʼn punt aan die einde van ʼn gedig nie. Soos ʼn hol kol op jou maag. Wat jou laat besef soms is dit goed om te stop. Andere kere nie.
LE: Wat ʼn treffende antwoord. Nietemin, nog ʼn treffende gedig in hierdie bundel is (lintel) op p.69 met sy direkte verwysing na Christus se kruisdood. Veral die slotreël vind ek besonders weens die dubbelsinnigheid daarvan. Ook in jou vorige publikasies was Bybelse verwysings ʼn sterk teenwoordigheid; dog selde op ʼn direkte, eenduidige wyse. Mag ek vra wat die belang hiervan vir jou is, verwysende na Cas Vos se ietwat kontroversiële bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017: Lux Verbi)? Bestaan daar vir jou, bv., iets soos ʼn “Christelike” gedig? Moet hierdie gedig as sulks beskou word?
Ter wille van die leser haal ek die betrokke gedig aan:
.
Ek’t met ’n passer
pleks van ’n spies
’n Gat in jou sy gesny
die naaste suur ’n
Droë nartjieskil ingeskuif
onder die bank.
Die klere wasgoedmandjie
met bloed van die skerp
En eendag Turyn ons
deurgeskeurde gordyn
Opgerol sodat dit
styf oor die lintel pas.
Voordat die slaap weer voordat
my hande in onskuld was
…
GG: Daar bestaan nie vir my iets soos ʼn Christelike gedig nie. Wat sou dit tog beteken? Sou dit bedoel dat daar sekere morele of moralistiese gewig in die gedig is? Of verwysings bevat van en na die Judaïese God of drie-eenheid? Sou dit beteken dat daar ʼn morele interpretasie volg op die gedig wat jou ʼn beter mens sou maak? Daar is sekerlik nie regtig onchristelike of christelike gedigte nie.
Daar is net gedigte en nie-gedigte.
LE: Gilbert, ten slotte kan ek jou net nogmaals gelukwens met ʼn uitsonderlike publikasie. Mag hierdie huis wat jy op so ʼn indrukwekkende wyse tot stand gebring het, toegang en skuiling bied aan alle liefhebbers van die digkuns.
Kan jy dalk, by wyse v groet, een van die gedigte hieronder plaas en dan sommer ook kortliks verduidelik waarom jy juis dié betrokke gedig kies?
(beddinglaag)
.
Bo my hond se voete riviere van lang treë voor sy
arms en skouers met kronkelende waardering
van gras die gras gepraat soos halms in die mond
wat my neiging tot drome ontruim met potloodbene
en praktiese wenke oor jakkalsjag die lyf behang
met ’n pels soos katoen die kraag wat soos twee
mane op nate oor die nek buig en daarbo die geboë oë
versier met stof waarin oplaas soos goggas kom lê.
Nou’s my hond dood ’n beddinglaag vorentoe in die donker.
Sy ore wat hang in swart as en okkerneut die
sagte skans van blaf met bitsige gal nog soet uit
sy mond en ek is lief vir hom terug
met my hart en alles wat in riviere van
lang treë met die sin van die hut
vorentoe vloed
.
(c) Gilbert Gibson (Uit: die sin van die hut, 2017: Human & Rousseau)
hierdie gedigte van hut en hond spoel soos terapie deur my en maak my rustig vir ‘n lekker nag rus kalm te my house quiet and my world calm…
tonight
dankie
Dankie vir hierdie onderhoud, Louis en Gilbert. Saam met Louise Viljoen se resensie begin ek nou die sin van die hut verstaan as een van die belangrikste bundels hierdie jaar.
Ekskuus, vergun my laaste piep. Die oorvereenvoudiging waavan ek praat kom nie noodwendig voor in die onderhoud hierbo nie. Maar dit is ‘n gevolgtrekking wat sommige lesers sou kon maak by die lees van die onderhoud. Vandaar my voetnoot, vir die afwesiges en die dooies wat hier lees.
Dis goed nadenke oor iets so ontglippend soos die digkuns in hierdie meta-terme (soos tussen GG en LE plaasvind). Dit stel my in staat om ‘n verdere voetnoot by my vorige opmerking te plaas.
Die onderhoud gee belangrike insae in hoe Gibson sy eie digkuns sien, maar om hierdie sienings op die digkuns – die veelkoppige Leviatan wat dit is – as geheel van toepassing te maak is myns insiens nie moontlik nie.
Emosionaliteit kan nie sonder meer geneem word as die “prime mover” van alle digkuns nie. Dat daar nie ‘n absolute skeidslyn tussen prosa en pohesie bestaan is ook al oortuigend aangetoon deur kenners van die letterkunde. Emosionaliteit is wel daar aan die wortel van die generering van digkuns betrokke, en in sommige gevalle sal dit plaas vind soos in Gibson se geval, in ander gevalle nie.
Ek wil vier voorbeelde (heeltemal lukraak geneem) noem: Die digkuns van Miroslav Holub; Kaar van Marlene van Niekerk; die kwasi-narratiewe gedigte gedigte van John Ashberry; en Mens.dier.ding van Alfred Schaffer. Dit behoort duidelik te wees in al vier hierdie uiteenlopende gevalle dat om emosie aan te wys as die prime mover van die gedigte se totstandkoming ‘n hopelose oorvereenvoudiging sal wees.
The plot thickens. And it was thick to start with.
‘n Baie enigmatiese interaksie.
Dit hoort waarskynlik in ‘n boek van onderhoude oor die onderwerp.
Sommige van die antwoorde, soos oor “die stil oomblik”, lees op sigself soos digkuns: Die “verduideliking” kan ook soms ‘n “gedig” ook wees. Dis dus moeilik om absolute “nate” tussen modusse van gedagte/ betragting/ te postuleer. Dalk is juis dit een van die “bewyse” van hoe “nodig” gedigte is.
Ek wil nou nie te liries raak nie, hoewel die onderhoud mens daartoe inspireer (soos ‘n lid van die gehoor wat die aria probeer sing): Maar, dalk is die gedig, enige gedig wat sy teikenmerk vind, een van die min heenkomelose plekke waar mens ‘n heenkome kan verbeel. Juis nie omdat die gedig ‘n heenkome IS nie, maar omdat dit simpatie met jou as leser het.