Breyten Breytenbach. “Mehr licht! Mehr licht!”
« MEHR LICHT ! MEHR LICHT ! »
en indien ek in sou slaap
in hierdie ruim en ligte vertrek
op die lakenbedekte rusbank voor die groot vensters
wat ‘n uitkyk bied op die wye strand
deur wind uit die berg daar bo
woordwit gevee
en die soom van branders
se onhoorbare vertel
van ‘n blou brandglas oseaan
waar die son bo sweef soos ‘n glinstering
tot aan die einder
tot aan die einder
sal jy wanneer die kamer gaan skemer
die lampe aan kom skakel
sodat die skulp van helderheid
deursigtig kan bly en tog
die tog nomadiese sterre oorhoofs
op reis na ‘n donker wegraak
mik mag rig
en al die eindeloosheid
van ‘n verspieëlde dag se gloeiing
soos huid anderkant die ruite bly flonker ?
en later in die nag wanneer ek
ontslaap het
nog oopoë slaap om my te verslaap
in die verskulpte lig se draaikolk diepgang
as die hemel weer verbleek tot as
maar nog skuins gedagbreek
van daardie uur waar grense tydloos is
en die droom
‘n roombleek vel ongeskrewe woorde
op die sand kom lê tot vervulling
in spore wat uit beweging
gebore verstom
en die getye moot om alle vergeet
weer vol te stoot
en die matroosbeendere tot klank te maal
sal jy die ligte dan kom doof
sodat die grootvertrek nie
‘n bespotting getrek oor die betekening
van die buite kan word op die bewe-beweging van binne nie
sodat die oorgang
soomloos mag ontvou en vloei
tot aan die einder ?
tot aan die einder ?
[© Breyten Breytenbach / 2018]
Viva Breyten, viva in woordwit
helderheid!
Kan ons Goethe se opmerking “Mehr Licht!” saamlees met hierdie vers(e)?