Pieter Fourie gesels met René Bohnen
oor sy nuwe digbundel Bidsnoer.
Pieter, baie geluk met Bidsnoer wat volg kort op die hakke van die suksesvolle Knapsekêrels. Louis Esterhuizen het met laasgenoemde se verskyning ʼn goeie onderhoud met jou gevoer (https://versindaba.co.za/2017/05/17/onderhoud-met-pieter-fourie-knapsekerels/ ) waarop ek gaan probeer voortbou.
ʼn Bidsnoer is duidelik van ʼn ander kategorie en atmosfeer as ʼn knapsekêrel. Hoe verskil die twee bundels van mekaar?

Albei loop in eie reg “so wyd as die heer se genade.” Die een besweer sonde , die ander soek sonde! Tog probeer hulle om mekaar te vind in “snoer”, die laaste afdeling in bidsnoer.
Ek lees onlangs van ʼn “nuwe” genre in Engeland en het dadelik gewonder of hierdie benaming ook akkuraat sou wees vir jóú poësie. Ek verwys na die sogenaamde “Folk Realism”. Kom ons noem dit voorlopig Volksrealisme. Hierin vind ons nie onnadenkende nostalgie nie, alhoewel die platteland, volksverhale en –idiome sterk figureer. Sonder om oor te gaan in magiese realisme, kom bonatuurlike elemente voor en word donkerder ondertone soms gesuggereer (maar die werk word nie goties nie). Ek dink byvoorbeeld aan die gedig “kluister” op bladsy 43 wat aangrypend omgaan met onreg en lyding.
kluister
snags hoes
ou dries lokasie
sy longe los
die kanker
kluister hom aan katel
steeks
wil hom nie verlos
hy’t as jonkman al
sy binneknip gekry
vandag
nie ’n daalder
’n sikspens
’n tiekie
se pensjin-pay
oorleef net-net
’n leeftydpyn
sy moordenaar
die uitgewerkte karkas
van ’n asbesmyn
Die kontemporêre skuur dus skouers met die ou landelike asook met die universele. In jou gedigte vind ons die toktokkie, die skoolinkpot, die miskoekrak en die lear jet gemaklik langs mekaar. Daar is ook aanduidings van geheimenisse.
kluister
snags hoes
ou dries lokasie
sy longe los
die kanker
kluister hom aan katel
steeks
wil hom nie verlos
hy’t as jonkman al
sy binneknip gekry
vandag
nie ’n daalder
’n sikspens
’n tiekie
se pensjin-pay
oorleef net-net
’n leeftydpyn
sy moordenaar
die uitgewerkte karkas
van ’n asbesmyn
.
misterie
(vir boerneef)
sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot
Saal hierdie leser ʼn wilde perd op, of wat is jou reaksie op die stelling dat jou werk die liminale ruimte van Folk Realism bewoon?
Nee, beslis nie. Jy is stewig in die saal. Van wyk Louw se “gemoedelike, lokale, realisme” was goed bedoel en binne konteks van die aktualiteit in sy tydsgewrig. Vir my egter, nog altyd ʼn soort van doring in die vlees. Iewers, êrens skuil daar vir my ʼn hoflike hovaardigheid. Met die weglating van “gemoedelike” vermy sy maklike, byna ikoniese, uitspraak ʼn gesoekte (maar tog welverdiende) skoppie onder die stert! Volksrealisme is vir my ʼn raakvatter. Hoed-af vir die Ingelse met hul “folk realism”.
Ek het al dikwels gewonder hoeveel ontluikende woordskoffelaars deur Van wyk Louw met sy sonderesep tot ʼn selfstilgeboorte gedoem is. (My faan se trein het vyf jaar vreesbevange in ʼn laai weggekruip voor hy die verhoog aangedurf het).
Jou bevinding “hierin vind ons nie onnadenkende nostalgie nie” asook jou raaksien van “aanduidings van geheimenisse” in Misterie (vir boerneef) is verblydend, en sal die leser help om ook bv.die volgende verse binne hul eie ruimte te lees.
toktokkie
6
skalks tussen dy en dy gekeel
skulp dit skuilend oopgewond
waar soms tong en penis speel
misterieus die skeppingsmond
wintervoetjies
die koue kruip
deur meiringspoort
seil klaarstroom verby
die swart kro in
die klogoed loop
bloeskoptoon
die kat die kwiep
ʼn druppel doutraan
verkluim verys
ʼn wit albaster hang
in huilboerboon
Ek wil stilstaan by die afdeling met die titel “Gehuggie”, wat ek in besonder geniet het. Jy dra dit op aan Dylan Thomas en my onmiddellike assosiasie was met Under Milkwood. In “Gehuggie” vind ons ook ʼn alomteenwoordige verteller en ʼn dorpie vol eiesoortige karakters met verhale en begeertes. Herkenbaar en treffend verrys die narratief voor die leser – ʼn absolute kragtoer, wat myns insiens ʼn artikel op sigself verdien. Vertel asseblief meer oor hierdie vers deur ʼn dramaturg-digter opgedra aan ʼn digter-dramaturg. (Ek haal slegs ʼn gedeelte aan, jy is welkom om self ook ʼn stuk by te voeg.)
die oujongkêrels lees
voor slapenstyd
uit salomo ’n gunstelingvers
daarna in lanbou-weekblad
by die opsitkers
*
huil hannie skil
haar uie onderwater af
spaar trane
vir aandoening
by maagdetroues
en ’n ope graf
*
petra nommerasseblief
ongemaklik met middagskof
een tot nege
in pikgit donkerte
vingeralleen huis toe stap
is vir ’n meisie
net nooit ’n grap
tog
die aandklok bring
’n soort vertroosting
die polisiepatrollie
dalkies ’n verloofring
*
die oudstryders
bly bittereinders
gooi vanaf stoepskaduwees
’n langoog vir vars weduwees
*
ou stilhans die praat nou
al vir vyftig jaar nie meer
nie eers een oudstryder weet
wat het
by magersfontein gebeur
Gehuggie is my stukkie fanmail aan ʼn mentor wat dit ongelukkig nooit sal ontvang nie. Dit bly ʼn briefie in ʼn bottel, dobberend in plaasdamme en vleilande. Mentor? Ja, om veral twee redes.
(1) Hy kon die kwantumsprong van digter na dramaturg benydenswaardig bemeester.
(2) Hy kon in sy verse gemoedelike lokale realisme ʼn statuur en staanplek gee in die magtige Engelse literatuur.
Dit was my aansporing om Dylan Thomas se proses in trurat aan te durf. En ja, onbeskaamd in die dampkring van sy Under Milkwood.
slotskerf
windlaaiers laai
nie na eie wil
hul skroeflemme
staan nou stil
drie listers dril en dreun-
laatnag nog almal op die been
in landbousaaltjie
gaan dit satragaande
alte jollie
petra nommerasseblief
stap eenuur huis toe
sonder verloofring
of poliesman op patrollie
die dorpsmelkbaardjieklonkers
raak kuif- en skoenepronkers
die meisietjies begin wakker te leef
as chiffonrokkies oor dansbaan sweef
twee clydesdales
in hul stal
raak kort-kort
aan die runnik
agt nagwadonkies
laat skal
langsaam lui
hul uitgerekte grinnik
die donkerte slaan
soos weerlig toe
drie listers gee ʼn laaste grom:
dolleeg
die veertig-gallon-dieseldrom!
ʼn hanslam blêr
souerig
in stofstraat vir
melkweg en morester
Pieter, die bundel bevat pragtige, aards-sensuele liefdesverse en ook heerlike stukkies humor. Hiermee sluit jy by Boerneef aan, dink ek. Sekere verse herinner ook aan “Klipwerk” deur N.P. van Wyk Louw. As selferkende woordversamelaar moet dit jou groot genot verskaf om te speel met skalkse betekenisse wat jy in kriptiese verse kan gebruik. Vertel ons asseblief meer oor die speelse erns.
Die aansluiting by en bevrugting deur Boerneef en N.P. van Wyk Louw se Klipwerk is legio. Die aards-sensuele liefdesverse, die humor en die skunnighede was so in my kraal! “Die skalkse betekenisse en speelse erns” het nog altyd in die oorskulp knus hul nessie geskrop. Deelname aan hierdie oeroue spel is onderliggend ʼn bobaasbroertjie vir die breë familie van die taal. Ek deel graag ʼn paar van my persoonlike lekkernye met die leser.
aits-aits
op kalahariduin
klop-klop toktokkie
sy vrousoeksein
kamtig skaam
ses voetjies
kom sy suutjies
witlewer aan
.
gehuggie
die rooi potyster-tiekieboks
gitdonker sonder straatlig
kan tweeman staande vat
klankdigte deurtjie doen sy plig
sonder ʼn getjommel
boe of ba
begin ronde trommel
trillend skommel
.
rittelryme
7
sien jy groen
of is dit rooi
maak op jou maaind
ons is klaar innie kooi
8
aits, jou losloopding
met die tien-ton-tessie
kom leer vir my
jou brakslootlessie
.
askoek
hy trap die askoek
pannekoekplat
stof opgeklits
als help niks
gee vannag steeks merrie
tjanklekker op haar herrie
.
korrelknape
2
wit kristal
speel
speels
op prieel
blinkbal
7
voetslaan of baiesukkel
satrag kom ek kuier
jy’s my main konyn
in dop en sawens gatwikkel
.
gehuggie
tot middernag
is daar nog lewe
in die kroeg
by weduwee se venster
koekeloer gedoriewaar
ou daantjie tril
dapper
fluks munisipale bul
Jou drama faan se trein het ʼn onuitwisbare indruk gemaak op my as jong student, dus het ek kiertsregop gesit toe ek die naam “Faan” raaklees op bladsy 62, in die gedig “dammakers”. Simpelfaan as oer-onskuldige, die naïewe pelgrim op reis deur die lewe, speel ʼn belangrike rol in jou oeuvre as dramaturg. Integreer jy argetipes instinktief in jou digkuns ook en tot watter argetipe vind jy jouself die meeste aangetrokke? Is daar ʼn argetipe wat telkens vanself opdoem in jou werk?
Ek dink die argetipes integreer hulself – soos in my dramas – ook in my digkuns. Veral drie: die “oer-onskuldige”, die lewe as ʼn onstuitbare inisiasieproses en die weerlose, verontagsaamde geknelter in onreg.
Dankie vir jou antwoorde, Pieter. Nogmaals hartlik geluk aan jou en aan Naledi met nog ʼn sterk publikasie. Lesers behoort uit te sien na hierdie bundel – dit is suiwer leesgenot wat tot nadenke stem lank nadat die kort stelwyse diep en raak getref het. Wil jy vir ons ʼn gedig hier plaas wat vir jou besondere waarde het?
uil
in ʼn grondgleufie ontkiem
tussen sandsteenblokke
van die parthenon
of uniegebou
ʼn spriet, beur intiem
minerwa
bot in son
op ‘n groen bladsteel
goudgeel ‘n botterblom
sy sal haar
ewig verskuil
wysheid in die
oog van ‘n uil