Nuwe publikasie: Donkerwerk (Nini Bennett)

Omslag
Donkerwerk
Nini Bennett
In Donkerwerk word daar gefokus op die dialektiese interafhanklik-heid van alle dinge. Daar word besin oor die nietigheid van die mens teenoor die mistieke grootsheid van die heelal, maar ook op die verhouding tussen die mens en die natuur.
Tematies handel die verse oor kinderloosheid, verganklikheid, die liefde, familie, geskiedenis, musiek en oorlog. Bekendes soos Dracula, Paul Celan en Stephen Hawking word aan die hand van portretstudies verbeeld, terwyl sosiale en persoonlike onrus die spilpunt van sommige verse vorm.
Oor die outeur: Nini Bennett behaal haar MA-graad in Skeppende Skryfkuns met lof aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden. In 2002 debuteer sy met ’n bundel kortverhale Stoornis, wat in 2003 bekroon word met die UJ-debuutprys. In 2008 wen sy die internasionale Room to Read-prys in die kategorie Afrikaans, en die jeugverhaal, Die storie van Vusi se orkes, sien die lig in elf amptelike landstale. Haar debuutdigbundel, Kodeks verskyn in 2011 en Boekstaaf in 2015. Sy woon in Kaapstad. Donkerwerk is haar derde digbundel.(Naledi, 2019. Prys: R220, 213mm x 137mm ; ISBN: 978-1-928426-60-8, sagteband)
Genus
Ons is die geveerde begeerte
van swaartekrag; swerfklip
se sleur in valleie
van verlatenheid. Ons leef,
die stamlyn van sterre
weinig meer
as organismes wat in die kelders
van ou vulkane voed. Ons dring
dieper as die oseaan se mantels
deur die sonlig- en skemer-
en digter as die middernagstreke vóór
die abissale vlaktes
die donkerwerk
van Hades binnegaan. Ons is
stofnaam; weinig meer.
(Uit: Donkerwerk, deur Nini Bennett. Naledi, 2019)
Nini Bennett, baie geluk met jou aantreklike nuwe publikasie! Die enkele uittreksels wat jou ongeduldige lesers beskore was, het my net nog meer laat uitsien na die amptelike verskyning. As ek weer in Suid-Afrika kom, word dit my heel eerste aankoop!
Baie dankie, Alice!