Paul Klee. Van 'n dorpstoneel met skemering
ʼn Kruip-insek besin oor perspektief
Ek stryk die wêreld weer plat
soos ʼn folio,
soos dit eens was.
Daarna mos deur die nuut
gearriveerde mense-
oog uitgevou tot
driedimensionele
blom,
piramides,
of huise-en-dorpskom
met voor- middel- én agtergrond,
en tot wyk,
tot die kaarteskommeling
van ʼn stadstafereel
met sy hutjies. Sulke opstaan-
papierkwakkies. Wel,
ék stryk dié aarde
weer plat. Na hoe dit was.
Met my goggablik.
Insek is ek en ek
kruip rond in die mensmuseum.
My kyk skeer oor ʼn toneel wat daar hang
gebaai in skemering;
verf op bord.
Deur ene Paul Klee.
Hy wat die dimensies kon inkatrol
tot streep, punt en kol.
Ek klou en gly, op en af, dwars en terug,
ʼn kakkerklak
op my enkele vlak
oor vloer, muur, plafon en dak.
My kunstenaars- oeroog prik
die gek ballon van perspektief
tot slegs getekende stringe daarvan oorbly.
Jou, mens,
se diepkykende konsertinasien
word danksy my gestroop
– van sy vakkies wat kan rek en krimp –
tot ingedrukte blik.
En ek Klee- Klee- klééf
oor vloer, muur en dak
sonder einde
aan vlak ná vlak ná vlak.
© Charl-Pierre Naudé / 2019
Dankie, Daniel. 🙂
Mooi, Charl-Pierre! Ek hou veral van die Opperman-eggo.