RIVIERPAMPOEN
Gunnera perpensa
Die rivierpampoen se lappe blare
floreer op plekke waar dit modderig,
verafgeleë en onbegaanbaar is.
Met voete in die drasserige vlei
skuifel die tydelose grysgroen plaat
miljoene jare lank die skuinste af.
Dié krui skep sy eie metafore,
speek sy groot, gelobte sambrele oop
en hang ’n skaduwee aan die middag.
Enter the dinosaurs! Die plasenta
van dier en mens is hier gevoed en verlos
om lewe te baar en te verseker.
Die taai, hardnekkige rivierpampoen
weer hom met sy ruie gebladerte,
behaarde nerf en krullende slingels.
Uit die oerbos kom genesing en troos
vir veldsere en ek brou wortelbier
sodat ek snags aan die sterre kan raak.
©Johann Lodewyk Marais / 2019
Dankie, Waldemar. Dit is ‘n bladsy uit my “Veldboek”.
Hierdie vers is moetie in ‘n kweltyd. Mag jou vleiland lank behou bly, Johann Lodewyk Marais.
Mooi gedig, Johann. Ek hou van die voortkruipende klank in: skuifel / skuinste / krui / ruie. En daardie lieflike slot!
Dankie, Daniel. Dit is ‘n riem onder my groen hart.