Kryt deur Hennie Nortjé. Queillerie, 2019.
Resensent: Gisela Ullyatt.
Nog nooit vantevore was die dinamika tussen mens en natuur in so ’n brose toestand soos in die laaste paar jaar nie. Nooit tevore het ons iemand so jonk en vreesloos hoor gal braak teenoor politici soos die sestienjarige Greta Thunberg nie. Nooit was klimaatsverandering en globale verwarming so ’n benouende realiteit nie. Die Amazone-woud brand weg: Danté se hel is nie meer in die hiernamaals nie, maar in die hier en nou.
Ekodigters het in die laaste paar dekades as ernstige aktiviste begin ontluik en alhoewel die die imago-stadium van dié tipe digkuns dalk nog nie heeltemal aangebreek het nie, is dit lankal verby die papie-stadium. Hierdie digters se poging om die versteurde simbiose tussen die menslike en nie-menslike ander (“other”) te beredder deur onder andere die mens se antroposentrisme te belig, word al hoe meer pertinent.
Kyk ’n mens na die Westerse poësiekanon, besin byvoorbeeld die Engelse Romantiese digters reeds oor die splitsing van natuur en stedelike ruimtes deur die oë van panteïsme (d.w.s., God ís die Natuur en nie te vinde in ’n tradisionele ingeperkte mensgemaakte ruimte nie). Hoewel die impak van indertydse industrialisasie nie werklik verreken word deur digters soos Wordsworth, Keats, Shelley en hul tydgenote nie, is daar tog ’n duidelike boodskap in hulle gedigte: die natuur het ’n grootsheid wat geen mens kan skep nie. Oordrewe emosie en sentimentaliteit bepaal die toonaard van die Romantiese poësie (“Age of Emotion”), teenoor die meer logosentriese stemming van die agtiende-eeuse Augustynse digkuns (“Age of Reason”).
Ironies genoeg steun die hedendaagse ekopoësie weer meer op die logosentrisme van die hard sciences; soms ter verwaarlosing van die liriese sy van poësie.
Selfs Transendentaliste soos Thoreau en Emerson se werk word as effens naïef geag deur ekokritici, in ag genome die kataklismiese natuurrampe wat kontemporêre digters van bewus is. Verder het die anti-Romantiese digters van die vroeë twintigste eeu help bydra om veral die linguistiese aspek van hierdie tipe emosionaliteit aan die hare te gryp en nekom te draai: Robert Frost, Wallace Stevens en William Carlos Williams en andere, bring die era van Modernisme te berde.
’n Presiese definisie van ekopoësie bestaan egter nie, omdat daar soveel onderstrominge in die rivier van ekologie saamvloei. Elke stroming het ’n bepaalde tematiek en akademiese geruis wat soms indruis teen die ander vloeiings. ’n Noemenswaardige definisie daarvan is deur die eko-akademikus J.Scott Bryson: “Ecopoetry is a subset of nature poetry that, while adhering to certain conventions of romanticism, also advances beyond the tradition and takes on the distinctly contemporary problems and issues, thus resulting in a version of nature poetry” (2002:7).
Omdat Afrikaans ’n jong taal is, het dit uiteraard nie dieselfde literêre eras as die Europese tradisies nie. Die natuur speel egter ’n belangrike rol in die Afrikaanse digkuns van meet af aan. Die rol van ekopoësie word al hoe meer beduidend in ons taal.
’n Digter soos T.T. Cloete het ’n magdom verse wat indringende ekologiese vrae opper; Martjie Bosman se digkuns is van meet af nie net natuur-gerig nie, maar ook krities teenoor die mens se vernietigende impak op die planeet; Dolf van Niekerk se bundel Bleek planeet (2013) is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ekologiese kwessies krities, in Afrikaans, oor gedig kan word.
Ook Susan Smith se bydrae as digter – veral in haar tweede bundel, die aarde is ’n eierblou ark (2016)-, kan nie geringgeskat word nie. Dit is veral as akademikus wat sy haar stem as ’n ekokritiese denker laat hoor.
Twee ander digters wat nie weggelaat mag word binne die Afrikaanse ekopoësie nie, is Wilma Stockenström en Elisabeth Eybers, alhoewel beide nie streng gesproke as ekodigters beskou kan word nie; daarvoor is hulle oeuvres te geskakeerd. Eersgenoemde se 1994-bundel, Aan die Kaap geskryf, is ’n voorbeeld van hoe ’n digter met ekologiese kwessies kan omgaan sonder dat hulle die gedigte verswelg in ekopolitiese haarklowery; die verse is tydloos. Eybers se gedig, “ekologie” (1994) is miskien een van die mees verhelderende gedigte oor die ekokritiek wat nóg in Afrikaans geskryf is:
Wie die prullemand volprop van dag tot dag
vra hom nie af hoeveel bome verteer
sy vreemde, papiervernielende vak
wat vir driekwart bestaan uit magteloos wag
en die ongerymdste gewrogte kreëer.
In feite verdien hy om skuiling van tak
en geritsel van blare wreed te ontbeer
want die handjie vol humus wat hy sal verstrek
na sy heengaan kan nimmer sy skuldlas dek …
Dog die aarde, terwyl hy haar lof sing, gedoog
die digter sowel as die ekoloog.
Dis egter digters soos Lucas Malan en Johann Lodewyk Marais wat bewese ekologiese digters is. Laasgenoemde digter verruim die Afrikaanse ekologiese arena deur twee belangrike bundels saam te stel: Groen: gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997), waarvan die mede-samesteller Ad Zuiderent is.
’n Digter wat in hierdie tradisie staan, is Hennie Nortjé, wie se debuut, In die skadu van soveel bome (2012) bekroon is met beide die Ingrid Jonker- en die Eugène Maraisprys in 2013. Taamlik vernuwend aan hierdie debuut was die idee dat, behalwe miskien vir ’n handjievol gedigte, die hele bundel tematies aan verskeie boomsoorte verbind is wat die bundel tot ’n sonderlinge eenheid heg. Johann Lodewyk Marais het egter reeds in 2002 met Aves ‘n eenheidsbundel oor voëlsoorte geskryf.
In sy tweede bundel, Kryt, sit die digter die idee van ’n eenheidsbundel voort, alhoewel die tematiek nou sytakke van argeologie, geologie, petrologie, natuurgeskiedenis en politiek voortspruit. Die uitgewersbrief aan resensente verskaf verskeie betekenismoontlikhede tot die titel:
[…] kom die bokskryt van die menslike kondisie aan bod […] Kryt bewoord die uitwissing van eras (soos die Kryt-tydperk): die impak van katastrofes op die heelal; die uitlewering van die mens aan bedreigings (onder meer die aanslag van bordkryt en die uitkrytery tussen bevolkingsgroepe); die verbystering oor die skoonheid en wonders van die natuur; die drang van die klein skepper om in die kryt te tree teen Tyd se sloping deur middel van kunsskepping.
Dit is interessant hoe die voorplat enige vooropgestelde verwagtinge ten opsigte van die titel verbreek: Volgens die HAT is “kryt” immers ’n “kalkagtige delfstof” of “’n gipsstafie wat gebruik word om op ’n skoolbord te skryf”. Die voorplatkuns dwing egter die leser om nuut oor so ’n aanname te besin; op die voorgrond pryk ’n voorwerp wat blyk die skerpkant van ’n prehistoriese handbyltjie te wees, omgewe deur brokke rots of klip.
Dié skerp voorwerp is egter swart en nie kalkagtig nie. Vir die leser met ’n geologiese agtergrond behoort hierdie paradoks egter geen probleem te wees nie: die swart kleur wys op vuursteen (flintstone). Die amandelvorm van die klip laat ’n mens wonder of dit nie ook ’n primitiewe vuursteenmes kan wees nie. Verder sal die geologies-ingeligte leser ook weet dat vuursteen as nodules in sedimentêre rotse soos kalk of kryt gevorm word. Dit is egter ’n groot sprong vir die leser aan wie hierdie inligting nié bekend is nie en nie juis lus het om geologiese en argeologiese feite op Google te gaan uitgrawe nie.
Die politieke onderstroming van die bundel, naamlik swart versus wit, maar ook die noue verbondenheid van die twee in Suid-Afrika, word dan ook duideliker aan die leser, wanneer hierdie sentrale beeld van die vuurklip uiteindelik uit die bundel se klip verlos word.
Reeds op bladsy 15 ondersteun “Uit die amandelklip” die vuursteenwerktuig op die voorplat deur die vorm na te boots, alhoewel dié gedig die omgekeerde beeld bevat. Die woordkeuse wat die digter hier aanstip is nie om dowe neute nie; dit veronderstel ’n gewelddadige en ’n aggressiewe toonaard: “geslaat”, “spits gehamer”; “vleislus”; “deur seekoeivleis te slag”; “geswoeg”; “weggooisplinter”; “skerpste byl”; “skiet uit soos ’n boog”; “boor met skrefiesoë / vars wonde”. Die menslike psige se skadukant word hier oopgekap en verken. Toe Adam en Eva uit die paradys verban is, is daar aan hulle gesê dat hulle hul brood sou moes begin verdien “deur die sweet van jou aangesig”; dalk is “geswoeg” in die gedig ’n aanduiding hiervan.
In “Gaia” (16) roep die digter ’n Raka-agtige beeld op:
Ná die berge hul lê
met geweld hier kom kry het,
speel harige hande
lomp met brokke –
sit ’n oomblik grootoog
langs die skielike vonke
voor dit vlytig in die flikker
klip tot in die kern splyt […]
In “Afrikaanse Taalmonument: Paarlberg” (29) word die idee van ’n byl of wapen verironiseer tot “’n melktandsprietjie” in die “oeroue granietgebit” en aktiveer só die Afrikaanse taaldebat se bokskryt. “Wildeamandel” (22) beklemtoon die giftige skeiding tussen die Khoi en Europeërs deur ’n wildeamandel-laning in Kirstenbosch wat ook as ’n “bitter” simbool van die oorspronklike taalsplyting en mense-skeiding dien:
[…] Hierdie giftige pitte,
met ’n Khoi se geduld geweek,
maak voorstebos boeretroos,
staan swart op wit
vir wie die bitter
op die gedenkplaat
raak wil lees.
Die bundel word in vyf afdelings verdeel: “Kryt 1” tot “Kryt 5”; elk het ’n kort programgedig. “Kryt 1” skets ’n prentjie van prehistoriese geweld deur die amandelklip-leitmotief.
“Kryt 2” karteer die Suid-Afrikaanse konteks: een van ou politieke struwelinge; Robbeneiland (“Klipwerkers”:23) en die hedendaagse realiteit van die have and have nots, geweld, moord, roof en kaping. “Mooiberge” (26) is myns insiens nié net die sterkste gedig in hierdie afdeling nie, maar ook een van die kragtigstes in die bundel. Die prehistoriese mens se geweld is dus steeds aanwesig in moderne homo sapiens; die skending van menseregte deur die verryking van sekere individue word duidelik hier aangevoer.
“Kryt 3” verweef die leitmotief van vlug en die element van lug met vliegrampe soos die Helderberg en die neerstort teen Duiwelspiek van drie Hawker Siddeleys 125’e (genoem Mercurius-straler deur die Suid-Afrikaanse lugmag): ’n tragiese oefenlopie op 26 Mei 1971 wat vir daardie jaar se Republiekdag bedoel was. Die programgedig van hierdie afdeling (31) laat ’n opening vir ’n hele paar betekenismoontlikhede, een hiervan die Afrikaner wat soos ’n feniks verrys het ná die Anglo-Boereoorlog en veral na 1948. Die nadraai hiervan is implisiet in die woorde “Herverrys”, “vlug betyds” en “gefossileer”:
Archaeopteryx, mislukte feniks,
reptielbeendere vol versteende vere.
’n Les deur Tyd geleer:
Herverrys, vlug betyds,
of raak volmaak
gefossileer.
“Kryt 4” se programgedig lui die tema in van die (wit) eksodus na Kanada:
Tussen bevrore esdoringkruine
fladder nou die hibriede van sneeu-
en gevlekte Kaapse ooruile.
In plankhuise voor gaskaggels
word meestal oor die weer gepraat […]
Hierdie afdeling is ’n hibried: daar is onder meer gedigte met mediese terme as objektief-korrelatief waarvan die politiek implisiet is, mitologiese seereise, ’n “Prehistoriese graf met opgekrulde geraamte” (54) en ’n satiriese “Kersvers” (59) waarmee laasgenoemde meeste lesers sal kan identifiseer. Alhoewel die verse oor mitologiese reise wel tematies inpas by die idee van “oorsee” en die dienooreenkomstige waterelement, voel hulle effens uit plek en sou hulle dalk eerder in ’n volgende bundel kon pas met meer soortgelyke tematiek of in ’n afdeling in hierdie bundel waar die mitologiese tema meer deurgekomponeer kon word.
Myns insiens het die gedig wat as beide program- en slotgedig (61) vir “Kryt 5” dien, nie die oemf waarop die bundel sou kon eindig nie, maar “Die blink strate van Lissabon” (55), ’n ars poetica, miskien wel.
Kryt berus op meer voorkennis van sekere onderwerpe en vakgebiede as In die skadu van soveel bome wat vir die leser ’n paadjie gebaan het deur ’n lys van terme agterin te bied. Tog is daar genoeg gedigte in Kryt wat gelees kan word sonder om heeltyd op Google of ander naslaanbronne te steun.
Met Kryt bewys Nortjé weer eens sy ambag as ’n digter soos gesien in sy debuut. Die verse is deurgekomponeer en gloei soos argeologiese vondse in ’n wrang-ironiese toonaard wat Nortjé se métier is. Hierdie bundel kloof ’n pad oop vir verdere ekologiese oordenking en bied verruiming van die Afrikaanse ekopoësie.
Bronnelys
Bryson, J.S. ed. 2007. Ecopoetry. A Critical Introduction. Salt Lake City: Universiteit van Utah.