Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde. 2019. Saamgestel deur Charl-Pierre Naudé. Human & Rousseau. 192 pp. ISBN: 978-0-7981-7876-1.
Resensent: Amanda Marais
In Breyten Breytenbach se tagtigste lewensjaar verskyn die versamelbundel Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde, waarin die liefdesgedigte van hierdie ikoon in die Afrikaanse letterkunde opgeneem word. Lesers wat Breytenbach se werk ken, sal hierdie bundel dus ervaar as ’n heerlike samekoms van soveel bekende en geliefde gedigte – waarvan “soos van vlerke” (p.94) uit Lotus (1970) (en natuurlik die inspirasie vir die bundeltitel) maar een is.
Dat dit nie ’n eenvoudige taak kon wees om as samesteller van hierdie bundel op te tree nie, is voor die hand liggend. Hoe kies ’n mens uit die rykheid van Breytenbach se omvangryke oeuvre, sonder om die leser te vermoei met ’n té omvangryke publikasie, maar sonder om die digter se lang en verwikkelde digtersloopbaan te reduseer of te verskraal?
Charl-Pierre Naudé, die samesteller, vertel in die flapteks dat hy die gedigte chronologies gerangskik het volgens die digter se lewensloop, en prakties vind dit gestalte in ses afdelings: “Die hongerblou gety”, “Wyn in die bloeisels”, “Hart uit die doek”, “Die koue van dousterre”, “Donker beminde” en “Onbegonne tuiskoms”. Dit slaag dan ook as ordeningsbeginsel, en neem die leser op die reis deur die seisoene van die digter se lewe en liefdesbelewenis.
Naudé maak egter die belangrike opmerking dat hierdie bundel (wat opgedra is “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”) nie bloot liefdesgedigte aan ’n persoonlike beminde is nie – dit is in werklikheid Breytenbach se “openbare liefdesverklaring aan die mensdom wat geteken staan as ‘n vrou”. Hierdie aspek kom duideliker in die latere afdelings na vore.
“Die hongerblou gety” bevat gedigte uit die digter se jeug, soos aanvanklik opgeneem in Die ysterkoei moet sweet en Die huis van die dowe, en reeds hier word die leser herinner aan die temas wat regdeur Breytenbach se oeuvre strek – die beminde wat aangespreek word en al slapende oor gewaak word deur die spreker; die twee se staptogte en ander verkennings asook samesyn in hulle intieme ruimte, soos in die immer bekoorlike “herfsaand” (p.16):
om halfsewe, na kantoorure,
lei ek my vrou huis toe aan die hand al
met die oewers van die Seine langs, oor
versteende bleek brûe met die donker wind in ons hare
ons klere, oor die rivier en die klappertand bome
[…]
(ek is verslaaf aan my klein vrou)
ek sal uit haar tong drink, ons sal soos klipsalmanders
op die kooi klouter
van die vensterbank tot op die eerste blink nok
en dan die maan
In hierdie afdeling is die liefdesgedigte dan ook die naaste aan die tradisionele liefdesvers, waarin romantiese liefde domineer en ’n persoonlike geliefde aangespreek of besing word. Vir Breytenbach lê die liefde en kreatiwiteit dig bymekaar, en in “swart saad” (p.33) word seks, poësie en die geliefde liries saamgedig:
[…]
vergun my dít:
die tuinmanskap en vryheid
om my pen in jou te steek
jou nat te lei met lente-ink
wie weet, miskien word hierdie sloot
van saad so swart
’n somerboom van bloeisels,
vaste tonge van silwer bloed
vir ’n loflied in jou skoot
“Wyn in die bloeisels” bevat gedigte wat die jeug en die liefde vier, soos “kalwerliefde” (p.59) oor die intensiteit van eerste liefde. Ook word die beminde in hierdie afdeling reeds aan die voël-kode verbind, soos in “afghanistanse suurlemoene” (p.48-9) gebeur:
My beminde vleg altyd
soos ’n voël voor my uit
voor my fluit
Ander sirkulerende beelde deur die digter se oeuvre wat ook reeds hier aangetref word, is dié van blomme, vlerke, vlieg, berge en venster, soos in “met ‘n bossie bergblomme” (p.46) waarin die simbiotiese verhouding tussen die digter en die geliefde verwoord word:
oeillets du poeté: klein oë van die digter,
en as jy lank genoeg daarín kan kyk
sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk
tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg
na die vreemde berge deur die venster
Die derde afdeling, “Hart uit die doek” bevat gedigte uit Lotus van 1970, waarin daar ’n baie subtiele tonale verskuiwing opgelet kan word: Vanuit die onskuldiger wêreld van die vroeë verse word daar beweeg na ’n ruimte waarin die donker ’n nadersluipende tema raak, maar waarin die liefde die beskutting is, soos in die slotstrofe van “staning” (p.79-81):
maak daardie venster toe, my dame:
in ons twee lywe saam boetseer ons ’n hart
teen die donker,
’n kamer sonder mure
en van binne met die liefde uitgewit
“Die koue van dousterre” (met verse uit Lotus en Met ander woorde, maar ook uit die tronkbundel Voetskrif) bring die insig dat die liefde die enigste durende rykdom is, soos verwoord in die gedig waaraan die afdelingtitel ontleen is (“soos leeus in die sneeu”, p.89). Te midde van hierdie wete is daar wel ook die bewussyn van die geliefde se afwesigheid soos deur ’n leë bed gesuggereer (“ontslapensgeur”, p.93), wat verdiep in “vers as boodskapper” (p.99) waarin die spreker intens bewus is van die skeiding tussen hom en die geliefde, maar die skryfdaad sien as die naelstring na haar:
O mon amour,
kyk ek kom weer
en intussen
oor hierdie papier wat sonder einders is
skryf ek blind skryf ek stom na jou toe
In “donker beminde” is daar ineens ’n verskuiwing in tyd op te let, met die spreker wat die geliefde in ’n toekoms in projekteer waarin sy “’n vergete minnaar / se vlinder van nostalgie / teen die blindruit van ’n noorderse winteraand” is , soos in “23 September 1988” gebeur. Ook in “ekstasis” (p.144) (oorspronklik opgeneem in Papierblom van 1998 wanneer die digter 59 jaar oud is), is daar ’n nostalgiese, selfs elegiese, terugdink aan die ekstatiese jeugjare vol erotiese vervulling. Daarmee saam word die beminde in “hemelvaart” (p.133) die kollektiewe stem wat nog ná die digter se dood die “weergalmende ritme / van ons gemeenskap” verder moet dra – dus ’n suggestie reeds dat dit nie meer oor ’n individuele geliefde gaan nie, maar oor ’n groter menslike verbondenheid.
Die laaste afdeling, “Onbegonne tuiskoms”, bevat gedigte sedert 2000 tot op hede. Hier is ook heelwat gedigte wat met herinneringe omgaan, maar terselfdertyd kyk na die onbekende reise wat nog voorlê, soos “die maanreis” uit die 2014-bundel vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte:
[…]
dankie vir die boodskapper
my nagbeminde
dankie dat jy die nasmaak van ons saamwees
afgevaardig het om my te begelei
soos kielsog deur die donker see se weggaan
dankie vir die troos van jou liefde
[…]
Die maan-beeld keer terug in die slotgedig van die bundel, met die titel “ons het die maan gepluk” uit op die weg na kû. Ook hier kyk die spreker terug na die reis saam met die geliefde, en verken die liefdesgeskiedenis aan die hand van die metafoor van die liefde as vrug en blomme:
ons het die maan gepluk
skynsel vir skynsel
sodat dit donker mag word buite
en die liefde nie verlep nie
ons het die maan afgeskil
petaal vir petaal: so soos woordbeweging
gestroop word van alle taal
en slegs die dieper wondtekens klipkaal agterbly
die hele nag het die donker geur
van ’n piering jasmynblommetjies
die kamerbed soet gemaak
en die liefdesdroom nie verlep nie
met die vroegoggendlig buite
was die hemel skoon van enige uitvaart
of skending van beloftes:
in die jasmynstruik bloei die maan
Dankie, Amanda Marais, vir ‘n insigryke en boeiende resensie.