Woordfees 2020.

WOORDFEES 2020.

Stellenbosch, 6-15 Maart.

.

Hieronder volg gedeeltes uit die Woordfees-program wat alle digkunsliefhebbers sal geniet. Klik gerus op https://woordfees.co.za/ om die volledige program af te laai.

AANBIEDINGS

WHEN POEMS TELL A STORY

Met: Bibi Slippers as gesprekleier

Aangebied deur Uhlanga en Dryad Press

Die dokumente van haar ontslape pa, wat saam met sy makkers by die Val van Tobroek in Junie 1942 gevange geneem is, het haar só ontroer sy wou ’n roman skryf, maar toe word dit ’n digbundel, Die vrede kom later. Diana Ferrus, Musawenkosi Khanyile en Beverly Rycroft gesels met Bibi Slippers oor hoe hul digbundels stories vertel – Musa, van ’n townshipkind se grootword in All the Places, en Beverly, van borskanker oorwin – net om jou rots van ’n pa aan kanker af te staan, in Missing en A Private Audience.

9 MAART 15:30

60 min | Adam Small Seminaarkamer

R65 | R85 by die deur

VERSFORT: DIGKUNS

Met: o.a. gepubliseerde digters, Penseel se studentedigters, en Wellington se Mengelmoes-digters as voorlesers Onthou jy nog jou kinderfort met lakens, komberse, kussings of ’n slaapsak? Met ’n kopknik na Breyten Breytenbach wat 60 jaar gelede as een van die Sestigers Afrikaanse digkuns op sy kop gekeer het, kan jy nou in so ’n nuut verbeelde “versfort” inkruip om nie net na gedigvoorlesings te luister nie, maar ook van jou eie gedigte voor te lees as jy ’n middernagtelike skriba is – en selfs afskrifte van jou gedigte in die “fort” te los vir ander om te lees. Jy’s ook welkom om ’n gedig van jou eie keuse saam te bring, of ’n bundel waaruit jy graag iets voorgelees wil hoor. Kom ontspan met die skoonheid van woorde al om jou in ’n klein, intieme ruimte. En as niemand voorlees nie, kan jy in stilte sit en lees uit die bundels in die “fort”.

6, 7, 12, 13 MAART 09:00-12:00, 14:00-

16:00 | 45 min | Tussen Boektent en ATKV-Boek-Oase | Gratis

 VEELTALIG SPEEL MET VERSE

Daniel Hugo, Benno Barnard en Annette Snyckers gesels met Andries Visagie

Aangebied deur Naledi en Modjaji; moontlik gemaak deur SASNEV

Tussen Daniel Hugo, Benno Barnard en Annette Snyckers glip gedigte moeiteloos deur Afrikaans, Nederlands, Engels en Duits. Vir sy vertaling van Benno se Die trouservies speel Daniel met Benno se Nederlandse tong-in-diekies aanslag en sin vir ironie in Afrikaans, terwyl Annette in haar debuutbundel, Remnants, Restante, Reste, weer self vertaler is tussen die Afrikaans van haar kleintyd, Suid-Afrikaanse Engels van haar tuiste en Duits van haar skoonma. Dikwels verskyn een gedig in al drie taalvariasies. Andries Visagie stel die vrae.

10 MAART 14:00

60 min | Adam Small Seminaarkamer

R65 | R85 by die deur

 

 

SALLY ANN MURRAY: OTHERWISE OCCUPIED

In gesprek met Joan Hambidge

Aangebied deur Dryad Press

Sy speel, sy daag uit, sy’s ernstig – hoe anders as jy probeer sin maak van al die balle wat ’n vrou met ’n beroep en ’n gesin in die lug probeer hou? Joan Hambidge vra Sally Ann Murray, hoof van die US se Departement Engels, uit oor haar jongste bundel.

11 MAART 15:30

60 min | Adam Small Seminaarkamer

R65 | R85 by die deur

RONELDA KAMFER & NATHAN TRANTRAAL: TWEE DIGTERS TESAME

In gesprek met Louise Viljoen

Aangebied deur Kwela

Met Chinatown en Oo’log publiseer die Trantraals, Ronelda Kamfer en Nathan, vir die eerste keer (amper) saam. In hul onderskeie bundels ondersoek Ronelda geslagspolitiek, vrouemishandeling en die gebroke verhouding tussen ’n dogter en pa; en Nathan, oorlogvoering, ook in die persoonlike, intieme ruimte. Hoe, wil Louise Viljoen weet, maak hulle ’n huweliksverhouding, kind grootmaak én skep onder een dak werk?

12 MAART 11:30

60 min | Upstage@Drostdy Teater

R65 | R85 by die deur

PENSEEL & KIE. VERSE EN VONKFIKSIE

Met: Mercy Kannemeyer as aanbieder

Aangebied deur die US Departement

Afrikaans en Nederlands Penseel is die studentebundel wat jaarliks deur die Departement Afrikaans en Nederlands se VER[r]AS (die Vereniging vir Afrikaansstudente) saamgestel word uit gedigte en vonkfiksie wat vooraf deur ’n panel literêre kenners gekeur is. Met Penseel & Kie. word die alumni van vele jare vereer. Kom luister na voorlesings deur stigterslid en oud-uitgewer Danie Botha tesame met Bibi Slippers, Herschelle Benjamin, Danie Marais, Remona Voges en Franco Bassi – almal eens studentedigters, en die jong digters wie se werk nou in Penseel verskyn.

9 MAART 17:00

60 min | Upstage@Drostdy Teater

R65 | R85 by die deur

Geen o/13 (Taal)

MAGIESE MADAGASKAR. POËSIE

Met: Catherine du Toit, Naòmi Morgan en Johanna Steyn

Aangebied deur die Agence Universitaire de la Francophonie.

’n Geniale, maar haas onbekende digter van Madagaskar se poësie lei tot ’n grensverskuiwende, veeltalige vertaalprojek tussen Afrikaans, Engels en Frans, wat veral wys op die besondere affiniteit tussen Frans en Afrikaans. Catherine du Toit, Naòmi Morgan en Johanna Steyn vertel meer van die Jean-Joseph Raberivelo Digter sonder grense-projek, terwyl musiek die regte atmosfeer skep.

10 MAART 11:30

60 min | Upstage@Drostdy Teater

R65 | R85 by die deur

KLEINBOER … AS DIGTER!

In gesprek met Pieter Hugo.

Aangebied deur Naledi

Kleinboer sê: Ná drie joernale, vermom as romans, verskyn opgetjopte prosa (ietwat in die styl van Charles Bukowski?), vermom as ’n digbundel. Hy’s effens sinies oor sy vermoë tot ware poëtiese ontroering en reken Van my beste vriende is groen pyltjies is meer Sex Pistols-kitaar as Sibelius-viool…Hy gesels met Pieter Hugo (Alchemie van my muse).

11 MAART 12:00

60 min | Adam Small Seminaarkamer

R65 | R85 by die deur

JEANNE GOOSEN: ’N LEWE VOL SINNE. OUTOBIOGRAFIE

Sandra Prinsloo gesels met Petrovna Metelerkamp

Aangebied deur Hemel & See Boeke

’n Boek oor die lewe en werk van een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, Ons is nie almal so nie se Jeanne Goosen, het pas verskyn. Sandra Prinsloo, ’n jarelange vriendin van Jeanne, gesels met uitgewer Petrovna Metelerkamp oor dié unieke versameling, wat ’n biografie deur Petrovna bevat asook radio-onderhoude, artikels, ongepubliseerde gedigte, stories, aantekeninge uit notaboeke, briewe, foto’s, onderhoude met vriende, los gedagtes…

12 MAART 11:00

60 min | Boektent

R65 | R85 by die deur

 

Jeanne Goosen

 

DIGTERSPARADYS: VERSE WAT GROOT MANS LAAT HUIL. POËSIE EN MUSIEK

Met: Loftus Marais as aanbieder, en musiek deur Frazer Barry

Aangebied deur Naledi, Queillerie en Human & Rousseau; moontlik gemaak deur SASNEV

Mark Haddon, skrywer van The Curious Incident Of the Dog In the Night-Time, het van Derek Walcott se “Sonnet XLIII” gesê: “… what moves me most profoundly is a feeling that language has somehow taken me beyond the boundary of language.” Kom luister na mans wat verse lees wat hul harte laat saamtrek, met Tribal Echo se Frazer Barry se weemoedige musiekbydrae. Met Kleinboer, Hennie Nortjé, Benno Barnard, Christo van der Westhuizen, Pieter Hugo, Nathan Trantraal, Tom Dreyer as wenner van die I wish I’d said-poësiewedstryd se Afrikaanse afdeling, Pieter Odendaal, Fanie Olivier en Loftus self.

14 MAART 17:00

90 min | Boektent

R65 | R85 by die deur

A WOMAN’S WAR. FIKSIE EN POËSIE

Marita van der Vyver, Christy Lefteri en Diana Ferrus gesels met Meg van der Merwe

Aangebied deur Penguin Random House en Jonathan Ball Publishers

Die impak van oorlog op vroue is die goue draad tussen die stories deur die Britse Christy Lefteri, Marita van der Vyver en digter Diana Ferrus. Meg Van der Merwe hoor meer oor The Beekeeper Of Aleppo, Christy se verhaal van die blinde Andra, wat haar man volg op die gevaarlike vlugtog uit oorloggeteisterde Sirië. (Christy is self die kind van vlugtelinge en het vir haar navorsing tyd in ’n Siriese vlugtelingekamp deurgebring.) In Marita se Grensgeval lei ’n bloedbevlekte brief van haar man, ’n oudsoldaat in die Bosoorlog, ’n vrou na Kuba, terwyl Diana in Die vrede kom later terugkeer na haar pa se ontberings in Tobroek en as krygsgevangene in Duitsland.

11 MAART 11:30

60 min | Upstage@Drostdy Teater

A R65 | R85 by die deur

SEWE SONDES. POËSIE

Met: Kabous Meiring as aanbieder

Hoogmoed, wellus, hebsug, woede, vraatsug, luiheid, afguns – die sewe doodsondes. Hulle sê mos sommer so lekker; kom heel klankryk uit die mond uit. Geniet ’n onheilige aand saam met ’n groep digters wat gedigte oor dié onvergeeflikhede geskryf het. Die sondes word gevier, veroordeel, besnuffel, geproe en bepeins deur, onder andere, Bibi Slippers, Jolyn Phillips, Andries Bezuidenhout en Loftus Marais.

13 MAART 17:00

90 min | Drostdy Teater

R65 | R85 by die deur

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*