Thomas Deacon. 2019. Duifiedorings. Minimal Press. ISBN 9780639808868. Prys: R165
Resensent: Dewald Koen
Een van die wonderlike ervarings waaraan ’n jong literator en resensent in die vroeë jare van sy of haar akademiese loopbaan blootgestel word, is die talle tekste, hetsy prosa, poësie of drama, wat wag om ontdek (of eerder: gelees) te word. Ek beny my talle mentors en voorgangers se belesendheid en maak van elke moontlike geleentheid gebruik om water uit hul put van kennis te kan skep. Van Engelse letterkunde is daar min onderwerpe waaroor my vriend prof. Tony Ullyatt nie uitgebreide kennis beskik nie. As resensent bewonder ek proff. Joan Hambidge, Lousie Viljoen en Willie Burger se enorme kennis van letterkundes wat oor talle taalgrense strek. Wanneer ek dus gevra word om ’n digter wie se werk ek nog nie vantevore gelees het nie te resenseer, is die uitdaging des te meer genotvol. So lei elke nuwe leeservaring die jong literator op ’n ontdekkingstog met vele afdraaipaaie.
Thomas Deacon is ’n Afrikaanse digterstem wat elke dan en wan vanuit die agterbanke van die Afrikaanse poësie te voorskyn kom – maar die lang gewag is ongetwyfeld die moeite werd. Deacon debuteer in 1989 met Sand uit die son gevolg deur Die predikasies van Jacob Oerson in 1993. Alhoewel sy volgende bundel Maagmeisie eers in 2003 verskyn, word van hom ’n roman asook twee kortverhaalbundels gepubliseer.
Sy jongste bundel heet Duifiedorings. Die meerderheid Afrikaanse bundels word in Standaardafrikaans geskryf met enkeles wat in Kaapse Afrikaans geskryf word. Dit is dus opvallend dat Deacon soos met sy vorige bundels weer Griekwa-Afrikaans (as subvariëteit van Noordwestelike Afrikaans) besig. Dit is ’n pragtige en klankryke variëteit kenmerkend aan die gebruik van palatalisasie, die dubbele meervouds- en verkleiningsvorme asook die besitskonstruksie met “se”. Hans du Plessis is naas Deacon veral bekend vir die gebruik van Griekwa-Afrikaans in sy digkuns soos in sy bundel Innie skylte vannie Jirre (2001).
Die Noordweste (Namakwaland) kom sterk na vore in Duifiedorings. Die titel verwys na ’n wilde blom (Tribulus terrestris) wat in Namakwaland voorkom en na reënval in Desember en Januarie daarvoor bekend is om dikkopsiekte onder skape te veroorsaak. Die titel op sigself dien dus as simbool van die outentieke Namakwalandse landskap en daar sluit Deacon aan by digters soos Donald W. Riekert en George Weideman wat oor die Noordweste gedig het. In Riekert se bundel Heuning uit die swarthaak (1986) en Weideman se Hondegaloppie (1966) en As die son kliplangs spring (1969) fokus beide digters op die Namakwalandse landskap wat sterk in hul verse resoneer. Hierdie ongenaakbare landskap wat vir die meeste Afrikaanssprekende poësielesers met uitermatige droogte en ’n amper woestynagtige verlatenheid geassosieer word, word deur digters soos Deacon, Riekert en Weideman verwoord tot unieke skoonheid waarop die fyn waarnemer bedag moet wees. In die programgedig word die mens se broosheid binne die Namakwalandse landskap bedeesd verwoord en word die prag en praal terselfdertyd gevoed deur die koor van musikale stemme.
duifiedorings
toe duifiedorings laatmiddag
die aarde geel-geel koggel
agterbank ek in die kerk op pella
piets die son ’n spatsel bloed
teen die witgekalkte muur
hang Christus naak
aan grootrivier se afgekapte hout
sing ’n koor van kinders hallelujah ave maria
word elke noot ’n doringprik
Die bundel bestaan uit vyf afdelings getiteld “duifiedorings”, “spatsels”, “vuurklip”, “agtertongetjies” en “klitsies”. In die eerste afdeling maak die digter van talle religieuse beelde en Bybelse verwysings gebruik. Die gedig “dertig silwerstukkies” is veral treffend weens die sterk metafoor en beeldskone landskaptonele:
bokant pellaberg breek sonstrale op
in dertig silwerstukkies
staan ’n judas handewringend soos die draaitak
van ’n uitgedorde witgatboom
verbrokkel elke silwerstuk in sewentig maal sewe
terwyl ’n arend bokant pellaberg bly swewe
Een van die treffendste verse in die bundel is ’n lykdig getiteld “george henry weideman”:
waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het george henry weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy rietjiesfluit
van botterblom en bossiegras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
maar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
’n staning onder duisend sterre
oopgetrap
Wat die lykdig vir my so besonders maak, is die wyse waarop die spreker die landskap waarmee Weideman so goed vetroud was, gebruik om op eervolle wyse hulde te bring aan sy skrywerskap – sy romans, kortverhale en gedigte wat sal bly voortleef daar waar “george henry weideman/ ’n staning onder duisend sterre/ oopgetrap” het.
Ook die liefde kom aan bod en in die derde afdeling is daar ’n speelsheid wat sterk aan sommige van Boerneef se gedigte herinner. Die klankpatrone skep ’n ritmiese toon en bevat heelwat stuitige humor soortgelyk aan Philip de Vos se limerieke.
herrie vannie plaas botterbok
herrie vannie plaas botterbok
dans mettie tjêrrie met’ie rooikolrok
volmaan gousblom hoog innie lug
môre issit bukstaan son oppie rug
wewenaar willie van wonderfontein
wewenaar willie van wonderfontein
ontmoet ’n jong dame so mooi en fyn
leen haar sy bankkaart, sy spog met sy geld
dan verdwyn die jong dame, weg soos ’n speld
In die bundel (veral in die vierde afdeling) dra die Griekwa-Afrikaans by tot die sterk klankrykheid van Deacon se gedigte. Dit is jammer dat so min digters in Griekwa-Afrikaans skryf, aangesien dié variëteit ’n unieke deel van Afrikaans se laslappieskombers vorm.
as’ie wind so waai
as’ie wind so waai ennie bonthaan kraai
droewelik kopskeef-skeef gedraai
haal oujan kapools kons’tinia uit’ie kas
wals vir willemiena eentand oor bok-se-werf
groot bederf willemiena groot bederf-
bediddel bedoddel bebokspringlingeding
hoor hoe oujanjan kapools vir willemiena sing
assie haan kraai ennie wind so waai
bediedel bedoddel bebokspringsingeling
Die slotafdeling van die bundel aktiveer die fragmentariese verse van N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk” in sy bundel Nuwe verse (1954) asook die digkuns van Boerneef. (Op die agterblad van Duifiedorings word daar foutiewelik na Louw se “bundel Klipwerk” verwys wat eintlik ’n afdeling van die bundel Nuwe verse is.) Alhoewel Deacon se fragmente uit haikoes bestaan, vorm die fragmente, soos in die geval van Louw se “Klipwerk” ’n eenheid waar die klem op die landskap van die Noordweste geplaas word. Laasgenoemde haikoes is ryk aan klank en beeld.
stofduiwel swiepswaai
oor uitgetrapte velde
tolbos in die keel
*
dag trap ouspoor oop
teen rant skiet aalwyn rooipyl
nag sit swarthoed op
*
haan se môrekraai
roep die son se kam-kam rooi
agter rante op
As geheel is Thomas Deacon se Duifiedorings ’n geslaagde bundel waarin die oorgrote meerderheid verse besonder knap daar uitsien. Deacon se deeglike kennis van die landskap waarvoor hy soveel liefde koester, word elegies beskryf. Die gedigte is toeganklik en onopgesmuk, dog is die duidelike hand van ’n ervare en bekwame digter te bespeur. Die bundel sien pragtig daar uit ten spyte van enkele tikfoute wat deurgesluip het by “as’ie wind so waai”. Met Duifiedorings het Deacon weereens bewys watter vernuftige digtalent daar in hom steek.
Baie dankie, Breyten Breytenbach! Dis ‘n bundel sonder pretensie, so eie aan groot kuns. Hoe maklik word sulke eenvoudige, aardse verse onderskat (deur o.a. onderwysers, dosente en resensente).
Wonderlike terugvoer van Breyten Breytenbach oor Thomas Deacon se bundel, Duifiedorings:
“Dankie – besonder baie dankie – vir die aanstuur van die Thomas Deacon bundel. Die man se menslikheid, oopheid vir ander en vir die omgewing, die rykheid en tekstuur van sy woorde en daarom sekerlik van sy kennis – is wonderlik om in te neem. Hy raak vir my op werklik inspirerende maniere aan wat dit beteken om digter te wees in hierdie land. En met die voelers en die sap en die sintuie van die digter maak hy die land ‘n wérklikheid, syne en daarom ons s’n, wat soveel verder gaan as grense en klimate.”
Duifiedorings
R165.00
Koop dit hier: https://minimalpress.co.za/shop/duifiedorings/
of by jou naaste boekwinkel (ISBN: 9780639808868)
Hier kry die leser met ʼn eiesoortige talent te make wat sonder pretensie of mooidoenery ontgin word – in ooreenstemming met die landskap en sy mense. As stylkenmerk vorm hierdie kombinasie van eenvoud, eerlikheid en deernis die mees uitstaande eienskap van Duifiedorings. Die bundel is tiperend van ʼn bepaalde samelewing en lewensruimte wat waarskynlik besig is om te verdwyn; dit is eg, en word met ʼn eiesoortige waardigheid gepresenteer, en nie ter wille van effek kunsmatig “plat” aangebied nie. Dit bevat al die eienskappe wat by die volkseie hoort.
Thomas Deacon kan kers vashou by digters soos N.P van Wyk Louw (sy bundel Klipwerk), Boerneef, R.K. Belcher en Charles Fryer.
Hy skryf ʼn eiesoortige en outentieke landskap oop, en verken ʼn streek met al die relevante inhoude wat so ʼn inherente deel daarvan vorm. Die menslikheid en aardsheid kom skitterend na vore, en daarmee saam ʼn eiesoortige lewensinstelling: lydsaamheid, geduld en meelewing met mekaar, maar ook ʼn leefwyse as lewensgenieters te midde van ʼn beskeie bestaan.