Valsbaai, nasomer
Vir MM Walters, 23 Januarie 2020
die digter sit op sy klip hoog oor die baai
daar onder bewonder toeriste pikkewyne se waggel en duik
golwe wat kopspeel, Suidooster wat waai
die Hollanders het Duiwelspiek hoeka Windberg genoem
op ‘n rots vol eeue van meeue se mis
sit ‘n duiker met vlerke gesprei in die suiderson
‘n seiljag gly oor die loodblou waters wat skitter en blink
hier het ou Simon glo destyds ‘n hawe gesoek om te land
die digter tuur verby Muizenberg se strand
tot waar Hottentots-Holland dynserig verdwyn
wat is dit wat hy doer by Hangklip gewaar?
twee reuse wit seile maak bol in die wind:
die Vlieënde Hollander, verdoem om vir ewig oor die aardbol te vaar?
maar: ‘n tweemaster versier met kruis en met kroon,
karaveel uit die Noorde wat ons uithoek bespied?
tog nie Da Gama nie, die ou bokker, met sy brandsiek bemanning!
wie dit ook is, as hy gekom het om ons nasie te red
moet hy weet hy’s vyf eeue te laat!
die digter skink nog ‘n glas van sy verwaterde wyn
© Gunther Pakendorf
(vir MM Walters met sy 91ste verjaarsdag, 23 Januarie 2020)
‘n Baie mooi huldigingsgedig, Gunther!
Een van die ontroerendste gedigte wat ek ken is Walters se “Haven om te landen” uit Sprekende van God. Vanuit die stoepkamer van sy hooggeleë huis in Seaforth, Simonstad, hou die digter die aandskemer oor Valsbaai dop:
In die koue grys skemer van die agterberg
laveer die laaste bote huis toe:
dun wit seile in ’n wintersee soek
na ’n haven om te landen.
Die meeue trek saam op Duikersklip
dig teen die donker en die wind
en oor die water hang ’n hunkerende roep
na ’n haven om te landen.
Die stomp neus van die Steenberg
los op tussen see en lug,
die nag word swart sonder lig wat wink
na ’n haven om te landen.
En ou herinneringe en vertwyfeling
sak oor my soos ’n swaar seemis
en heelnag deur dreun die branders en nêrens
is ’n haven om te landen.