Heilna du Plooy. Het zingen van de wereld/Die singende wêreld

’n Resensie-essay oor Marc Tritsmans se bundel en Daniel Hugo se vertaling

 

Dit is ’n bekende feit dat as dit kom by vertaling die vertaler as persoon meestal ’n skimfiguur in die agtergrond bly. Die beskikbaarheid van inligting in verskillende tale was oor eeue heen en is tans steeds onontbeerlik in internasionale politieke en ekonomiese besluitneming; die toegang tot wetenskaplike dokumente in verskillende tale nie minder so nie. Daar word selde gevra wie verantwoordelik is vir die vertaling van hierdie dokumente, en tog is hierdie stil en onopsigtelike vertalers die onmisbare bewerkers van mediasie en fasilitering van die kennis en inligting wat hanteer word. Hoewel dit nie bekend is hoe en waar en deur wie vertaalwerk begin is nie, word daar algemeen aanvaar dat dit lank voor ons jaartelling al ’n bekende praktyk was omdat die Sumeriese Gilgamesh-epos reeds twee eeue v.C. in Asiatiese tale vertaal is. Die vertaling van Boeddhistiese tekste uit Indies na Sjinees dateer ook ongeveer uit hierdie periode. Verder is daar in die Griekse kultuur ook van heel vroeg af vertalings gemaak – die vertaling van die Septuagint, die Ou Testament in Grieks, is onder meer in die derde eeu v.C. gedoen.

Die omvang van vertaalwerk wat deur die eeue so ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die mensdom ’n rol gespeel het, is kwalik berekenbaar[1]. ’n Uitsonderlike stuk geskiedenis is dié van die Escuela de Traductores de Toledo, die Toledo Skool van Vertalers. Ek het van hierdie Skool te wete gekom tydens ’n besoek aan Toledo en dit bly vir my ’n merkwaardige saak, nie net oor die wetenskaplike wyse waarop hulle te werk gegaan het nie, maar oor die kulturele en ideologiese implikasies en moontlikhede van so ’n projek. Hierdie Skool van Vertalers (daar is aan ons vertel dat dit die eerste georganiseerde en amptelike skool vir vertaling was), het in die 12de en 13de eeu eers onder leiding van die Aartsbiskop Raymond van Toledo en in die dertiende eeu onder beskerming van koning Alfonso X van Kastilië tekste tussen Arabies, Latyn, Grieks en later Kastiliaans en ander Europese tale vertaal. Dit was hierdie vertalings in Kastiliaans wat die grondslag van Spaans as taal gelê het, soos Luther se Bybelvertaling ( van 1522-1534) ook die basis van Duits gelê het.

Alfonso X se hof was dan ook inderdaad multikultureel met Jode, Moslems en Christene wat gelykelik belangrike poste beklee het.[2] Die vertaalwerk wat wedersyds gedoen is en die vertalers wat uit alle Europese en Midde-Oosterse lande afkomstig was en gewerf is op grond van hulle bekwaamhede, is ’n konkrete manifestasie en ’n navolgenswaardige voorbeeld van vreedsame naasbestaan en kulturele interaksie. Daar was wedersydse respek vir die verskillende (veral religieuse) tekste wat vertaal is. Dit is ook baie interessant dat daar deurlopend samewerking was omdat meer as een vertaler aan ’n vertaling gewerk het,[3] ’n werkwyse wat tans weer volgens die jongste siening van vertaling as groepwerk en as onderhandeling gebruik word. Hierdie werkwyse is ook gevolg met die jongste Afrikaanse Bybelvertaling, die Bybel 2020 (Van der Merwe, 2014).[4]

Hoewel sommige van hierdie klassieke vertalers beroemd geword het, ken mens eerder die oorspronklike skrywers van tekste, traktate en geskrifte se name en die titels van die tekste self. Die vertalers verdwyn in die newels van die geskiedenis, maar dit is hierdie mense wat aan eeue en eeue se lesers en studente toegang gegee het tot die werk van hierdie ou Indiese, Arabiese, Griekse en Latynse tekste en wat tans steeds brûe bou tussen verskillende tale en kulture. Waar die vroeë vertalings meestal religieuse tekste was (soos onder meer in die geval van die Vulgaat, die vertaling van die Bybel in Latyn, van 382 tot 405 n.C. deur die kerkvader Hieronimus) is verhale en eposse en gedigte ook van vroeg af vertaal. Die verhale en fabels in die Panchatantra, wat in Arabies beskikbaar was maar wat oorspronklik in Sanskrit opgeteken is, is byvoorbeeld in opdrag van Alfonso X in Kastiliaans vertaal.

Moderne literêre vertaling is die erfgenaam van hierdie lang en waardige vertaaltradisie, maar die werk van ’n vertaler het selfs meer gespesialiseerd geraak.

Twee aspekte wat op literêre vertaling van toepassing is, kom na vore uit hierdie aanloop, die eerste dat vertaling gespesialiseerde en eiesoortige eise stel, des te meer as dit gaan om literêre vertaling, en die tweede dat die vertaler self steeds in die agtergrond verdwyn. Vertaling in Afrikaans as sodanig kry inderdaad ook min aandag en verdwyn soms sommer “soos kwartels in lang gras”.

Oor die vereistes om ’n goeie literêre vertaler, van onder meer poësie, te wees, is baie geskryf.

Vladimir Nabokov wat Pushkin in Engels vertaal het, het homself baie duidelik uitgedruk oor die slaggate en vereistes vir die vertaler in ’n essay “The Art of Translation” wat in 1940 verskyn het.[5] Ek haal dit aan, nie net oor die inhoud nie, maar ter wille van Nabokov se styl en aanslag:

 

Three grades of evil can be discerned in the queer world of verbal transmigration. The first, and lesser one, comprises obvious errors due to ignorance or misguided knowledge. This is mere human frailty and thus excusable. The next step to Hell is taken by the translator who intentionally skips words or passages that he does not bother to understand or that might seem obscure or obscene to vaguely imagined readers; he accepts the blank look that his dictionary gives him without any qualms; or subjects scholarship to primness: he is as ready to know less than the author as he is to think he knows better. The third, and worst, degree of turpitude is reached when a masterpiece is planished and patted into such a shape, vilely beautified in such a fashion as to conform to the notions and prejudices of a given public. This is a crime, to be punished by the stocks as plagiarists were in the shoebuckle days.

. . .

We can deduce now the requirements that a translator must possess in order to be able to give an ideal version of a foreign masterpiece. First of all he must have as much talent, or at least the same kind of talent, as the author he chooses. In this, though only in this, respect Baudelaire and Poe or Joukovsky and Schiller made ideal playmates. Second, he must know thoroughly the two nations and the two languages involved and be perfectly acquainted with all details relating to his author’s manner and methods; also, with the social background of words, their fashions, history and period associations. This leads to the third point: while having genius and knowledge he must possess the gift of mimicry and be able to act, as it were, the real author’s part by impersonating his tricks of demeanor and speech, his ways and his mind, with the utmost degree of verisimilitude.

 

In sy boek From Translation to Imitation (2003) skryf Jackson oor hoe die eiesoortigheid van literêre vertaling, anders as by gewone feitelike vertaling, die interpretasie van nie net die semantiese aspekte van die bronteks vereis nie, maar veral van die skrywer se intensie en die effek wat die skrywer wou bereik met sy teks, dit wil sê, die literêre vertaler werk met stemming en toonaard, met wat mens as die stemtoon van die skrywer kan beskryf, met klank en ritme, om net enkele aspekte te noem. Vir Philippe Jacottet, die bekende Switserse digter en vertaler, is vertaling “’n verborge onderhandeling wat die vorm aanneem van ’n gesprek; ’n stem wat antwoord op die spesifieke klank en toon van ’n ander” (Du Toit, 2019:154). Oor die balans tussen die ooreenkoms (nie ooreenstemming nie) tussen bronteks en doelteks en die kreatiewe inset van die vertaler, wat op sy manier ’n soort nabootser in ’n ander taal is, haal Jackson Petrarca aan:

An imitator must see to it that what he writes is similar, but not the very same; and the similarity, moreover, should not be like that of a painting or statue to the person represented, but rather like that of a son to a father, where there is often a great difference in the features and body shape, yet after all there is a shadowy something — akin to what the painters call one’s air — hovering about the face, and especially the eyes, out of which there grows a likeness … [W]e writers, too, must see to it that along with the similarity there is a large measure of dissimilarity; and furthermore such likeness as there is must be elusive, something that it is impossible to seize except by a sort of still-hunt, a quality to be felt rather than defined…. It may all be summed up by saying with Seneca, and with Flaccus [Horace] before him, that we must write just as the bees make honey, not keeping the flowers but turning them into a sweetness of our own, blending many different flavors into one, which shall be unlike them all, and better.

Die literêre vertaler moet dus oor ’n hele aantal baie besondere eienskappe en vermoëns beskik. Dit geld vir enige literêre teks, maar veral vir ’n gedig veral aangesien moderne digters al hoe meer komplekse en subtiele strategieë gebruik om ’n goeie gedig te skryf – en die vertaler gaan tog nie ’n swak gedig vertaal nie. Die vertaler moet weergee, re-presenteer in ’n ander taal, maar die produk moet steeds en selfs juis ’n selfstandige gedig wees. Ek kan nie heeltemal met Petrarca se beeld van die vader en die seun saamstem nie; die gelykenis moet myns insiens sterker wees as bloot ’n moontlikheid van dieselfde uitkyk in die oë – vaders en seuns kan immers erg verskil. Maar die punt wat hy maak dat die verhouding tussen ooreenkoms en verskille tussen bronteks en doelteks belangrik is, dat dit asof op ’n mespunt balanseer, is wel geldig. Dit gaan uiteindelik om ’n dubbele vaardigheid, om ’n gedig sinvol oor te plaas in ’n ander taal (wat groot vaardigheid en kennis in twee tale en kulture veronderstel), en om terselfdertyd self ’n nuwe gedig te skryf, ’n verwante gedig met soveel as moontlik van die subtiliteite en poëtiese eienskappe van die oorspronklike gedig, maar tog ook ’n nuwe selfstandige goeie gedig.  Dit veronderstel daarom twee gelyklopende teoretiese of literêr-sensitiewe aktiwiteite wat na gelang van ervaring minder of meer bewustelik plaasvind in die kop van die poësievertaler: die waarnemende en analitiese proses en dan die kreatief vormgewende poëtiese proses in die nuwe gedig.

Sommige digters en vertalers van poësie, byvoorbeeld Philippe Jacottet, is van mening dat net ’n digter gedigte kan vertaal, maar die Mexikaan Octavio Paz is oortuig daarvan dat digters in die praktyk selde goeie vertalers is. Vir Jacottet gaan dit om vaardigheid, Paz is besorg oor die digter se eie ego wat sy vertaling kan beïnvloed (vgl. Du Toit, 2019:154). Die kreatiewe proses word deur Paz beskryf as die teenoorgestelde van die proses wat deur die digter gevolg is. Die vertaler “breek die verskillende elemente van die teks af en laat die betekenis van die woorde weer vry in hulle onbegrensde weiveld van beweeglikheid en veelduidigheid voor hy hulle opnuut herstel tot taal met ’n bepaalde betekenis wat dié van die oorspronklike teks weerspieël” (Du Toit, 2019:155). Dit klink myns insiens ietwat esoteries en miskien is die proses minder omslagtig of wydlopig as ’n digter die twee tale waarmee hy werk goed ken.

Uiteindelik vat Kopp (1998) dalk die kern van die saak raak as hy sê dat die kuns van vertaling daarin lê dat die vertaler die dinamiek van die poësie weergee en nie net ’n meganies korrekte vertaling maak nie. Dan hoef  “poetry is what gets lost in translation” nie waar te wees nie.

As vertaling nou so ’n fyn kuns is, as dit so ’n sekure maar komplekse aanslag vereis, is dit tog iets wat groot respek behoort af te dwing. En tog kry vertaling as vertaling min aandag in die Afrikaanse literêre wêreld. Vertalings gee immers nie net toegang tot die literatuur en kultuur van ander tale nie, maar skep ook iets nuuts in Afrikaans self. Dit verryk dus op meerdere maniere die inheemse Afrikaanse taal en kultuur. Dink maar aan Henning Pieterse se vertaling van Rilke se Duineser Elegien. Waar daar in die vyftiger- en sestigerjare geweldig baie klassieke werke uit die antieke en moderne Europese literatuur en ook uit ander tale en kulture vertaal is, het die vertalingsaktiwiteit in Afrikaans sedertdien baie afgeneem.[6] Dit is waarskynlik die gevolg daarvan dat mens alles in Engels te lese kan kry, maar dit is wel ’n terrein waarop Afrikaans homself kan verryk.

Daniel Hugo is waarskynlik die produktiefste vertaler vanuit Nederlands in Afrikaans en hy bewys sy vaardigheid as vertaler en digter weer eens in sy vertaling, Die singende wêreld, van Marc Tritsmans se bundel Het zingen van de wereld. Daar is ’n hele reeks Nederlandse digters wie se werk hy vertaal het, die bekendste waarskynlik die werk van Herman de Coninck.

Van Tritsmans se poësie skryf Elke Brems (2006): “Marc Tritsmans bevindt zich niet in de strijdarena van de Nederlandse poëzie”.[7] Sy noem dat sy werk by Lannoo in Vlaandere gepubliseer word en dus minder bekend is in Nederland en omdat dit minder bekend is in Nederland is dit ook minder bekend in Vlaandere. Maar sy skryf ook dat hy ’n beter posisie verdien in die Nederlandstalige wêreld, al is sy werk meer filosofies en minder opvallend of op effekte gerig as ander gerugmakende Nederlandse digters.

Volgens Hugo (2020) was Tritsmans in sy vroeër werk onder invloed van Herman de Coninck en was sy werk “beeldryker en woordspeleriger”, maar al was dit vir hom die aanvanklike aantrekkingskrag, is Hugo ook beïndruk deur die vormvastheid en samehang in Het zingen van de wereld. Hy wou eers ’n seleksie uit Tritsmans se hele oeuvre vertaal, maar het besluit op hierdie bundel in sy geheel omdat die gedigte so “naatloos by mekaar aansluit en so ’n suiwer vergestalting is van die wêreldbeskouing” van die digter. Tritsmans se hele oeuvre word gekenmerk deur ’n fokus op die reële werklikheid om hom, die aarde self, die plekke waar mense hulle bevind, alledaagse dinge, maar ook verganklikheid en die lewe self (Brems, 2006.) Remco Ekkers (2017) resenseer Het zingen van de wereld onder die titel “Kleine poëtische filosofie van het leven”. En as mens die bundel lees, word dit ook meer as duidelik: Tritsmans skryf van uit ’n konkrete werklikheid, maar bespiegelend, soms byna dromend en in besinning oor omstandigheid en onontkombaarhede. Volgens Hugo word Tritsmans se mymerpraat vergelyk met Miriam Vanhee se werk, maar wat Hugo veral opgeval het, is die “verwoording van epifaniese momente”.

Ek het die bundel, Die singende wêreld, op ’n bepaalde manier gelees. As vertaalde poësie gepubliseer word, kan dit òf gebeur dat net die vertaling afgedruk word òf die oorspronklike gedig en die vertaalde versie kan langs mekaar geplaas word (deels seker op grond van die voorkeur van die betrokke digters en die – finansiële – moontlikhede wat die uitgewer beskikbaar maak). Dan kan die leser die gedigte saam-saam lees of apart. Hier verskyn die Nederlandse gedig op die linkerkantste bladsy met die Afrikaans daarteenoot op die regterkant. Ek het op beide maniere gelees: eers die Nederlandse gedigte om die gevoel van die digter se werk te kry, en daarna die Afrikaanse vertalings, elkeen op sy eie en almal saam. Eers daarna het ek heen en weer gelees. So het ek probeer om die vertalings op sigself te waardeer teen die eggo van die toonaard wat ek uit die lees van die Nederlands onthou.

Die bundel bestaan uit 5 afdelings, “Plekbepalings”, “Grondtone”, “Brandpunte”, “Samesang” en “Nagalm”. Dit is dus duidelik dat dit gaan om basiese, byna elementale menslike ervaring en wat dit sou kon beteken. In die eerste afdeling gaan dit oor waar die mens hom bevind en die bepalende elemente van daardie plek – die son, die maan, die aarde self en graniet kom aan die orde. Die mens wil weet waar hy hom bevind, hy soek voortdurend na “bekende konstellasies’, maar ironies genoeg is wat bekend is uiters klein in vergelyking met waar die digter hom werklik bevind:

my voete wil altyd weet waar hulle hul presies

bevind: beveilig en geaard ook al dwaal ons

almal stuurloos te midde van ontelbare heelalle (Tritsmans, 2019:3)

In die tweede afdeling gaan dit oor verder basiese inhoude van die werklikheid: lig, water, lug, lewe, metgeselle, hout, vuur, die liggaam, bloed, taal, see en stilte. Oor water skryf Tritsmans ’n gedig  wat in een aaneenlopende sin voortvloei soos die onderwerp waaroor dit handel:

wat in, deur my, om my stroom

…dié oudste en mees vanselfsprekende

ding …

…toe ek dit liefdevol

 

vir myself fluister en alles rondom

my sag begin resoneer asof

’n ewige vraag deur miljarde

 

jubelende stemme beantwoord word

 

…vir ’n oomblik was daar

die besef dat deur die uitspreek van dié

een woord ek alle lewe kon aanraak (Tritsmans, 2019: 17)

In “Brandpunt” gaan dit oor sentrale konsepte, fokuspunte soos die kolletjie gloed onder ’n vergrootglas in die son, ’n eiland, ’n boom. Tritsmans is ’n natuurwetenskaplike en sy wetenskaplike kennis en insig lei hom om relevant vrae oor natuurverskynsels te vra, maar dan beantwoord hy die vrae met méér as wetenskaplike kennis. Hy stel die vraag so dat sy insig en aanvoeling saamspreek met die gedig. Oor die gang van seisoene skryf hy soos volg:

Elke winter plooi die aarde

op homself terug en terug

soos ’n blad papier al hoe kleiner

en harder opgevou word tot

net weerbarstigheid oorbly

 

en wanneer dit weer begin

oopvou – onaangekondig

kantel lig, swaai al die

luike oop – word ek nog steeds

op die verkeerde voet gevang

 

omdat ek elke keer dink dis

nou verby, soos die einde

van ’n vuurwerk, die slotakkoord

van ’n simfonie: dit was dit

meer is daar nie; maar hy bly hom

 

onstuitbaar tot in die verste uithoeke

al hoe verder ontplooi

sodat ek nou eers dink ek verstaan

wat in die wiskundeklas as die n-de dimensie

tóé te veel vir my verbeelding was (Tritsmans, 2019: 53)

In “Samesang” gaan dit inderdaad oor interaksies tussen die spreker in die gedig en iets anders, ’n ander instansie soos ’n ysvoël, ’n jong boom, ’n ou beukeboom en die singende wêreld self. In “Ysvoël” beleef die digter ’n oomblik van verrukking, ’n epifaniese moment wat hom uit die werklikheid wegvoer:

as iets totaal onmoontliks

duik hy my werklikheid

verblindend, kwiksilwerig binne

want van vloeibare metaal is hy

 

sonder twyfel van die anderkant

’n boodskapper van agter die spieël (Tritmans, 2019:59)

Dieselfde verrukte reaksie beleef die digter wanneer hy op “’n doodstil, kristalhelder/ herfsdag” deur die bos loop en ’n ou beukeboom “presies hierdie oomblik” kies om “400 tot 600 beukeneute per vierkante meter … tegelyk uit sy kruin” aarde toe te laat val  soos ’n applous(Tritsmans, 2019:67).

Die titelgedig van die bundel kom ook in hierdie afdeling voor. In die gedig maak die digter ’n voorstelling van die aarde wanneer sy verlos sal wees van al die menslike gedoe en kabaal, wanneer sy haar “asem terugkry/ haar talle diep wonde lek”. Tog bekla hy dit dat, as die wanklanke verdwyn het en die voëls weer sing, iets anders ook sal ontbreek:

wat towenaars soos Bach en Beethoven

eens so wonderbaarlik aan hierdie

singende wêreld toegevoeg het (Tritsmans, 2019:69)

Die laaste afdeling van die bundel heet, in aansluiting by die titel wat na klank verwys, “Nagalm”. Hierin gaan dit om ervaring van dinge, van die eerste dag van Julie, van die naderende winter, van ’n landskap as ’n skildery sonder mense, ’n laaste gesamentlike wandeling, die onmoontlikheid om tyd en ruimte te oorstyg, wat as’t ware die slotsom word van sy besinning in die voorafgaande verse. Die bundel sluit af met ’n gedig wat mymer oor hoe alles wat is en wat was, in tyd en ruimte gelyktydig kan bestaan, gelyktydig met ’n plek verband kan hou. Uiteindelik sal alles egter verdwyn:

…alles

leeggeskraap in volkome onverskilligheid

op hierdie foto kom niks lewends in fokus (Tritsmans, 2019:85)

My oorkoepelende indruk is dat die vertaalde gedigte pragtige gedigte op hulle eie is, dat hulle inderdaad sowel die bespiegelende toonaard en mistieke inslag as die vorm van die oorspronklike gedigte vasvang en weergee. Dit beteken dat Hugo die moeilikste aspek van poësievertaling beheers, om naamlik die nuanses en die dinamiek van die gedigte oortuigend te kan oordra. En dit is nie maklik nie, want Tritsmans se werk het ’n byna eteriese aard: die mens is van hier en nou, hier is die dinge wat hy nodig het, wat hy waardeer, wat hy geniet, wat hom verwonder, maar tog bly die mens ’n vreemdeling. Yves T’ Sjoen praat van Tritsmans se poësie as “’n [i]ngetoë simfonie [van] aardse verganklikheid en die vergeefse verlange na ’n ander, metafisiese werklikheid” wat “die nietigheid van die mens kontrasteer met die onmeetlikheid van die kosmiese” (T’ Sjoen, 2019: 89).

Hugo slaag egter werklik daarin om die toonaard van die gedigte te behou, rustig, oorwoë, met ’n intensiteit wat die leser meevoer. Die vormsekerheid van die gedigte bly ook behoue. Vanselfsprekend kan mens oor ’n woord hier of ’n wending daar opmerkings maak of verskil. Mens sou kon vra of “het zingen van de wereld” nie nader sou wees aan “die gesang/lied/gesing van die wêreld” as “die singende wêreld” nie. Jy sou kon vra of die Nederlandse uitdrukking “niets levends in dit beeld te bekennen” nie vertaal sou kon word met die Afrikaanse uitdrukking “daar is niks te beken nie” in plaas van “in fokus” nie. Maar dit sou hareklowery wees – die resensent is immers nie veronderstel om die bundel na te sien nie. Daar is altyd alternatiewe moontlikhede en die vertaler maak sy keuses, hier deurgaans gemaklik en poëties gemotiveerd. Die ou slaggate tussen Afrikaans en Nederlands, onder meer die dubbele nie in Afrikaans en die verledetydsvorme, word ook onopvallend en oortuigend hanteer.

In die gedig “die liggaam praat (ook vir ’n keer)” word die nie eers weggelaat en in ’n volgende strofe behou en elke keer werk dit goed.

die brein, glansend verskuil in die veilige

heenkome wat ek lewenslank bied

maar op die keper beskou tog niks meer

as ’n hulpeloos lillende dooier in sy eierdop

wil mos voortdurend vervoer word

 

êrens heen: soos ’n keiser in sy drastoel

duld hy van my geen teenspraaak nie

uiteindelik is ek net sy toevallige slaaf (Tritsmans, 2019:31)

Hugo hanteer ook die reëlbreuke goed – die gedigte bly vloei oor die enjambemente heen en die breuke pla nie. Dit is inderdaad nodig want die oorspronklike gedigte is ritmies rustig en vloei stilweg aan. Die Afrikaanse verse is myns insiens op ’n ooreenstemmende wyse ritmies en klanksensitief.

Hugo se kennis van die Nederlandse taal en kultuur is bo verdenking en dit blyk uit die gemaklike woordkeuses en vindingryke oplossings in die vertaling. Verder is daar ’n onteenseglike verwantskap tussen die werk van die twee digters wat ’n gesprek moontlik maak. Al stem Hugo se eie werk en dié van Tristmans nie heeltemal ooreen nie omdat Hugo minder filosofies ingestel is, is hulle werk nogtans verwant. Daar is duidelike ooreenkomste in soort en gehalte, veral wat betref konkrete beelding en onmiddellikheid. Dit maak ’n groot bydrae tot Hugo se begrip en aanvoeling vir Tritsmans se werk en daaruit spruit die goeie vertaling voort. Hugo kan inderdaad in die vel van Tritsmans glip en buikspreek vir hom.

Ek hoop hierdie vertaling vind baie lesers: dit is ’n uitstekende vertaling en Daniel Hugo voeg hiermee’n hele bundel lieflike Afrikaanse gedigte tot die skat van poësie toe.

 

Bibliografie

Brems, Elke. 2006. ‘Beluister de vertrouwde woorden’ De poëzie van Marc Tritsmans.

Ons Erfdeel, 49(2006). https://www.dbnl.org/tekst/_ons003200601_01/_ons003200601_01_0050.php Geraadpleeg 26 Januarie 2020.

Du Toit, Catherine. 2019. Vertaling as transgressiewe potensiaal. Lojale verset. In Galloway, Francis (red.) ’n Huldiging. breyten breytenbach. woordenaar woordnar. Pretoria: Protea.

Ekkers, Remco. 2017. Kleine poëtische filosofie van het leven. https://www.tzum.info/2017/12/recensie-marc-tritsmans-zingen-wereld/

Geraadpleeg 28 Januarie 2020.

Hugo, D. E-poskorrespondensie met H du Plooy, 25 Januarie 2020.

Jackson, R (2003). From Translation to Imitation. http://www.utc.edu/~engldept/pm/ontransl.htm Geraadpleeg 25 Januarie 2020.

Kopp, M (1998). Poetry in Translation. http://www.geocities.com/paris/bistro/2207/apoetrytr.htm Geraadpleeg 25 Januarie 2020.

Tritsmans, Marc. 2019. Die singende wêreld. Vertaal deur Daniel Hugo. Kaapstad: Naledi.

https://www.kwintessential.co.uk/blog/general-interesttranslation/the-history-of-translation Geraadpleeg 27 Januarie 2020.

https://en.wikipedia.org/wiki/Alfonso_X_of_Castile. Geraadpleeg 27 Januarie 2020.

https://en.wikipedia.org/wiki/Toledo_School_of_Translators. Geraadpleeg 27 Januarie 2020.

https://lithub.com/10-literary-translators-on-the-art-of-translation/ GEraadpleeg 27 Januarie 2020.

 

Eindnotas

[1] Vgl. https://www.kwintessential.co.uk/blog/general-interesttranslation/the-history-of-translation

[2] Vgl. https://en.wikipedia.org/wiki/Alfonso_X_of_Castile

[3] Vgl. https://en.wikipedia.org/wiki/Toledo_School_of_Translators

[4] Vgl. Van der Merwe, Christo HJ. 2014. Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling? 11(3), Desember 2014. In hierdie artikel beredeneer Van der Merwe die verskillende soorte vertaling en verduidelik hoe ’n groepvertaling met onderhandeling en onderlinge kontrole gebruik is vir die direkte vertaling van die Bybel 2020.

[5] https://lithub.com/10-literary-translators-on-the-art-of-translation/

[6] Ek het in die boekery van TT. Cloete ’n hele versameling van vertaalde werke in Afrikaans teëgekom. Daar kon ek onder meer werk van Aristophanes, Borges, Dumas, Duras, Dürrenmatt, Euripides, Flaubert, Gide, Goes, Hamsun, Lorca, Montale, Plato, Rostand, Sagan, Sophokles, Tsjechof (verskillend gespel) en Vergillius lees. Hoeveel mense weet byvoorbeeld dat Françoise Sagan se Bonjour Tristesse as Welkom Weemoed en verskeie werke van Marguerite Duras vertaal is deur André P.  Brink? Of hoeveel boeke Karel Schoeman vertaal het? Of Alewyn Lee? Ek weet ook nie of hierdie boeke nog iewers in biblioteke of op die internet beskikbaar is nie.

[7] https://www.dbnl.org/tekst/_ons003200601_01/_ons003200601_01_0050.php

 

Heilna du Plooy
Jeffreysbaai
Januarie 2020

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Heilna du Plooy. Het zingen van de wereld/Die singende wêreld”

  1. Heilna, baie dankie vir die deeglike artikel. Ek waardeer dit werklik. Ek moet darem net daarop wys dat Tritsmans se bundels sedert “Man in het landschap” van 2008 by die Nederlandse uitgewery Nieuw Amsterdam verskyn. Elke Brems se opmerking (uit 2006) omtrent Tritsmans se beperkte reikwydte weens sy Vlaamse uitgewer Lannoo is dus nie meer geldig nie.

  2. Naledi verdien alle lof vir hierdie mooi uitgawe. Johan Coetzee moet ook erkenning kry dat hy bereid is om die vertalings van gedigte uit te gee – ek dink aan Benno Barnard se “Die trouservies”, De Waal Venter se vertaling van Neruda en Cas Vos se Dante-vertalings.

  •