Onderhoud met Marius Crous (Tussenganger)

 

Marius Crous in gesprek met Dewald Koen oor sy nuwe bundel Tussenganger

 

DK: Marius, geluk met jou nuwe bundel. Agt jaar het verloop sedert jou vorige bundel Vol draadwerk verskyn het. Wat my veral opgeval het tydens die lees van Tussenganger is die wye verskeidenheid temas waaroor jy skryf (bygesê – hierdie is ’n lywige bundel met 95 gedigte). Soos in Vol draadwerk bevat die bundel ’n hele gros gedigte met intertekstuele verwysings. Jy het jou net wyd gegooi en daar is gedigte oor die natuur, kuns, verlies, verganklikheid, die post #FeesMustFall-era en veral ’n sterk fokus op die godsdiens (Boeddhisme, Rooms Katolieke kerk/geloof).

Het jy enige spesifieke temas in gedagte wanneer jy gedigte skryf, of skryf jy oor onderwerpe wat jou op ’n spesifieke dag en tyd interesseer?

 MC: Ek het deur ’n tipe ontnugterde fase gegaan waarin ek letterlik geweier het om gedigte te skryf. Ek het dit altyd afgemaak as, “dit is nie my erns nie”, totdat iemand opgemerk het, “Maak dit jou erns!” Seker maar heimlik gehoop ek beleef ook ’n tipe helder halfjaar. Waaroor ek nou gedigte skryf, sluit aan by my motto:

Poetry is a blueprint of who we are
at the time of writing it.
– CA Conrad

As ek oor Zaha Hadid of oor Middeleeuse rites lees, skryf ek daaroor. Of kyk You Tube-videos oor obskure onderwerpe soos sky burials of die speletjies wat Ai Wei Wei met die Chinese magshebbers speel. Later sien mens tog dat daar patrone is en dat jy dikwels terugkeer na ’n tema.  Die Grieke speel ’n kleiner rolletjie in hierdie bundel.

 DK: Die bundeltitel kom in die gedig “Tafel” voor en in die gedig “Moeder” verwys jy na “tussentaal”. Waarom het jy op “Tussenganger” as die titel van jou bundel besluit?

 MC: Dis altyd erg moeilik om met ’n oorkoepelende titel vorendag te kom. Ek voel seker maar soos ’n onbetrokke tussenganger tussen mense; of dalk tussen my Middeleeuse minnaars en hul moderne lesers. Dit sluit vir my ook aan by die bardo-idee; die tussenfase. Daar is vir my ook ’n goeie koppeling tussen die motto van Kenneth Goldsmith en die titel.

 DK: Verlies en verganklikheid is een van die temas waaroor jy in die bundel skryf. “Lykdig vir Wisława Szymborska (1923-2012)” het in 2014 die derde prys in Versindaba se lykdigte kompetisie oor gestorwe digters verower. Die twee gedigte oor die verlies van jou moeder is besonder treffend. Joan Hambidge (Dad, 2006) en Marlise Joubert (Grondwater, 2019) het ook oor die verlies van ’n geliefde ouer geskryf.

 Ek wil spesifiek vra oor die gedig “Bardo” in die sewende afdeling. Dit is ’n baie persoonlike mededeling van ’n besondere hartseer gebeurtenis in jou lewe. Het jy gevind dat die skryf van gedigte soos “Moeder” en “Bardo” ’n vorm van berusting bring?

 MC: Gedigte oor gestorwe ouers is niks nuuts nie; miskien is dit ’n tipe grafsteen-in-woorde. Ek het via Laurie Anderson by die bardo uitgekom. Sy het hierdie wonderlike fliek “Heart of a dog”, asook ’n CD met die verhale/musiek gemaak. Ek het ook die roman Lincoln in the Bardo van George Saunders gelees. Via die Tibettane se boek oor sterfte het ek toe gewonder hoe dit nou vir my ma sou wees in die bardo. Dis hoe die gedigte ontstaan het. Miskien kon ek ’n paar jaar na my ma se dood in 2015 daaroor skryf, juis omdat ek dit in hierdie vervreemde omgewing kon plaas. Daar is tog ook bietjie galgehumor ter sprake: hoe hierdie stoere Calvinistiese vrou die staat van die bardo betree.

 DK: Jy is besonder krities teenoor die Rooms Katolieke kerk soos in die gedig “Sacerdotalis Caelibatus” waarin jy kommentaar lewer oor pedofilie binne die kerklike kringe. Wat is jou gevoel rondom die rol van georganiseerde geloof binne die een-en-twintigste-eeuse samelewing? 

 MC: Ek weet nie en dit traak my ook nie, is die kort antwoord. Wat die Roomse Kerk betref, is dit ’n onuitputlike bron van stories en karakters. Die Roomse Kerk kon nog nooit sy heidense kant wegsteek nie en ek dink dit maak dit so aanloklik. Ook die wroegende geskrifte uit die vroegste tye, die onderdrukte begeerte vir medepriesters of die skynheilige gebare wat in die naam van God gedoen word. Amper iets soos, “Maar Here, ons het dit nie geweet nie.” Die saliges, heiliges en mistici fassineer my. Kyk maar net na foto’s van die heiliges met hul onbedorwe vlees. Miskien is dit wat ware geloof is; om te glo daardie figuur wat nes ’n handpop lyk, is werklik onbedorwe!

 DK: Jy word naas digters soos Johann de Lange, Joan Hambidge, Loftus Marais en Fourie Botha binne literêre kringe as ’n “gay-digter” geëtiketteer. Daar is heelwat minder “gay” gedigte in Tussenganger vergeleke met jou vorige drie bundels.

Wat is jou mening rondom die etiket van “gay”-digter wat aan jou (en ander digters) toegesê word, bloot omdat jy gedigte skryf waarin homoërotiek of gay liefde verken word?

 MC: Etiket, etiek, etiket (goeie maniere): die drie gaan nie altyd ewe goed saam nie. Word ek so genoem en in dieselfde asem as die ander? Gays van my generasie ly in elk geval aan ’n tipe oorlewingskuld omdat hulle die vigskrisis van die tagtigerjare oorleef het. Om oor gay kwessies te skryf, laat my altyd soos ’n “dirty old man” voel, wat na die ouderdom van 30 te oud is om nog te mag perv op papier. Die gay gedigte is daar, maar miskien meer verhul. Ek laat die ruie gay gedigte maar aan die jonger mense oor.

 DK: As dosent het ek jou gedig “#FMF” terdeë geniet. Die gedig verwoord die algemene gevoel van moedeloosheid en frustrasie onder akademici aan Suid-Afrikaanse universiteite soos Etienne van Heerden dit ook onlangs in sy Die biblioteek aan die einde van die wêreld verwoord het.

  #FMF *

 

want om in die gang te skarrel
laboratoriummuise in ’n labirint
gaan niks voeg by die gesprek
oor plato en paleografie
by oop kantoorruite met gebalde vuis
te protesteer teen zwarte piet en antjie somers
futiel
nes die versoek om geen nulle by te las
alles wat jare
sodanig stroombelyn
gewerk het so te laat
vir elke bakatel ’n nuwe duplikaatvorm te bedink
elke poetsvrou is voortaan ’n postmodernis
elke tuinier ’n teoloog
elke oorgeërfde opvatting oor onderrig
word weerlê deur ’n eerstejaar
sonder duits of skeinat of wiskunde
van nou af ’n lesingsaal vol luide testosteroon
’n afgekamde afgewaterde diskussie
oor die loompa in lumpenproletariaat
skryfvaardighede uit die renaissance
hertakseer en herbedink

agter diggegrendelde kantoordeure
nes ingepropte skape op ’n slagpaletrok
die manne en vroue in akademiese muf
hulle wat so graag dosent wou speel
die doktorsgraadlose publikasielose professore
ingepas tussen gholfspel en haarbesoeke
om die beursie aan te vul
vir rinnewasies tuis en reise
na wene of sjanghai

 * Ons standpunt is eenvoudig: alle studente moet toegelaat word om
te registreer. Alle studente wat swak gevaar het in die eerste assesserings-
geleentheid moet nog ’n kans gegee word. Die bestuur mag ons nie
viktimiseer nie en studente aankla net omdat hulle hul reg op protes
uitoefen nie. Baie studente plak of slaap in onveilige openbare plekke.
Vroulike studente slaap in die tv-kamers van manskoshuise, en dit ten
spyte van die hoë verkragtingsyfers.

 

DK: Wat is jou gevoel oor die toekoms van kwaliteit tersiêre onderrig aan Suid-Afrikaanse universiteite?

MC: Dis ’n strikvraag; moeilik beantwoordbaar. Ek dink die kwessie van onderrig is nie ’n probleem nie, maar veral die Maoïstiese kultuur van verdagmaking op kampusse. Ek wag vir die dag wat ons in die groot sale op die tafels gaan moet klim en sleg gesê moet word, alvorens die gehoor op ’n gepaste straf kan besluit. Dalk moet ons benewens Die biblioteek aan die einde van die wêreld weer Die jaar nul van P J Haasbroek gaan lees. Dié gedig moet saamgelees word met “Mea culpa” waarin ek probeer vrede maak met my afleer van my bevoorregting. Of is dit eerder lafhartigheid?

 DK: Hoe gaan jy te werk wanneer jy gedigte skryf? Het jy ’n spesifieke proses wat jy volg of plek waar jy skryf?

 MC: Tydens vergaderings, tydens Powerpoint-aanbiedinge oor herstrukturering? Terwyl ek iets lees en dit my prikkel om verder te dink. Wanneer ek na musiek luister en dit my op ’n kopreis laat gaan. Of ’n uitspraak van Trump en veral mense se reaksie daarop my laat nadink. Ons kan wildparke en renosters en die mooiste sonsondergange hê, maar dit maak nie van ons land ’n leefbare plek nie.

 DK: Dink jy Afrikaanse digters is meer bewus van klimaatsverandering en die interaksie tussen mensdier en niemensdier binne die konteks van die ekokritiek wat al hoe meer veld wen binne die Afrikaanse literêre sfeer?

 MC: Met Australië wat in vlamme opgaan, met die Amasonewoude wat afgemaai word vir industrieë, die droogtes en die verspoelings kan ’n mens seker nie onaangeraak leef nie. Ek sou nie myself as ’n natuurdigter beskou nie, maar selfs ek wag nou op Nibiru. Gister na ek die vrae bedink het, luister ek na Patti Smith en sy dra ’n gedig oor Australië voor, wat so eindig:

Great Barrier Reef, red as blood, red as a ruby,
until man infused it with his toxics, with oil, with his plastic,
and choked the life out of it,
until that great red reef bleached white like the bones of saints in the sun.

Veral die slotreël met sy toespeling op “of his bones are coral made” sit my aan die dink.

 DK: Die bundel is pragtig uitgegee. Vertel vir die lesers meer omtrent die keuse van Michelangelo se geheime kamer wat op die voorplat afgedruk is.  

 MC: Voorblaaie is vir my altyd moeilik. Met my vorige bundel het ek hierdie idee gehad en die uitgewer het dit te makaber gevind. Nou laat ek dit maar aan hulle oor.  My knap redakteur Deborah Steinmair het dit voorgestel en ek dink dit sluit heel goed aan by die titel. Dis ’n tipe tussenruimte, maar dit illustreer ook die idee van skeppend wees, selfs al is jy gevange in ’n bepaalde ruimte.

 DK: Ten slotte gaan ek jou ’n baie moeilike vraag vra: Watter gedig in Tussenganger is jou gunsteling gedig? Sal jy dit asseblief met die lesers deel?

 MC: Dit is moeilik, want dit hang af van ’n mens se bui op dié stadium. Ek hou van die veeltalige gedig oor Maria-verering, maar sal vandag hierdie een kies:

NIBIRU

Rayless, and pathless, and the icy earth
Swung blind and blackening in the moonless air …
LORD BYRON

weswaarts
die oog dwaal
ooswaarts

hou jou oog op die see
jou ierse rot
kyk uit vir die annoenaki

hier onder ons driepoot
verbeel jou dis ’n magiese grot klein leo

mesmeriseer nibiru ons
met die draaimaak
in sy agbeendans

 DK: Baie dankie vir hierdie insiggewende gesprek. Weereens geluk met Tussenganger. Ek glo dat poësieliefhebbers van hierdie bundel sal hou

 

 

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •