Daniel Hugo. Wilhelm Knobel se nagelate bekentenis

 

 

Presies vyftig jaar ná die verskyning van Wilhelm Knobel se digbundel Mure van mos ontdek Daniel Hugo die digter se persoonlike eksemplaar met sy insiggewende annotasies.

 

Die digter Wilhelm Knobel (1935-1974) is op 39-jarige ouderdom oorlede. Hy het aan bipolêre gemoedsteurnis gely. Tydens sy lewe het daar slegs twee digbundels van hom verskyn: Bloedsteen (1966) en Mure van mos (1970). Ná sy dood is Nagelate gedigte (1975) en Twee siklusse (2005) gepubliseer, asook ’n bloemlesing uit sy werk, As die woorde begin droom (2011), saamgestel deur Johann de Lange. Sy jonger broer, prof. Deon Knobel, het as sy literêre eksekuteur opgetree en was die dryfkrag agter die verskyning van die drie postume publikasies.

Ná Deon se dood in 2019 het Wilhelm se boekery klaarblyklik versprei geraak onder tweedehandseboekhandelaars. My vrou koop gereeld boeke aan via die internet en dit is hoedat ’n eksemplaar van Mure van mos by ons op Prins Albert beland het. Ek blaai niksvermoedend daardeur en ontdek talle dowwe potloodaantekeninge daarin: wysigings, korreksies en byvoegings.  In die literatuurwetenskap staan dit bekend as marginalia.

Gelukkig bevat Nagelate gedigte ’n faksimilee van een van Wilhelm se gedigte in handskrif, en dit blyk identies te wees aan die potloodkrabbelings in die boek.

Veral die bygevoegde opdragte interesseer my. By die gedig “Na ontvangs van ’n mandjie vrugte uit die Vrystaat” (waar die Knobel-broers grootgeword het) staan geskryf: vir oom Jaap & tannie Corrie; by “Van liefde en dood”: vir Ingrid; by “Sprokie”: vir D.J.O.; en by afdeling II: vir my Moeder.

Die opdragte by veral “Van liefde en dood” en “Sprokie” plaas die gedigte binne ’n nuwe literêre konteks. En dit is dié konteks wat ek nou in “Sprokie” wil uitpluis. Hier is die gedig:

 

  Êrens in ’n bos hang ’n ryp rooi vrug

 ’n Sluwe voël klim op uit die see

 en pik die vleis tot die laaste pit

 As hy opstyg uit die bos met skril geskree

 en spatsels vleis wat kleef

 aan die wrede snawel en helder bors

 hang muf in die bos die geur van die vrug

en repe skil verskrompel in die son

 

Met dagbreek klink opnuut uit die see

 die nooit gestilde kreet

 en weer hang die vrug in die bos

 glansend en rooi en vol

 

J.C. Kannemeyer sê in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II (1983) dat hierdie gedig “ʼn allegoriese samevatting van sy siekte gee”. Hy betrek ook die “Sisuphos-gedagte” as veronderstelde oorsprong van die beeldspraak. In werklikheid sinspeel die gedig op die Prometeus-mite. Prometeus het vuur by die gode gesteel en aan die mens geskenk, waarmee die menslike kultuurskepping ’n aanvang kon neem. As straf laat Zeus hom aan ’n rots vasbind waar ’n arend hom elke dag besoek om aan sy lewer te kom vreet. Oornag genees die lewer, sodat die arend die volgende dag weer daarna kan terugkeer. So hou dit aan totdat die held Herakles Prometeus bevry.

In Knobel se gedig korreleer die “ryp rooi vrug” met Prometeus se bloederige lewer. Die “(s)luwe voël” met sy “wrede snawel” is uiteraard die dubbelganger van die arend. Teenoor die vleisvretende arend is die voël in die gedig ʼn vrugtevreter, maar die verband bly bestaan omdat daar na die vrugvlees as “vleis” verwys word. Dit is wel vreemd dat die voël opkom uit die see en weer daarna terugvlieg.

Waarom dra Wilhelm Knobel die gedig ná publikasie op aan D.J. Opperman? Myns insiens omdat twee Opperman-verse ook as intertekste funksioneer. Opperman het naamlik ook ’n sprokie-gedig geskryf:

 

Sprokie van die spikkelkoei

 

Uit holtes van ʼn boom

het kuddes vee gekom,

toe kies my broer

die spikkelkoei vir hom.

 

Ek stoot hom oor ʼn krans,

hy val in ʼn mik,

toe het ʼn kraai

op die spikkelkoei gaan sit.

 

Smeer vet aan die klip,

korrel fyn, moenie kwes,

toe sak ʼn duisend vere

noord, suid, oos, wes –

 

sak ʼn duisend kraaie

oor die bloed, oor die klip …

O waar sal ek skuil

teen die stippels wat pik?

 

(Engel uit die klip, 1950)

 

Die vleisvretende kraai wat vermenigvuldig tot ’n duisend “stippels wat pik”, is ook ’n verskyningsvorm van die arend in die Prometeus-verhaal. En die rots waaraan Prometeus vasgemaak is, neem hier die vorm aan van ’n krans en ’n klip. Opperman se sprokie – wat gebaseer is op ’n inheemse Zoeloe-mite – bevat natuurlik net ’n vae eggo van die Prometeus-gegewe, anders as Knobel se gedig wat ’n regstreekse herskrywing daarvan is.

Die ander Opperman-gedig wat Knobel in gedagte moes gehad het, bied ’n verklaring vir die voël wat opvlieg uit die see:

 

  Nagstorm oor die see

 

Het die onrustige see hom verwag,

die groot grys voël van die berge

sku uit die nag?

 

Sy silwerige vlerke het trillend verbree,

 krysend sy nartjie-rooi snawel

 gesteek in die see.

 

Toe styg hy op drupopende vlerke en vlug

 met hese gesang

 na die berge terug.

  (Negester oor Ninevé, 1947)

 

Die “groot grys voël” se gekrys en “hese gesang” kom ooreen met die “skril geskree” en “nooit gestilde kreet” van die voël in Knobel se gedig. Opperman noem ook die voël se snawel en beskryf dit as “nartjie-rooi”. Is dit die rede waarom Knobel die arend uit die Griekse mitologie verander in ’n vrugtevreter? Die nartjie-rooi kleur hou natuurlik ook verband met Prometeus se lewer en Knobel se “ryp rooi vrug”.

Die wesenlike ooreenkoms tussen die drie voëls – onderskeidelik in die Griekse mite, die Zoeloe-verhaal en in Knobel se vers – is dat hulle simbole is. In die Prometeus-verhaal is die arend ’n embleem van Zeus se mag, in Opperman se weergawe van die Zoeloe-sprokie is dit ’n simbool van die sondaar se gewete, en by Knobel verteenwoordig dit sy terugkerende geestesongesteldheid.

Met Knobel se potlood-toevoeging agterna van die opdrag aan Opperman, erken hy nie net sy literêre invloede nie, maar voeg hy ’n dimensie aan die gedig toe wat ons leeservaring daarvan enorm verryk. Dit gee ook insae in die manier waarop ’n digter bewustelik en waarskynlik ook onbewustelik dit wat hy gelees het, verwerk tot ’n nuwe, veelsinnige skepping.

Byna het hierdie kosbare digbundel verlore gegaan. Ongelukkig is dit tekenend van hoe onverskillig skrywers se nalatenskap in hierdie land bejeën word.

Daniel Hugo

19 Maart 2020

                       

                       

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Daniel Hugo. Wilhelm Knobel se nagelate bekentenis”

  1. Dit is besonder interessant,Daniel. Ek het jou artikel met groot belangstelling gelees.

    In die sestigerjare het ek Wilhelm ‘n paar keer besoek in sy werkkamer. Hy het dit altyd taamlik donker gehou. Ons gesprekke het hoofsaaklik om die digkuns en die nuwe letterkunde van die sestigerjare gedraai.

    In 2005 het die boek “Twee siklusse” van Wilhelm verskyn. Aan die binnekant van die voorblad is daar potloodaantekeninge afgedruk, gedateer 19.12.63. Vyf jaar later is “As die woorde begin droom” ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel, saamgestel deur Johann de Lange, gepubliseer. In 2015 het “Die ongewapende man op 80 – in vertaling” verskyn. Gedigte hierin is in Engels vertaal deur Wilhelm self en deur Gisela en Tony Ullyat.

  2. Fanie Olivier :

    Dankie Marlene en Daniel vir hierdie stukkie herwaardering waarmee Wilhelm skielik weer voorop kom staan. En die rustige/onstuimige gesprekke waarvan De Waal ook skryf,

Los kommentaar

 

*

  •