N.P. van Wyk Louw 50. René Bohnen

 

 

Onvas

 

Die mens se oordeelsdaghorlosie tik-

tak die sekondes af tot middernag

en die pitklein, geelbruin by faal; verstik

aan landbougif, ly blomgebrek. Die dag

 

skuif al nader aan ’n kernflater,

fopnuus saai bont paniek. En die mensdier

stroop alles wat leef, gryp grond, tap water;

die ekosfeer steier in die snelvuur.

 

© René Bohnen, 2020

 

Bookmark and Share

22 Kommentare op “N.P. van Wyk Louw 50. René Bohnen”

  1. Rene, ‘n treffende antwoord op NPvWL se “Suiwer wiskunde” met sy “ligbruin by” en onbevrugte blom.

  2. René Bohnen :

    Dankie, Daniel. Ek het nogal aan jou gedink terwyl ek lettergrepe tel!

  3. Helize van Vuuren :

    Dankie, René, vir jou eietydse besinnings-vers met verwysing na “Suiwer Wiskunde”. Vergun my dié ruimte vir ‘n paar voetnote oor Louw se vers wat ek in die laaste tyd met ‘n skok agter gekom het, en altemit ook ander lesers sal boei.

    ‘n Duidelike hiaat in die resepsie van NP van Wyk Louw se Tristia, is die spore oral in die Afrikaanse digter se “Tristia”-afdeling, die tweede in sy bundel, van Osip Mandelstam se verse en laatstyl.In die Afrikaanse ontvangs van Louw se Tristia was Mandelstam maar so onlangs as 1953 deur Kruschev ontban, en sy werk vir die eerste keer in 1955 in New York deur twee Slaviste bekendgestel.
    Indien die twee verse hieronder, albei uit Mandelstam se laatwerk, saam met “Suiwer wiskunde” gelees word, val die sentraliteit van die “uurwerk”, die by voor die blom, en die fiksasie op die branders, almal in die oog. Bowendien is daar vir vandag se leser, hier en oral, ook die tersaaklikheid van die “plaag”, die “giflbeker” wat rondgaan, en verstomming oor “ons verlies” wat uit die Stalin-terreurtyd eggo in die verlatenheid van afsondering nóú…’n nou sonder ‘n menselike gesig wat blameer kan word, ‘n gesiglose plaag teen die mens as spesie gerig.

    Nr. 44 – Ariosto

    In Europa is dit koud. In Italië is dit donker.
    So vieslik soos barbiershande is mag.
    O, om ‘n venster wyd oop te kan gooi op die Adriatiese see,
    en dadelik, sonder versuim.

    Die bye-gezoem bo die muskusroos,
    die gespierde kriek wat sing in die middag-steppe,
    die swaar hoefysters van die gevleuelde perd,
    die uurglas staan geel en goud.

    In sonbesie-taal ‘n mengsel wat betower
    van Pushkin-wee en Mediterreense konsep,
    soos hardnekkige klimop orals
    lê hy dapper met Orlando en bak poetse.

    Die uurglas staan geel en goud,
    Die gespierde kriek sing in die middag-steppe
    en reguit maan toe vlieg die breed-geskouerde liegbek…

    Sagmoedige Ariosto, ambassadeurs-vos,
    blommende varing, seilmaker, turksvy,
    op die maan het jy die stemme gehoor van geel vlae,
    jy was die geleerde berader van visse in die ope lug.

    O, akkedis-stad sonder ‘n enkele siel!
    Growwe Ferrara het sy seuns gemaak uit ‘n regter en ‘n heks,
    hul gehou aan ‘n kort riem –
    en die son van rooihaar-intellek het gerys uit die gramadoelas.

    Ons is verstom oor die slagterstal,
    die kind aan’t slaap onder ‘n brommernet,
    die lam op die heuwel, die monnik op sy esel,
    die graaf as soldaat, halfpad-mal
    van wyndrink, plaag en knoffel,
    maar meer nog, soos die daeraad, verstom oor ons verlies.
    – Stary Krim, 4-6 Mei, 1933 – Voronezh, 1936

    Osip Mandelstam Selected poems vertaal deur David McDuff (Afrikaanse vertaling Helize van Vuuren, 27 Maart 2020)
    ***
    Nr. 19 – Brander na brander

    Brander na brander rol voort, en breek die rug van die brander,
    werp hulself na die maan met die verlange van ‘n gevangene.
    Die jong onder-dieptes,
    die ongesusde hoofgolwe,
    draai en slaan, grawend aan ‘n sloot in die sand.

    En in die lug, verskrompeld van skemer,
    verskyn uitsteeksels van ‘n ongebore muur.
    Die soldate van die agterdogtige sultans
    val af van die skuimende trappe, sprei sproei en verdeel dit,
    en koue gekastreerdes dra die gifbeker rond.
    – 27 Junie-Julie 1935

    – Osip Mandelstam, Eerste Voronezh notaboek uit The Moscow & Voronezh Notebooks vertaal deur Richard & Elizabeth McKane (Afrikaanse vertaling Helize van Vuuren, 27 Maart 2020)

  4. René Bohnen :

    Dankie Helize, vir hierdie interessante stuk.Ek was heeltemal onbewus! Ek sal beslis nog probeer lees daaroor (as ek iets op die internet kan kry) Ek hou ook van jou vertalings – dit is ‘n ekstra bonus by die inligting. So in Afrikaans is die sentraliteit, soos jy sê, besonder opmerklik. Om dit in afsondering te lees is nogal ysingwekkend.

  5. Helize, het jy enige idee wanneer en in watter taal VWL met Mandelstam se gedigte kennis gemaak het? Dit is interessant dat Mandelstam ook Ovidius se titel Tristia vir ‘n bundel gedruik het (1922).

  6. Mandelstam se “gespierde kriek” het ook tot ander digters in die wêreldletterkunde gespreek. Daar is seker ook talle haiku en ander versvorme waarin daar oor krieke geskryf is deur Japanners en Sjinese. Hulle was nogal lief om krieke as troeteldiertjies aan te hou.

    Hierrmee twee aanhalings uit die Sweedse Nobelpryswenner, Tomas Tranströmer, se oeuvre. (Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter).

    Uit: “Elegie”

    Van orals en nêrens word daar gespeel
    soos krieke in die donkerte van Augustus. Vasgevang
    soos ’n boomkewer sluimer die vermoorde reisiger
    snags in die nat veenmos.

    (Die “vermoorde reisiger” is die Bockstenman).

    Die Bockstenman. In die somer van 1936 is ’n lyk van ’n man ontdek in ’n veenmoeras (bog) in Halland aan die weskus van Swede. Hy is na skatting in die middel van die veertiende eeu om die lewe gebring. Sy klere is goed bewaar deur die sure in die moeras. Twee houtpenne is deur sy liggaam gesteek om te voorkom dat hy weer sou opstaan.

    Uit: “Baltiese see”
    Deel V

    “Elke somer is die laaste een.” Dit is leë woorde
    vir die wesens in die laatsomernag
    waar die krieke soos besetenes op hulle naaimasjiene te kere gaan …”

  7. Hein Viljoen :

    Ek is ook ‘n bietjie skepties oor ‘n moontlike skakel tussen VWL se gedig en Mandelstam. Bye en blomme en branders is sulke algemene digterlike beelde – daar is sekerlik honderde gedigte waarin hulle gebruik word. En sover ek kon vasstel na ‘n klein soektog in die Koninklijke Bibliotheek en WorldCat is daar nie vertalings van Mandelstam se werk wat voor 1954 beskikbaar was sodat VWL daarmee kennis kon gemaak het nie. Dalk ‘n voorbeeld van ‘n skakel gebaseer net “on the mind caprice” en geen feite nie?
    Aan die ander kant – gedigte kruip seker ook waar hulle nie kan loop nie.

  8. Helize van Vuuren :

    Mag wees, Hein – mij dunkt van wel…En die skakel, Daniel, is via Celan – sy 1959-uitgawe met ‘n keuse uit Mandelstam was die eerste in ‘n Middel-europese taal (daarvoor net ‘n Russiese uitgawe in 1956, New York, wat Celan gebruik het, van Struve en Filippova. Bedink ook dat daar waarskynlik los vertalings van Celan se Mandelstam her en der in tydskrifte verskyn het voor die bundeling van al die vertalings. En dat Louw (volgens die Tristia-manuskrip in 1957 al ‘n netjiese manuskrip met inhoudsopgawe gereed had, maar om ‘n onverstaanbare rede die geheel eers in NEGENTIEN-TWEE-EN-SESTIG die lig laat sien het (korrespondensie oor dié onbegryplike terughouding beskikbaar tussen J du P Scholtz en Louw).

    Daar is net te veel opvallende ooreenkomste en eggo’s tussen Mandelstam-soos-vertaal-deur-Celan dat dit bloot toevallig kan wees. Boonop kom Nuwe verse en Tristia uit dieselfde periode van Europese verblyf. Kyk hierdie vers van Mandelstam, soos deur Celan vertaal:

    Der hohle Laut, behutsam der
    Frucht, die vom Ast sich loslöst,die
    unendliche, die Melodie
    des Wälderschweigens um ihn her…

    [Die hol geluid, behoedsaam van
    die vrug wat die tak laat los, die
    oneindige, die melodie
    van woudstilte om hom heen…]

    of
    Bett, aus schwülen Finsternissen
    [bed waarin ons wakkerword]

    En nog ander…Alles te wyte aan sinchronisiteit?
    Paul Celan is steeds een van die belangrikste Europese digters. Soos ook Mandelstam. Celan se Mandelstam-vertalings sou Louw beslis gefassineer het, veral vir die Russiese wêreld van Mandelstam agter die vertalings – die samizdat op publikasiew van Mandelstam-werk is eers opgehef deur Kruschev, in 1954 (na Stalin se dood in 1953).

  9. Helize van Vuuren :

    en De Waal – Mandelstam was intens belese in die Europese poësie, tale en kulture. Daai kriek klink my meer na Kafka se kriek, ‘n besondere “gespierde kriek”…

  10. Hein Viljoen :

    Behalwe dat Nuwe verse (waaruit “Suiwer wiskunde” kom) al in 1954 verskyn het. En dat JC Steyn (Lewensverhaal 720) suggereer dat die gedig in Februarie 1954 geskryf is nav ys op die Ij. Steyn haal ‘n brief van Louw aan Truida aan.

  11. Helize van Vuuren :

    Hein, dis geen “caprice”, geen duimsuigery of grillige fantasie. En harde gegewens ter owervloed…Maar ‘n weloorwoe essay sal meer bereik as hier, met ongelowige Thomasse… voorlopig dus net dit:
    1. vanaf 1930 verskyn in die Times Literary Supplement in Londen gereelde berigte oor, die Russiese Silwer Era in die letterkunde, waaronder Mandelstam as besondere ster (sien Andrew Kahn inaanlyn gratis “open library” boek: Twentieth-Century Russian poetry, 2017:157-201).

    2. Slavistiese studie is in 1913 aan Leiden Universiteit gestig onder Prof. Nicolaas van Wijk. Hy het uitgebreid, oor jare heen, oor Russiese taal en letterkunde gepubliseer (sien d gratis aanlyn argief http://www.dbnl.org onder sy naam: ook ander outeurs – vanaf vroeg al bydraes oor Mandelstam. In 1921 reeds ‘n polemiek oor spelling van Russiese digtersvanne in Ndl, o. a. Mandelsschtam @ oor Mandelstam. in al die vakblaaie en koerante.

    Hierdie Nicolaas van Wijk het ook voor 1950 al ‘n boek oor die Russiese letterkunde gepubliseer.

    Nederlandse boekwinkels en tydskrifte het gewemel van bydraes oor Russiese letterkunde. Als byderhand, op te rape deur daai ander Van Wyk (Louw) uit die provinsiale “backwaters”, wat in “die strewe van die jomger Afrikaanse poe”sie” (Berigte te velde, 1939) met hul “groot en blywende kuns” wil kennismaak.

    In Frankryk is Slawiste verening in 1919 gestig, in Berlyn al 1841. Dit is voor-die-handliggend dat hul uitgebreid gedokus het op studies en publikasies oor Russiese taal en die sprankelende letterkunde (Goue eeu rondom Dostoyevaky, Tolstoy, Pushkin, Silwer era Gumilyev, Akhmatova,Mandelstam,
    Pasternak, Gorki).

    Uit Mandelstam se Gedigte, gedateer 1910, kom hierdie reels ( en die branders lyk my nogal surrealisties, en boonop meta-tekstuele golwe oor wat daar aan’t gebeur is in land en ter begeleiding, in die Russiese letterkunde:

    ‘n Golf breek dodelik wit en trek dan
    ruggelings terug en strek hom weer op
    waag nie om land te raak nie…

    In die golwe ritsel ‘n boot
    soos blare…
    1910

    En uit dieselfde bundel van M in nr 79 dese slotregel (n vers oor

    The fleece crests, a great wave poised to fall (gedateer 1915, voor die 1917 revolusie, oor aanswellende magte op soek na die bloed van “their own tsar”, geskryf soos Ovidius, vanaf die Swart See-kus. In Ovidius se Tristia 4.1.63-64:
    “Ek herken hier ook die drade van my eie lot, drade vir my geweef uit ‘n swart vlies”
    (STONE, vert Robert Tracy 1991:247).

    Ten slotte, ook in Frankryk, al in 1929, verskyn Panorama de la litterature russe contemporaine [Panorama van tydgenooike Russiese letterkunde]. Frans was vir Russe op skool soos Engels vir ons, ‘n bekende tweede taal – vandaar dat die land gou talle Russiese vlugtelinge of “emigres” had, moedertaalsprekers, mense soos die komponis Arthur Lourie, 1891-1966 (ewe oud as Mandelstam, en deel van die kunstenaarskringe in St Petersburg. Bekend vir sy liedere-siklus, Recollection of Petersburg (1963),
    oor 20 jr gekomponeer, gefokus op die digters van die Silwer era, en met skakels na Mandelstam se filosofiese idees in sy outobiografiese prosa (veral oor tyd) in The Noise of Time, 1923.

    Ballingskap in die literere tradisie: wereld op wereld op wereld; spieel op spieel op spieel:
    Homerus -Ovidius – Dante – Mandelstam – NPvan Wyk Louw – Breytenbach

    Tristia op Tristia op Tristia…

  12. Hein Viljoen :

    Jy oortuig my byna, Helize. Maar bied jy hier meer as omstandigheidsgetuienis? Russiese letterkunde was seker “in die lug”, maar of VWL direk met Mandelstam intertekstueel in gesprek was, staan, lyk my, nog nie vas nie. Dat skrywers dieselfde titels gebruik, is wel ‘n aanleiding vir ons as lesers om na ooreenkomste te gaan soek, maar bewys nie noodwendig kontak nie. Miskien het VWL en Mandelstam net by dieselfde outeur aangesluit, nl. Ovidius. Hy was (en is) immers veel bekender as Mandelstam.
    Ek wag dan maar op jou weloorwoë essay.

  13. Helize van Vuuren :

    Dis moontlik. Maar waar het jy ooit meer inligting oor Ovidius en Louw se TRISTIA’S gesien as ‘n verwysing na die Afrikaanse Tristia se buiteblad? En die toestand van ballingskap? Louw self het die verwantskap getut-tut as synde redelik onbenullig: miskien omdat hy wis sy kern-inspirasie leg geheel op ‘n ander plek, in ‘n ander TRISTIA? En dit nie wou seg nie?

    Ek lees nou van voor af, nogmaals.
    (Ovidius, Homerus, Mandelstam…Die Mandelstam oeuvre is wyd, en verwikkeld, juis omdat hy so ‘n enorme Westerse sowel as Russiese, en vele meer, verwysingsveld het).

    Máár: gedenk die duidelike heenwysing in die vers-titel, “Tristia” – selfs ter inleiding van die “Tristia”-afdeling die meisie – uitgekryt as “slet” en “teef”, wat “Tristia” heet…Die “voyou”, “vryersklong of straatvryer, hier die digter, en Tristia meer die digkuns, as ‘n vrou van vlees en bloed”, volgens DJ Opperman in 1972…

    Die los-klos digter wat sy digkuns hiet en gebied, opdrag gee om sonder gewete en “sites” te wees…dan werk als beter tussen hul twee…”Geen geweet”: a) sonder gewete, b)niemand wat weet: en hier leg ‘n puntjie van die ysberg, altemit…G’n hond hier rond wat indertyd wis van Mandelstam se Tristia, of blyke gegee het van so ‘n kennis, dus ‘n vrye vorm om sy eie nuwe Tristia te skryf…nie een wat met Latyn te make het nie (leidraad na Ovidius). Maar ‘n veel meer relevante eietydse Tristia as model – dié van Mandelstam. Vergelyk ook die talle Russiese verwysings in die Afrikaanse bundel(met dank aan Waldemar Gouws vir die attentmaking hierop): soos na
    die skrywer Zostjenko, die “wolfdoring staan en bloei” (eindelose wolf-verwysings in Mandelstam) in die Hongaarse vers, vers XXIV (“Bokant die sagte vriendelikheid…”),en noem maar op. Die kunsteoretiese standpunt-inname in vers XXXiX (“tekens…skreeu nie soos Simbole voor hulle-self uit” is presies wat die Akmeïste (Akhmatova, Tsvetayeva, Mandelstam) ook voorgestaan het. Miskien is die verhouding eerder en meestal geleë in ‘n verwante kunsteoretiese benadering?

    In
    Mandelstam is daar wel eggo’s uit en verwysings na Ovidius, veral sekerlik ook omdat hy in dieselfde streek in ballingskap was, Colchis aan die Swart See – ook waar Jason en sy Argonaute op soek gegaan het na die Goue Vlies.

  14. helize van vuuren :

    Korreksie op growwe lyne h/bo van BALLINGSKAP AS TOPOS in Westerse (met inbegrepe Afrikaanse) digterlike tradisie:

    Homerus -> Ovidius (Tristia 8 n. Chr.) > Dante –> Mandelstam (Tristia 1922) -> Celan (vert. Tristia-verse v Mandelstam, 1959) – > NP van Wyk Louw (Tristia 1962) – > Breytenbach

  15. Helize, waarom open jy jou lysie van banneling-digters met Homerus? Eintlik weet ons niks van sy lewe nie.

  16. helize van vuuren :

    Oor Odusseus se twintig jaar in ballingskap.
    Oor sy DIE ODUSSEIA ‘n ykpunt is vir skryf oor ballingskap,
    in alle groot skrywers na hom, soos Ovidius
    (bv.Boek IV Tristia reels 31-32, vert W Hoogedoorn, 1998:
    “Het vreemde lotussap is door Odysseus’ mannen
    Met smaak beproefd, hoewel het schade deed”
    OF
    Mandelstam, in sy Tristia-vers
    “Uit die fles ‘n stroom: soos goue heuning wat daar vloei”
    (dit beskryf ‘n mooi dag met wyn, tee in die tuin, sig op wingerde, ‘n helder kamer en die Griekse gasvrou, “nie Helena nie”, en eindig dan so:
    Waar is jy nou, jy die Goue Vlies, waar is jou tuiste?
    Swaar golwe, die reis was lank, slegs geruis wat bly,
    En die skeepsbuik verlatend, met seile deur die see tot wond gewrewe,
    Keer Odysseus terug, ryk vervul net met ruimte, met tyd.

  17. Marianne de Jong :

    Die wolfdoring-beeld in Van Wyk louw se Hongarye: november 1956 in Tristia berus waarskynlik op rol wat die wolfdoring-figuur in die Hongaarse geskiedenis (of vertellings daarvan) speel. Die ontmaskering van die Russiese kommunistiese regime wat sy wolf-aard demonstreer met die inval in Hongarye in 1956 en die wolf-motief verbind dit egter potensieel met Mandelstam se bekende gedig oor sy “Wolfshund-Jahrhundert”. Dit is ook een van die gedigte waarin Mandelstam die Stalinistiese vervolging waarvan hy die slagoffer was, satiriseer en ontmasker. Dit was in Duits beskikbaar as ‘n vertaling deur Celan wat aldus Timoschkova in 1962 voltooi is en formeel die titel An den steigenden Zeiten (Aan die komende verhewe tye; deurgaans my vertalings in Afrikaans) gekry het. Die belangrikheid van hierdie wolf-figuur in Mandelstam se poësie word bevestig as sy weduwee se eerste biografie oor die lewe en werk van Mandelstam in ballingskap in Duits as “Das Jahrhundert der Wölfe” (Die eeu van die wolwe) uitgegee word. Dat VWL die Celan-vertaling kon geken het, is onwaarskynlik, maar, soos Helize van Vuuren ook meld, is die gedig reeds in 1923 (ander bronne meld 1931 en 1933) geskryf en verskyn dit reeds in 1955 (Helize gee dit as 1956) in Engelse vertaling in die versamelbundel van Filippov en Struwe by Chekhov Uitgewers in New York, dus voor die publikasie van Tristia in 1962. Ek kon nie vasstel of die Wolfshund-gedig daarin voorkom nie. Die gedig gee self geen direkte aanleiding om ‘n VWL-Mandelstam-konneksie te veronderstel nie. Nogtans sou ‘n mens ‘n vergelyking tussen die twee gedigte moet doen voor die moontlikheid van so ‘n Mandelstam-effek op VWL afgeskryf word.
    Die (titellose) Engelse vertaling van James McGragen (2013) lui soos volg:
    For the resounding valor of ages to come,
    For the sake of a high race of men,
    I forfeited a cup at the feast of my fathers,
    And merriment and my honor.
    On my shoulders pounces the wolf-hound age,
    But I am no wolf by my blood;
    Thrust me, instead, like a hat up the sleeve
    Of the Siberian steppe’s warm fur coat,
    So I can’t see the coward or the soft bit of grime
    Or the bloodied bones on the wheel;
    So that all night the blue-fox furs might shine
    For me in their primeval beauty.
    Lead me into the night where the Yenisei flows
    And the pine reaches up to the star,
    Because I am no wolf by my blood
    And only my equal will kill me.

    March 17–28, 1931

    Ek haal net reëls 5 – 12 van Celan se vertaling in Duits aan: Mein Wolfshund-Jarhundert – mich packts, mich befällts –/Doch bin ich nicht wölfischen Bluts./Mich Mütze – stopf mich in den Ärmel, den Pelz/Sibirischer Steppenglut./Dass dem Auge, das Kleinmut und Jauche geschaut,/Das Rad mit dem Blutknochen-Naben/Nachtlang der Sternhund am Himmel erblaut,/ schön wie am Ursprungsabend.
    Ek vertaal dit as: My wolfhond-eeu – dit bespring my, oorval my -/maar my bloed is nie wolwebloed nie/ ek met my muts – pak my in die moue, die pels/van die gloeiende Siberiese steppe/sodat die oog wat kleinlikheid en vullis gesien het/die wiel met sy bloedbeen-naaf/nagtelank deur die sterrebeeld van die hond verhelder word/mooi soos die aand in die begin..
    In VWL se gedig verwys Hongarye na die Russiese inval in November 1956 edurende die Koue Oorlog toe ‘n spontane opstand teen die kommunistiese regime bloedig onderdruk is. Die beeld van wolf en rooflied sou as die onderliggende bedreiging – van heerssug en onmenslikheid – van Russiese kommunisme gelees kon word. Die gedig is ook ‘n waarskuwing. Die bloeiende wolfdoring verwys nie net na die spesfiek Hongaarse voorbeeld nie maar ook na die brutaliteit van onverskilligheid gemasker as diplomasie. Die groot Westerse moondhede het Hongarye in die steek gelaat. In ‘n direkte vertaling van Mandelstam se gedig deur Natascha Timoschkowa, ‘n vertaalkundige, kom terme van afkeer soos Feiglinge” en “glibberige Widerlinge” ook voor. Die gegewens wat die agtergrond van VWL se gedig vorm, tipeer ook die konteks waarin Mandelstam hom tydens die skryf van sy gedig bevind het. Hy is deur Stalin vervolg voor hy gevang (1933) en na Siberië verban is (1935). Hy is deur mede-skrywers in die steek gelaat. Daar is ooreenkomste wat toevallig kan wees, maar nogtans tref . As VWL skryf “ons weet dat ‘n kinderboudjie nou nie eers meer ópval” herroep dit “das Rad mit dem Blutknochen-Naben”. Mandelstam val die valsheid en verval van sy tyd aan met terme soos “Kleinmut und Jauche” (dierlike, ook menslike afval of uitskeiding) en stem ook hierin met VWL se gedig ooreen. Hierdie ooreenkomste versterk die moontlikheid wat Helize van Vuuren aan die orde stel, naamlik dat VWL meer teruggryp na Russiese werk uit die Stalinistiese tyd as wat vermoed is.

  18. Helize van Vuuren :

    Twee klein punte, Marianne, by jou boeiende stuk:
    1. die sleutel tot Mandelstam se digkuns, veral die .moeilike laatwerk, lê waarskynlik in sy literêr-kritiese en -teoretiese essays, asook sy outobiografiese en ander fiksie (o.a.The Noise of Time, 1923, Die Egiptiese seël, en Oor Gespreksgenote.)
    2. In Nov 1933 het hy die Stalin-ode geskryf, en a.g.v. hiervan is hy in Mei 1934 gevangene geneem en vir vier dae lank in die Lubyanka, Moskou gemartel en ondervra.
    In Nov 1938 is hy gedeporteer en oppad na Siberië dood, op 27 Desember 1938.(sien JM Coetzee Osip Mandelstam and the Stalin Ode, 1991,
    https://rep.ucpress.edu/content/35/72)

  19. Marianne de Jong :

    Dankie vir die korreksie en informasie Helize. Ek het sy eerste verbanning na Cherbyn (in 1934 volgens een bron) verwar met die laaste een na Voronezh. Ander datums was vir my soms verwarrend en dit lyk of ‘n mens bronnestudie moet maak om dit betroubaar te maak. Ek sou graag wou weet of jy die vergelyking van Hongarye: November 1956 met die Wolfshund-gedig sinvol vind. Dele van die Stalin-epigram is ook vergelykbaar. Ek sien uit na jou essay. Weet jy al waar dit gaan verskyn?

  20. helize van vuuren :

    Wolfhond,strandjutwolf, hond van God, wolfdoring wat bloei – ja, eggos alom, drade aldeur – ook met Estiese vers wat ek onlangs vertaal het (spreker verander v hond in wolf en terug, daar in Estonië)…dit wemel van honde en wolwe te make met jag in troppe (wolwe) en mens se gevaarlikste vyand ooit in Oos-Asiese lande…en dan die makker hond (en hondevel by Celan en verder terug by die oud-Egiptenare)…

    Keine Ahnung, oor gewaande hipotetiese essay…Nog net n spookasem in my sonsit-gedagtes…

  21. Marianne de Jong :

    Ja inderdaad te veel wolwe en honde in VWL se verse, maar ek sal self nog rondsnuffel na meer interpretasies van Hongarye se wolf.

  22. helize van vuuren :

    Nee, nee: dit was die tyd van die Wolf – gewelddadige oorname van Pole ook (vgl Milosz se The Captive Mind, 1953:
    The philosophy of History emanating from Moscow is not just an abstract theory, it is a material force that uses guns, tanks, planes, and all the machines of war and oppression”. En: “terror ruled in Warsaw (…) (citizens) became hunted prey”.
    Gedenk wolftroppe en hoe hul des jare op mense gejag het…Nie nodig om e soek nie. Die beeld is glashelder.
    In 1951 verskyn boonop Arendt se The origins of totalitarianism – Fascisme, Stalinisme – en ook apartheid onder haar loep. Wolfgedrag ten overvloed…Louw registreer veral in sy odes die verwoestende magswellus en geweld. Soos DJO in Dolosse (op die keper beskou in “Vuurbees”)

  •