Johann Wolfgang von Goethe (1749 – 1830). Vertaling in Afrikaans

 

 

 

Johann Wolfgang von Goethe. Vertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Robert Schall

 

 

 

Ein Gleiches

 

Über allen Gipfeln

Ist Ruh‘,

In allen Wipfeln

Spürest du

Kaum einen Hauch;

Die Vögelein schweigen im Walde.

Warte nur, balde

Ruhest du auch.

 

 

 

Wandrers Nachtlied

 

Der du von dem Himmel bist,

Alles Leid und Schmerzen stillest,

Den, der doppelt elend ist,

Doppelt mit Erquickung füllest,

Ach, ich bin des Treibens müde!

Was soll all der Schmerz und Lust?

Süßer Friede,

Komm, ach komm in meine Brust!

 

 

 

Ook jy

 

Oor al die hoogtes

heers rus,

en in die leegtes

lê die mis

roerloos en grou;

die voëltjies is stil in die vlei.

Wag net, heel gou,

dan rus ook jy.

 

 

 

Stapper se naglied

 

U wat van die hemel is,

al ons leed en smarte stil,

dié wat dubbeld droewig is,

dubbeld met verkwikking vul;

ek is moeg vir die gedoente!

Waarvoor al die smart en lus?

Soete vrede,

kom, ag kom dat ek kan rus!

 

 

 

© Robert Schall, 2020

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Johann Wolfgang von Goethe (1749 – 1830). Vertaling in Afrikaans”

  1. Hier is Gunther Pakendorf se vertaling van “Ein Gleiches” wat myns insiens veel nader aan die oorspronklike kom:

    Op dieselfde noot

    Oor alle berge
    Is daar rus,
    Oor alle bome
    Is jy skaars bewus
    van die ligste bries;
    Die vo”eltjies raak stil in die woud.
    Wag maar net, nou-nou
    Sal jy ook rus.

    (Woorde soos pluimsaad – Duitse gedigte uit agt eeue, Perskor, 1990)

  2. Ek stem met jou saam, Daniel, dat Pakendorf se vertaling nader aan die oorspronklike is. Maar is dit noodwendig ‘n aanwins?

    Pakendorf het in groot mate die atmosfeer van die Duitse landskap behou, terwyl Schall ‘n Suid-Afrikaanse landskap uitbeeld met die “vlei” en die “mis” (wat nie in die Duitse gedig voorkom nie). Ook “hoogtes” en “leegtes”. “Woude” is ook nie baie tipies van ons landskap nie.

    Ek dink jy verstaan dat ek nie hier “beter” of “swakker” bedoel nie. Dit is in die aard van vertaling: ‘n gedig kan op soveel verskeie maniere “weergegee” word. En dan sal ‘n kritikus moet bontstaan om aan te dui dat een weergawe “beter” is as ‘n ander.

    Dan ook: ‘n vertaling kán swak gedoen word. Die vertaler kan die gedig verkeerd interpreteer of sy vertaling kan in flou, spanninglose taal gestel word. Een van Pablo Neruda se vertalers word byvoorbeeld daarvan beskuldig dat hy eintlik Neruda se gedigte herskryf het in plaas van getroue vertalings aan te bied.

    Na my mening het Schall se vertaling hierbo meriete, al wyk dit nogal taamlik af van die presiese woordbetekenisse in Duits.

  3. Robert Schall :

    Beste kommentators, ek is en was deeglik bewus van Gunther Pakendorf se vertalings van albei verse, “Ein gleiches” en “Wandrers Nachtlied”, en ook van Daniel Hugo se artikel oor Pakendorf se vertalings hier op die einste Versindaba (https://versindaba.co.za/2009/08/12/oor-vertaling-van-duitse-gedigte/).

    Wat “Ein gleiches” betref het ek die vers doelbewus na Suid‐Afrika “getransponeer”, met die “mis in die leegtes” en die voëltjies in die “vlei”; ek het hier aan ’n herfs‐ of wintertoneel in die Oos‐Vrystaat gedink, die blik vanaf ʼn koppie of berg. Dankie aan De Waal Venter dat hy dit ook so sien.

    Terloops, Marlene van Niekerk het in haar vertaling die vers nog radikaler “vervreem” as ek, tot ʼn wiegelied (sien Daniel Hugo in bogenoemde artikel). Daniel Hugo het geen beswaar daarteen gehad nie, maar soos ma Pa my gereeld vermaan het, quod licet Iovi, non licet bovi.

    In elk geval, dank aan albei kommentators vir die belangstelling, en natuurlik stem ek heelhartig saam met Daniel Hugo dat Gunther Pakendorf se vertaling veel nader aan die oorspronklike is (as woord-vir-woord “ooreenstemming” die doel is) as myne.

  4. Leendert Dekker :

    Pakendorf se gedig is letterlik baie korrek. Die vertalers Daniel en De Waal se kommentare is korrek. Hoe ver die kultuur van die brontaal in dié van die doeltaal verander mag word, is sekerlik vir hulle ‘n daaglikse kwessie. Hier is ‘n “vertaling” wat ‘n volledige verkulturering is, die verafrikaansing van taal, milieu en ervarings wat vreemd is aan die Duitse oorspronklike, maar wel met suiwer transponering van die tema.
    Afgesien daarvan of dit as vertaling kwalifiseer, hoofsaak is dat prof. Schall se weergawe ‘n deurdagte en gevoelige verryking van die Afrikaanse poësieskat is. Dalk kan hy oorweeg om sulke vrye omwerkings nie weer as vertalings te betitel nie?

  5. Waldemar Gouws :

    Beste prof. Schall, sou mens nie eerder die “du” in die eerste reël van “Wandrers Nachtlied” met ‘n “jy” wou vertaal nie – gegewe die hedendaagse verskynsel dat baie heel familiêr omgaan met die transendente?

    Dankie vir die Afrikaanse Goethe.

    Groete

    WG

  6. Robert Schall :

    Beste Mnr Gouws, na my gevoel behoort dit “U” te wees. Ek dink Goethe het die gedig in 1776 geskryf, toe sou niemand, vermoed ek, God of die Here met “jy” (of “jij”?) aangespreek het? Boonop is ook andersins die taal van die oorspronklike teks en van die vertaling redelik verhewe, na my gevoel.
    Groete
    Robert

  7. Waldemar Gouws :

    Baie dankie vir die verklaring, prof. Schall. Ek sien uit na u verdere werk.

  •