Cas Vos. Corona, o Corona

 

Ons slaan ons hanne verstom tesame

oor miljoene der miljoene laaste name

wat jy sonder afspraak besoek

en vlytig opskryf in jou Dodeboek.

 

As iemand net begin proes

en hom met ’n masker beskerm

sal jy sonder om jou te ontferm

die armsalige opsoek wat hoes.

 

Dis nou jou kans, monster van klip

om blindelings keellangs binne te glip

en die dodelik sieke wat stik en sterf

onsigbaar vir jou Dodeboek te werf.

 

O Corona, ons gaan jou nog kry,

al is dit tussen vasbyt en knars.

Jy, geslepe dwaalster, gaan bars:

alleen sal jy in jou Dodeboek oorbly.

 

© Cas Vos, 2020

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Cas Vos. Corona, o Corona”

  1. Louis Pienaar :

    Uitstekende gedig wat ons hoop gee in hierdie moeilike tyd.

  •