N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé

 

 

 

 

Die probleem met Parys

“die Waarheid is ’n ént oud” (uit: “Meifees in Amsterdam”, N.P. van Wyk Louw)

 

Daar is nie meer ’n Parys in vandag se wêreld nie.

Vir Parys om te bestaan benodig jy ’n middelpunt.

En dís teenstrydig met vryheid van spraak.

 

Daar is geen Parys meer nie,

wel ’n parfuum genaamd Paris

’n snuifie sonder oorsprong wat halfpad ophou.

Soos die onberigte, gewiglose tragedie

van die rondvlieënde insekte;

of ʼn baie vae, ewigdurend glimlaggende geheuesiekte.

 

Daar is ook geen Berlyn nie.

Die vergelyking wat die proporsies vasgestel het,

is afgebreek.

 

Vort na Amerika, waar

dit E = mc² geword het.

Waar die drywende ² ʼn ballon aan ʼn toutjie

in ʼn sirkuskesie se greep is

voor ʼn see van kinders, wat giggel en lag.

En hoe droefgeestig lyk hy nie!

 

Gehoor wat sê al die Kavafisse?

“Vergaan jy op jou eie dorp, het jy orals vergaan.”

 

Meentdorpies, soos ʼn engeleskaar,

lui die nuwe wêreld in.

En almal heet Parys.

Met skemer val die ogies toe; as die wêreld skuins draai,

soos ʼn Barbie of ʼn winkelpop,

en dáár val die hovaardige plastiekogies weer oop

 

as hul staan raak op die kaggelrak.

Daar is vele klein dorpies genaamd Parys.

 

Nuwe bakterieë-Paryse;

die kolle-van-Dalmasiër-Paryse,

wat paarlustig aanteel.

 

Parys

in die mond van ʼn hakkelaar.

ʼn Karsinoom genaamd Parys.

 

Was jy nog nooit in Parys nie,

weet maar: jy wás.

 

Dis soos met Napoleon

se besettings, kom kyk!

Hoe marsjeer ʼn menigte Paryse

volmaak in pas

gelyktydig verby.

 

 

© Charl-Pierre Naudé, 2020

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé”

  1. Anna Bijns :

    Ja – wragtag formidabel, jou vers…maar eers as ‘n mens dit die tweede maal lees, en besef, hoe Pa orals nog rys…Nimmereindigend, die reis.

  2. Waldemar Gouws :

    Die gedig is ‘n stuiter. Dit stuit my in my spore (nie teen die bors nie). ‘n Verleier, van inbors, dink ek.

    Ek sien iemand sê dat vryheid van spraak impliseer dat die wêreld nie gedefinieer is nie.

Los kommentaar

 

*

  •