N.P. van Wyk Louw 50. Antjie Krog
ONTMOETING TUSSEN LADY ANNE BARNARD AND SAMUEL JOHNSON
“om te roei sonder hawe.”
notas van Lady Anne Barnard vanuit Kaap Goeie Hoop
om die Swart Dik tuisgebroude Kragsop van Sparta te ontkom
moes ek dikwels aansit by die tafels van mans deur vrouens vir mans
om uitgestal te word aangebied as maagdelike baarmoeder
vir welgestelde adellikes wat bie om my bloed te meng
met dié van hertog of markies
& hulle kom, o ja, hulle het gekom
die hooghede stormloop soos antilope
& hoewel my hart dit werd is, was my kop verward
(ouer mans gebruik mos die double entendre:
wat beteken ek is nie veronderstel om hul ontugtige
gedagtes te snap nie, maar mag ook geen beswaar hê nie)
gelukkig:
ek het gou geleer
& slaag met gemak daarin om
die beskroomde te bevry van inkennigheid
die weifelende te lok die ydele tot verstomming te koketteer
die egoïs te ontwrig die gevatte te plesier
die beledigende te ontpit en die meester te uitoorlê
dus was ek gereed toe die Werklik-Belangrike Man opdaag
aan Huis van die Skotse Ete-rati: die Engelse taal
se MUrsus Major se Kolos se Intellektuele Knater
geplaas oorkant hom na links
kon ek my uitkyk aan sy beroemde profiel –
’n berg van grillige scrofula-wanstaltigheid
sy vel dofgeel sy bewegings paraplegies
sy houding selfingenome
sy sinne uitgespreek asof almal dit wil herhaal
vir ’n uur en ’n half was hy stil
soos hy met gepaste venyn die dierlike in homself voed
vanselfsprekend het ek toe reeds geweet wat die hitte van sy brein geskryf het hoe sy woordeskat kan fluweel die verruklike kan blootlê hoe donker hy kan verpels ook die angswekkende die diepgevreesde kan aftas hoe hy sy werk onverklaarbaar verras met beginsels hoe hy wedersydse brooswees wedersydse uithou verstaan en nooit versag word deur skoonheid of oorweldig deur status nie sy werk hou my gevange dus vind ek grasie in sy wanstaltigheid so vol uitgeslape strategieë om te verbyster en aandag te ontvoer
ek wag dus my kans af
wakkergemaak deur die Leeu self vra ek ongevraagd ’n vraag
wat soos ’n blou visvanger oor die tafel flits
hy draai sy volle aandag stadig na my toe
gluur na my met sy soetskeel oog deur die hare van sy pruik
peil my waarde terwyl hy die mes onhandig in sy hand om en om rol
maar die dikbek-dier in hom is gewek
ek moet vinnig vlei
& gebruik sy begaafdheid om sy nederige geboorte skoon te vee:
‘would not the Son have excused the Sin, Doctor?’ vra ek
die dosis skop in & hy word oordadig toegeeflik
ek het nog nooit weer aan daardie aand gedink nie, tot nou
– hier in Afrika langs ’n watervalpoel die kleur van bier
dit het gistraand gereën
& die poel, ag die poel stort oor en storm halsoorkop af in die vallei van weligheid –
ek het inderdaad my eie irritasie vergeet
oor die belaglike moeite met die tafelrangskikkings
die kos, die na-etekonsert
& hoe die mans altyd effe ergerlik inkom
omdat hulle gesprekke onderbreek is
& hoe as vrou
jy jou sintuie kloof om vas te stel:
waarvan sal hy hou? wat sal hom bekoor?
wat sal jou uniekheid na hom oorbring?
wat sal sorg dat hy nie sy rug op jou draai nie?
wat sal hom laat oogkontak maak?
wat is dit wat maak dat mans so gemaklik planete op hulle vingerpunte spil?
ek het eintlik nie weer aan dié aand gedink voor nou nie
’n verlate, diepberoofde vrou hier tussen groot geelhoutbome
fynbos tarentale olyflysters en ’n malagietgroenjangroentjie
soos ’n juweelhangertjie in die blare
ek probeer die Ou Beer omvat vashou aan sy volheid
sy totale vertroue dat hy iets onweerlegbaar beteken in die lewe
vir my as uitgeskuifde/vervangde is dit nie meer moontlik nie
alle hoop het my verlaat
ek staan op en stap die watervalpoel binne as ’n laaste kontinent
ingestel dat dit die einde is in hierdie groot rooskleurige vloed klipbak
bokant my knak een blou-verinnigde bergkrans in die ander
ek buig my knieë
& gee die water my verslae inhoud
stadig sak ek af
afgeslote deur ’n bruisende basaltgebedde stilte
my mond word water
my elmboë leem
uit my oë wrong donker oranjekleurige modder
ek vly my neer op die stroombed
my arms omhels ’n rots as my dode-bark
hou my! vat my! vul my vir altyd!
dat hierdie maalkolk van begeer van selfvermorsing kan oorgaan
dat die angel van oorgawe die finale inperking binne-priem …
… agheregod bars ek die oppervlakte uit in doodsangs en woede
selfveragting en woede woede woede woede
my stem brul oor die water waar vinkneste soos snikke hang
© Antjie Krog, 2020 (versnotas, op uitnodiging van Versindaba geskryf, met N.P. van Wyk Louw se geboorte 114 jaar gelede in die agterkop)
Lady Barnard,u moet in vade ek bedoel moedersnaam asb. nie ophou om so te protesteer nie.
Hier is my gewaarwording by die lees van hieedie gedig, deur Antjie Krog, geplaas vir vandag, op ‘n dag soos vandag ‘n Woordmeester, soos Van Wyk Louw was, kan slegs werklik behoorlik gehuldig word deur ‘n uiting soos hierdie, hierbo, wat so totaal anders is as wat hy gedoen het – ten einde die estetiese “skokke” wat hy gelewer het ewe verrassend, en op gelyke vlak, te vergestalt.
Dit doen beslis iets om isolasie ligter te maak …
Ek moet byvoeg, ek het elke gedig wat tot dusver in hierdie reeks op hierdie forum geplaas is, geniet en gewaardeer.
En, ook belangwekkend en ewe interessant: Natuurlik gaan dit nie net om die estetiese nie, maar om die etiese. Die dialektiek wat ‘n eietydse gedig soos bostaande met ‘n punt in die verlede aangaan, die Van Wyk Louw-punt kan mens dit seker maar noem, is ‘n sy oordenking dubbeld en dwars werd.
Woorde is darem nie heeeeltemal kragteloos in die stryd teen die Vrese nie, is dit? 🙂