Elsa Joubert reis nie verder

 

 

 

Die legendariese skrywer Elsa Joubert, outeur van ikoniese werke soos Ons wag op die kaptein, Die swerfjare van Poppie Nongena, Die reise van Isobelle, ‘n Wonderlike geweld en Spertyd, is op Sondag 14 Junie 2020 in die Mediclinic in Tuine, Kaapstad oorlede.

 

Die skrywer van Die swerfjare van Poppie Nongena se lewensreis het Sondagmiddag 13 Junie tot ‘n einde gekom. Elsa Joubert is gister, volgens haar seun, Prof. Nico Steytler, in die Mediclinic in Kaapstad aan Covid-19 oorlede. Dit nadat sy enkele weke gelede ʼn wyd gepubliseerde ope brief aan haar geneesheer, Hans Woerman, geskryf het waarin sy versoek dat die streng inperkingsmaatreëls wat in hierdie tye onder andere vir bejaardes geld om die Covid 19-virus te beperk, verlig word. Sy sê die besoeke van haar kinders is al waarna sy in die kort tyd wat sy nog het om te lewe, uitsien.

Elsa Joubert was met die skrywer Klaas Steytler getroud wat in 1997 oorlede is. Sy laat twee dogters en ʼn seun na, asook haar kleinkinders.

Elsabé Antoinette Murray Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Sy was veral bekend as ʼn Sestiger wat die politieke situasie in dié onrustige jare in haar vroeë romans en kortkuns uitbeeld. Ons wag op die Kaptein, wat in 1968 gepubliseer is, beeld die spanning in Angloa uit terwyl die bevolking wag op die koms van ʼn kaptein uit die Kongo. Dit is ʼn boek wat skok, verontrus en ontroer en die Afrikaanse lesersgehoor in die onbekende aktualiteit van die Afrika-problematiek intrek. Dit was een van die eerste Afrikaanse boeke wat prominent Afrika-problematiek en -politiek in die brandpunt stel en is in die Afrikaanse establishment met gemengde gevoelens begroet – veral skok en ongeloof vanuit konserwatiewe kringe.

In die Afrikaanse letterkunde is Elsa Joubert veral bekend om haar later werk wat as “betrokke literatuur” gekenmerk word. Hier dink ek veral aan Die swerfjare van Poppie Nongena wat in 13 tale vertaal is, maar as film en drama veral die aandag getrek het. Dié aangrypende roman, wat as een van die 100 beste romans van die twintigste eeu beskou word, vertel die verhaal van ʼn Ciskeise vrou wat ingevolge die “paswet” en die burokratiese toepassing van dié apartheidswet, nie in die stad mag werk nie, en uiteindelik daartoe lei dat sy haar in die Ciskei, ʼn land waar sy nog nooit vantevore was nie, moet gaan vestig – sonder ʼn inkomste om vir haar kinders te sorg.

Haar roman Die reise van Isobelle kan waarskynlik as die hoogtepunt van haar oeuvre beskou word. Tot ʼn mate is hierdie roman die kulminasie van Joubert se omvangryke reis-oeuvre. Dit kombineer die postkoloniale reismotief met die feministiese diskoers en ondermyn die koloniale weergawe van die reisverhaal soos dit vantevore deur haarself en ander Afrikaanse skrywers beoefen is op so ʼn subtiele wyse dat dit dikwels deur manlik-georiënteerde kritici en resensente misgelees is. Die roman, wat met die Herzogprys bekroon is, is inderdaad ʼn grootse familiekroniek wat bykans oor ʼn eeu strek. Dit lui ʼn tradisie van reisverhale in Afrikaans in wat vanuit die feministiese fokus geskryf is binne die postkoloniale/postmodernistiese tradisie.

Haar laatwerk, ʼn Wonderlike geweld en Spertyd is outobiografiese romans wat insiggewende lig werp op die skrywer as sodanig, maar ook op haar lewensfilosofie en haar fokus op ʼn tydperk wat vir die meeste lesers buite hulle ervaringswêreld val.

Volgens my mening is Joubert se kortverhale egter haar sterkste nalatenskap. In Dansmaat val die klem in al die verhale op die lyding en smart wat mense van mekaar vervreem as gevolg van Suid-Afrika se politieke bestel. Hierdie bundel is vir my een van die beste illustrasies van wat in die letterkunde bekend staan as die New Journalism waarin feit en fiksie op ironiese en siniese wyse met mekaar vervleg word. Twee vroue fokus op die innerlike reis van twee vroue wat hulle in afgeleë dele van die wêreld bevind.

Altyd word Joubert se figure met deernis en diep menslike begrip geteken. Jouber was nie ʼn politieke feminis nie, haar vrouefigure het nooit propaganda-karikature geword nie, maar het ʼn eie aard gehad wat vantevore deur baie min, indien enige, Afrikaanse skrywers uitgebeeld is. In dié opsig toon Joubert se karakters ooreenkoms met dié van ME Rootman. Joubert was, soos MER, haar tyd ver vooruit, veral wat betref die fokus op vrouefigure en die wêreld van die vrou.

In haar leeftyd ontvang Elsa Joubert talryke pryse vir haar werk, onder andere die Herzogprys en die orde van Ikhamanga in Silver vir haar hoogstaande literêre prestasies en bydrae tot die joernalistiek in Suid-Afrika.

Joubert se intellek was verstommend en haar algemene kennis het, sonder dat dit opgedring is, haar werk verryk. Met haar helder, betogende skryfstyl het sy daarin geslaag om Afrikaners se insigte in die politieke situasie van Suid-Afrika te verryk en betrokke te kry. Sy het ʼn gedagtewêreld oopgeskryf wat my as leser met agting en verwondering vervul. Sy het ʼn besondere bydrae gelewer ten opsigte van vernuwing van styl, tematiek en teoretiese onderbou in die Afrikaanse prosa. Haar stories was aangrypend, ontroerend, nuut en soms skokkend. Dikwels eksoties. Regte mense kan met haar karakters identifiseer. Soos sy haarself as buitestander uitbeeld in haar outobiografiese werk, is haar karakters ook buitestanders wat denkend die wêreld verken – hulle is dikwels vroue wat hulle identiteit stadig en pynlik ontdek. In Die reise van Isobelle word soos volg oor een van die vrouefigure berig: “Sy vind haar liggaam ʼn vreemde las wat sy met haarself moet saamdra. (…) Maar die las van haar verhouding met haar sigbare self is onverwerkbaar.”

Elsa Joubert se afsterwe laat ʼn groot leemte in die Afrikaanse literêre gemeenskap. Al was sy nie meer aktief skrywend nie, was haar teenwoordigheid, haar aura, voelbaar. Haar spore lê in die literêre artefakte van haar opvolgers en haar teenwoordigheid sal nog lank deel bly van die kollektiewe geheue waaruit die Afrikaanse literêre sisteem gevoed word.

In hierdie tye het ek so dikwels aan Elsa Joubert, die klein, brose vroutjie, gedink, en aan die brief wat sy ʼn paar weke gelede aan haar dokter geskryf het. Sy skryf oor die verbintenis tussen ouer en kind wat deur die isolasie verlore gaan. Sy sê sy kwyn daaronder, dat telefoonoproppe, skype en whatsapp nie dieselfde is as ʼn persoonlike kontak met jou kind nie. Sy skryf namens alle mense in ouetehuise wat nie besoekers mag ontvang nie.

En nou het Elsa Joubert, een van die laaste Sestigers, se swerfjare tot ʼn einde gekom. Haar reise op aarde is voltooi. Maar haar voetspore lê diep ingebed in die Afrikaanse literêre sisteem en in die harte van haar lesers.

 

(Marlies Taljard 15 Junie 2020)

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •