Charl-Pierre Naudé. Wat het geword van Ursula?

 

Ek is deur die redakteur van Versindaba, prof. Marlies Taljard, genader om bydraes te maak rondom die kwessies rakende digkuns. Met graagte.

Omdat digkuns op sy beste wydlopend in sy imlikasies is, moet mens versigtig wees om nie “oor enige iets” te skryf nie. My stukke gaan gestroop en vereenvoudig wees met die klem op ontledingsplesiertjies. Oor letterkunde, of iets aansnydends.

Ek wil nou ietsie sê oor wat skuilgaan in die mees opvallende stryd wat woed in Suid-Afrika. In vele opsigte is dit ’n vertraagde Koue-Oorlog (dit weet ons).

Kant 1 se saak: Ons moet die stelsel grondiglik verander sodat dit deur almal, ook die mins bevoorregtes, besit word. Kant 2 se saak: Die sosialisme en kommunisme ontneem mense die reg tot besit en sodoende hul begeerte om mee te ding. Dan val die samelewing uitmekaar.

Wat word verswyg deur die kante?

Kant 1: Die sosialistiese idee van gemeenskaplike besit word in Afrika nie onderskei van die oorgeërfte realiteit van feodale besit nie: onverkosenes wat namens die verdruktes die besitplesier beoefen. So was dit in Rusland en China ook. Al drie scenarios was losweg feodale samelewings, en niks is meer vanselfsprekend oorskinkbaar van die potjie na die pannetjie, as feodalisme na sosialisme nie.

Wat HET geword van Ursula?

Kant 2:

As mense iets besit sal hulle dit beskerm en daarvoor opstaan. MAAR dan moet mens byvoeg … Almal moet allereers die waarde van besit besit. Om die waarde van besit te besit moet jy jou eie begeerte vir besit besit. Jou begeerte moenie aan jou baas of jou verteenwoordiger behoort nie, maar aan jou. Werker, baas en verteenwordiger is medebesitters van die waarde van besit. Dit verander ’n hele rooster, ’n hele erfenis van hoe ons met mekaar gehandel het, na iets anders. Die aard van Die Opdrag, in sy ou vorm, verdwyn. Dit word meer ’n saak van onderhandeling. (En ja, ek sien baie duidelik die probleme wat dit op sy beurt kan skep, veral met mense wat nog nie die waarde van medebesit geïnternaliseer het nie, maar dis onvermydelik.)

Die histories verontregtes in Suid-Afrika op grondvlak – ek praat van die mense wat in ons midderlklas-huise werk en die werker op grondvlak, byvoorbeeld (nie Cosatu se leiers nie) – is steeds nie genoegsaam besitters van hul eie begeertes nie. Dit is iets wat verswyg word. Hul lewensbegeerte word nie genoegsaam deur hulself besit nie. En dis ’n vreeslike, mensonterende situasie wat die orde van geregtigheid – daarmee bedoel ek nié die regering nie – in sy guns moet probeer swaai.

Ek hoor duidelik die “argument” dat nie alle mense noemenswaardige lewensbegeertes het nie. Sjoe. Ek reken hulle het dit minstens in embrioniese vorm.

Dus, as mens mooi gaan kyk wat ágter hierdie twee kante se onderskeidelike sake skuil, sien jy min of meer ’n ontekenning van dieselfde waarde, maar net in twee verskillende gedaantes!

Die ding wat ons saambind … nè?

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé. Wat het geword van Ursula?”

  1. Maria Snyman :

    Die ding wat saambind? … Partykeer val daar mos ‘n rympie uit ‘n mens uit …

    Wat het van Ursula geword?

    Sy het in 1938 begin werk
    Sy sien aksie gedurende die Tweede Wêreld Oorlog
    in die Noord en Meditireense Seë
    In 1944 word sy oorgeplaas na die Soviet Vloot
    waar sy V-4 genoem word
    Sy werk daar tot 1950
    toe sy teruggegee word aan die Verenigde Koninkryk
    waar sy as skroot verkoop word

    Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/HMS_Ursula_(N59)#:~:text=The%20submarine%20entered%20service%20in,for%20scrap%20in%20May%201950

  2. CPN :

    Baie interessant.

  3. CP Naude :

    Studie van vermiste skakels … Wonder of Peter Blum ….Maria?

  •