Charl-Pierre Naudé. ’n Literêre anekdote

Ek het vanoggend ’n bevlieging gekry om op soek te gaan na ’n sekere ongepubliseerde sonnet van my. Daar is verskeies. Die sonnet het gehandel oor die visioene van die Sweedse mistikus Emmaneul Swedenborg (1688–1772). Hy was een van die fassinerendste denkers en dromers, en via die Duitse geestesgeskiedenisfilosoof Hans Blumenberg, wat ek tans lees, het sy naam weer by my opgedoem.

Ek het jare gelede ’n sonnet oor Swedenborg geskryf. Een van sy visioene kom daarin voor. Ek het ook sy Heaven and Hell besit. Dit het weggeraak. As iemand weet waar ek ’n nuwe kopie kan kry, laat weet my gerus. In elk geval, ek kan geen elektroniese kopie van die sonnet opspoor nie, ek hoop dit bestaan nog in my trommels. Maar toe kom ek af af op ’n ander ongepubliseerde gedig.

Die digter en kritikus Petra Muller het my gehelp om my debuut, wat sonnette bevat, Die nomadiese oomblik, saam te stel. Ons kom toe af op my gedig oor Anna Ahkmatova. My weergawe is geskoei op die navorsing van D.M. Thomas, wat ook The White Hotel  geskryf het.

Dis die sonnet wat ek vandag met julle gaan deel. Geskryf iewers tussen 1992 en 1994. Petra het die gedig aandagtig deurgelees, en toe met ’n kommerwekkende frons na my opgekyk. Ek het solank koffie gedrink, sy was besig om haar tyd te neem.

“Wie is jou bron, hier?” Ek was onkant gevang, maar het niks weggesteek nie. “D.M. Thomas, Petra.” Daar het ’n gedrae stilte gevog.

“My kind, jy moet niks sommer glo wat daai man skryf nie. Belowe my dit.” Sy was witter as the white hotel.

Toe ek vra hoekom. Toe laat weet sy iets van Thomas wat geen snars weet hoe lyk die winterweer in St. Petersburg nie. En hy is so bietjie van ’n byskrywer, wat sy eie navorsing betref, het sy laat weet.

Sy het die sonnet eenkant toe geskuif. Ek het iets in haar verdere woorde gehoor. Iets van, maar ek onthou onder korreksie, of parafraseer dit vir myself nou onder korreksie: “Daar is nie iets verkeerd met ’n liefdesgedig skryf nie, selfs nie oor die dooies nie, maar mens moet dit nie as geskiedenis opdis nie.”

Jare later het ek ander weergawes van Akhmatova se beeld gevind, in ander boeke. Isiah Berlin in sy biografie word deur Michael Ignatieff voorgestel as ook synde bietjie verlief op Anna gewees. Soos die helfte van Rusland, glo. En hy had meer as net ’n grinterige foto om mee te werk, soos ek in my geval.

Die verdere waarheid is dat Akhmatova ook op die skamerige Berlin verlief was, tydens laasgenoemde se navorsingsbesoek aan Rusland, waartydens hy ook Boris Pasternak ontmoet het.

Akhmatova en Berlin het slegs twee keer ontmoet, in groot wedersydse agting, maar die gevoel van ingeperktheid en van interne vlugtelingskap in Rusland was al so sterk gewees dat hulle in die geheim laat in die nag in haar woonstel vergader het. Dit was net die twee van hulle, en die laaste kuiertjie was van vroegaand tot vroegoggend. Berlin moes daarna Rusland inderhaas verlaat. Dit was haastige tye. Akhmatova het vir hom gewag om terug te keer. Vergeefs, glo.

Ek plaas my weggelate gedig hieronder. Dis warts and all. Ek dink sulke apokriewe gedigte – wat nooit die papier van publikasie geruik het nie – het ’n waarde. Ek sal ‘n skakel op my FB-blad ook plaas.

Die titel is bietjie vreeslik. Maar van die res van die sonnet hou ek steeds. Natuurlik sou dit by redigering kon gebaat het. En ek verskil steeds van Petra hieroor: Die liefde, alle liefde, is tog maar net apokriewe geskiedenis? Maak nie saak hoe amptelik dit naderhand word nie, kruip dit nie altyd maar weg in sy eie skaduwee nie?

Haar laaste woorde oor die saak was: “Bly maar weg van D.M. Thomas.” Wonder of sy steeds so voel. Wat ’n boeiende geselsgenoot en begeleier was sy nie. Ek dink sy sou bly wees om te weet dat ek Thomas so bietjie uitgebalanseer het met Ignatieff en een of twee ander.

 

Die geregtigheid van Anna Akhmatova

Die tye, soos haar stad, was skigtig, en donker.

Sy was een van Petersburg se vele skoonhede,

sedeloos, maar ook draer van die Kruis, en gebede.

Son oor die stad: ‘n kers in ‘n katakombe.

Sy’t voor gelees uit die Silwer Tyd se woordskatte

in ‘n floulig-kelderklub: ‘Die Rondloperkatte’.

Daarna sou die rewolusie alles vernietig.

Haar gevoel vir die lyding van ander was volstrek.

Nie net sy nie, ook ander, het geglo sy’t ‘n heks

se vloekmag oor bemindes, van wie sy liefs moet vlug.

Haar man het haar verneuk. Lank sou sy daarmee worstel,

dat die Bolsjewiste hom daarna geskiet het.

Sy was ‘n heks van God, en bang vir haar eie bed.

Maar nou, is gans ‘n volk se hande op haar borste…

.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé. ’n Literêre anekdote”

  1. Marlise J :

    CP, ek hou van jou gedig! En die anekdote daaroor, waarby Petra betrokke was. Akhmatova was nog altyd een van my gunstelingdigters. Sy het emosie en verhoudings op ʼn baie unieke wyse tot uitdrukking gebring. Beslis ʼn voorkoms gehad wat Mogdiliani graag geskilder het. Haar lewe wat sy gehad het, die hoeveelheid ingrypende terugslae, haar konstante weerstand teen terreur en wrede magsbehepte politiek in Rusland, hoe sy haar seun uit ʼn gevangenekamp wou kry, artistieke en letterkundige tydgenote wat vervolg is, verban is, gevlug het, ens. verbyster my telkens. Hoe het sy deur alles gekom? Staande gebly? Soveel pyn moes sy deurgeworstel het op vele vlakke. Nogtans het sy voort geskryf, teen alles in. Berlin beskryf haar so, nadat hy haar besoek het in haar woonstel later: It was very barely furnished — virtually everything in it had, I gathered, been taken away — looted or sold — during the siege … A stately, grey-haired lady, a white shawl draped about her shoulders, slowly rose to greet us. Anna Akhmatova was immensely dignified, with unhurried gestures, a noble head, beautiful, somewhat severe features, and an expression of immense sadness.

  2. charl-pierre naude :

    Dankie, Marlise. En wat ‘n nuttige, elrgante aanhaling van Berlin het jy hier gepos. Dis ‘n karakterskets van ‘n veelbewoe lewe, in slegs ‘n paar reels!

  •