N.P. van Wyk Louw 50. Fanie Olivier

 

 

 

 

ná vyftig jaar

 

jy het weggegaan ver weg en nou bewoon

jy daardie blinde ryk waarvan ons droom

of waarvoor ons huiwer omdat ons daaroor

min sekerheid en slegs verbeelde woorde het.

 

jy het weggegaan ver weg [net soos dit immers

hoort] en ons verdwaas hier op ons klein

bemorste morserige morsige planeet gelos

waar als wat helder is vertroebel verdwyn

 

***

 

bly weg van die taaibos bly van die taaibos

weg dag ek ek hoor jou sê maar jy het weg-

gegaan

 

en net die skoenmakers, aljimmers,

hou hulle in ieder geval nog daarmee op: met

lees, met klink. [daarmee sou mens destyds op straat

kon gaan, maar nou ís ons werklik weerloos teen

die swaar gebeure van die dinge. stomgeslaan

 

om ons is klets koning word alles aan kwetter oorgelaat]

 

***

 

ek lewer ’n tweede keer tweedehands verslag

as jy ná vyftig jaar nog afrikaans verstaan

en dalk iets iewers uit die niewers sou wou hoor

 

[bly van die taaibos weg, die bitterbessiebos;

orals lê dubbeltjies driedubbel in die sand]

 

sutherland kry vroeg in januarie swartryp.

oom-kolie-met-die-covid hou ’n rukkie uit

so sonder kind of kraai. die dorpsdam die spruit

loop oor van die riool. daai jakkie-meisie verkrag;

gunsfontein se oumense albei wreed vermoor

 

treine wat ver fluit hoor jy net nog in jou slaap.

 

jy het dit self gesê: niks niks in die land hou stand

 

die sinkdak weggedra; die vensters blinde oë;

daardie akkerboom weggekap en opgebrand;

’n ringmuur oorgegee verkrummel op die lange duur

 

die baie-fyn dink vertroebel stagneer as niemand

hulle met verloop van tyd meer daaraan steur

nie. die slimmes kon die dwaasstes word. wysheid word stil

– al weer! vrees maak mos so …

 

 laat ons maar eerlik wees

jy had dit destyds reg, die digter weereens in die kol:

ons fees bly uiteindelik tog maar 1 april

 

***

 

jy het weggegaan na iewers héél, dis waar. en ons

bly agter leef hier maar verslete en verslons

 

***

hóóg het jy gevra en aan onsself getrou:

daar ’s weinig daarvan oor alles oorlopens vol

van soetgoed saamhurk in die donker verbeel dat

dit wat stom is kan smous met dit wat krom is brou.

grawe so ’n eie graf sny spreekwoordelik die lat

 

***

 

wat nou gemaak met jou en sonder jou? jy

wat weggegaan het net om hier te bly, hier

waar die helder poele vroeër wit van bronkors

nou stinkend donker onder die hiasinte stik;

hier waar die winde sonder sy bome oor

die leë plein kaal parke townships verby

langs gesteelde spore vergete tennisbane deur

die drome waai in hierdie uur van ons donker dors.

 

                                    ***

 

enfin

 

ek dra nogtans jou óú steen in my hand

hy vat my hiervandaan na anderkant.

 

© fanie olivier, 18 junie 2020

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “N.P. van Wyk Louw 50. Fanie Olivier”

  1. charl-pierre naude :

    Pragtige vers, Fanie.

  2. helizev an vuuren :

    ‘n Klein bietjie lig in die donker, Fanie – daai “1 April” in “Meifees, Amsterdam” (Tristia, 1962) was beslis nie Gekkedag nie. Dit was ‘n liefdesfees, ‘n erotiese fees – sien Jaap Steyn se biografie onder die trefwoord agterin “Cussons”. Oor dié dag staan daar duidelik geskrywe, “18 days to love a man”, en oënskynlik die woorde van die jong Cussons indertyd oor die viering van hul vars gevonde liefde. Dit gaan oor “Aprilis”, die groot oopmaak van die lente: Chaucer se “in April when the showres shoot” en nié Eliot se “April is the cruelest month” nie…

    Ek dog ek seg het maar. Daai mistasting raak alhoe wydverspreid van Gekkedag.

    Dankie vir jou vers. Maar daar is nog lig in die donker. Trek na die Wes-Kaap, uithoeke voorlopig nog minder somber as meer noord.

  3. Zandra Bezuidenhout :

    Besonder treffend in vele opsigte, Fanie.

  4. Joan Hambidge :

    Pragtige vers – dankbaar Stefaans

  •