N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé

N.P. van Wyk Louw as sekondêre invloed

 

Een van die groot temas in N.P. van Wyk Louw se digkuns is die geding-met-God.

Binne die Duitse letterkundewêreld strek hierdie tema terug tot by die werk van die groot digter Friedrich Hölderlin (20 Maart 1770 – 7 Junie 1843), en veral met betrekking tot gesprekke wat hy met sy groot vriend, die filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel (27 Augustus 1770 – 14 November 1831) gehad het. Dis by hierdie tradisie waar Van Wyk Louw aansluit en wat hy oproep met sy grootse tema, wat in die bundel Tristia sy hoogtepunt vind.

Die Pools-talige digter Czesław Miłosz het binne die Slawiese tradisie ook met dié tema omgegaan, maar met heel ander klemplasings.  Lees sy gedig in Engels, vermoedelik deur homself vertaal, getitel “Theodicy”. Dis onder meer op die webblad Poem Hunter na te speur.

In my digbundel Al die lieflike dade (2014) verskyn ’n gedig wat met Miłosz in gesprek tree oor sy teodisee (sy Godsopvatting). Ek wil my verstout om dit in hierdie Van Wyk Louw-huldigingsreeks te deel, as dit nie te grasieloos van my sal wees om my gedig in die geselskap van hierdie here se werk te plaas nie.

Wat hier allereers van belang is, is Van Wyk Louw se tema as sekondêre, en nie primêre invloed nie. Die sekondêre invloede wat van ’n voorganger ondergaan word, is baie interessant, want dis spore wat dikwels liggies uitgevee vertoon. ʼn Mens moet harder daarna gaan soek. Ek dink die Van Wyk Louw-invloed is selfs in my eie gedig se toonaard af te lees? Ek weet nie, nie verseker nie; ek bespiegel ook maar, selfs oor my eie gedig. Die digkuns is ’n “absent-minded” proses, soos Ludwig Feuerbach (28 Julie 1804 – 13 September 1872) dit gestel het.

Toevallig het laasgenoemde dít in die konteks van sy eie toeligting oor God kwytgeraak. God, sê Feuerbach, skep die Skepping “agter sy eie rug”, terwyl hy soort van “self daarvan vergeet het”. Net soos digters gedigte skryf, meen hy. Feuerbach praat van die “digter-God” as die “absent-minded creator”.

T.T. Cloete het van iets soortgelyks gepraat. Het hy die bestempeling by Feuerbach gekry? Of stem hulle s’n toevallig ooreen? Is dit konsepte wat hoegenaamd oorvleuel? Invloede? Tradisie? Geheue?

Alles lieflike vraagstukke.

Het die digters en hul nasate die tema “die geding met God”, soos dit in Afrikaans bekendstaan, geskep? Natuurlik nie! Dis oud, so oud soos die berge, en daar bestaan ’n hele denkveld daarrondom: die teologie.

Wat Hölderlin, Miłosz en Van Wyk Louw se verestetiseerde verwoordings daarvan egter belangwekkend maak, is dat dit die tema onder die inwerkende invloedkragte van die moderne denke toon, onder meer van die spanninge teweeggebring deur moderne teorieë op die terreine van die wetenskap en die logiese denke.

Hier onder volg my eie gedig, geskryf in die vorm van ’n besinning, soos die gedig van Miłosz waarna dit verwys. Dis ’n vorm waarin sommige van Van Wyk Louw se gedigte ook gegiet is, hoewel ons hier praat van verskillende digters en dus verskillende style. Dié “besinnende” soort gedig kan onderskei word van gedigte wat mistieke en geloofservarings beskryf, soos te vinde is in byvoorbeeld die werk van Sheila Cussons.

 

God se klippe

Miłosz –

Pools maar nié ʼn Pool nie,

en digter van veral die teenstrydigheid –

 

pleit in sy oeuvre

dat God wel bestaan.

Maar dit doen hy nie sonder voorbehoud nie.

In der waarheid glo hy

in die Lewegéwende Afwesigheid.

 

Met die vermeende algoedheid van God

skort iets beduidends

– reken óók Czesław oor die teodisee –

want hoe versoen jy dié eienskap

met sy almag?

Die gestewelde en bonkige natuurteisterings

wat laggend verbygestap kom

en die beskawings soos nessies

met stokke uit die bome slaan …

’n God van liefde?

Die formule hou nie steek nie.

Miłosz sluit só sy rede, min of meer:

“Wee, o wee, my dierbare teoloë,

jul lieflike betoë haal nie die paal nie.”

 

Uit hierdie kuip

van die gees kon hy, en ander vraagstellers

voor hom (reeds skroot

en skelet onder die stekelrige kruipplant),

om die dood nie weer wegtrek nie.

 

En helaas is die antwoord onbevatlik.

Weens die kwessie van skaal (miskien):

die teer, nadenkende opslaggruis

van sterreweë en die planete

se sagte minneveeg

soos ’n veer teen die wang.

 

Indien komete,

die verbyflitsende onderdeeltjies,

 

kon stilstaan,

soos die oomblik in ’n foto

wat in die donkerkamer

uit ’n bak gelig en ontwikkel word –

 

of,

die tyd sy geweefde sardienloop

ten dele in die kil vierkant

van ’n opgehysde hok uit die see

laat opvang

 

terwyl dit van salpeter drup,

 

en één van die gevlerkte tintvissies

uit sy onderwatervlegwerk

in ʼn hand val en daarin verdof

soos ’n kleindood,

 

sou die mens dalk God aan ’n stertjie beetkry.

 

Ek meen dus die probleemstelling van Miłosz

het te doen met die aanvanklike skepping –

wat nooit nét aanvang was nie, maar steeds duur.

Te doen met dié verkeerde onderskeid:

tussen aarde-en-see en die mens.

Daar wás nooit ’n onderskeid nie –

tussen lewe en nielewe,

tussen chaos en ordening nie.

Ons is steeds by die eerste dag.

Daar ís net een dag.

 

Derhalwe: te make met die mens

se wolmussie, tyd.

Ons seemsleerpantoffeltjies –

tyd, ja,

geknip deur onsself

uit die slaggoed van iets stromend onbegrypbaars.

 

God het sy klippe lief,

o, lief het Hy hulle wel.

Eweneens sy atome,

poreuse wesentjies, liewe saamkoestertjies

oomblikliker as die oomblik

en tog nié,

wat mekaar so innig en gevaarlik omhels.

Myle ver soms sidder die lug.

 

Kyk hoe wag Hy

vir al die klipgevreetjies om wakker te word,

die vader wat Hy is.

Duisend maal duisend jaar lank.

Terwyl óns, die klipskimmel,

selfbekommerend verbleik.

 

As ons wyer as die tyd

se dwangbuis kyk –

daar róndom

en van buite,

nie vanuit nie –

 

sien ons Een wat soos ’n standbeeld

in beweging kom:

’n vinger wat lig;

dan ’n kuit wat strek.

 

Hy klim van sy voetstuk af

en hurk

langs ’n poeletjie wat weerkaats van koperbeslag.

 

Hy steek van bo uit die lug

sy vinger deur die beslaande museumdak

en roer die bewaring daar,

tot beierende kringelinge.

 

Dit is tyd dat die poppe wakkerskrik,

dat die hare rys

onder daardie dakglas:

die mondrooi anemone, die watergras …

 

Wie sou kon dink ’n boodskap

kom met soveel geklater deur ’n hemelkap?

Miskien was alles tot dusver te stil?

 

Naderhand glimlag Hy vir alles wat so Hy

blyk te wees, of nie van Hom nie,

en loop slaan Hy sy houding weer in op die voetstuk:

Daar is iets aan staande water

wat onnodig liefdeloos lyk.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé”

  1. Breyten Breytenbach :

    Geweldig!

    En geweldig soos nét ‘n gedig kan wees wanneer – soos hier en soos nou – die beskrywing en die vooruit beweeg één is in die oerwater sonder bodem van woorde.

    Dankbaar, C-P.

  2. CP Naude :

    Dankie, Breyten.

  •