Paul Celan. Vertaling in Afrikaans

 

Paul Celan. Vertaling van Duits in Afrikaans. Vert. deur Helize van Vuuren

 

Ek hoor, die byl het weer gebloei,

ek hoor, die plek is nie noembaar,

 

ek hoor, die brood, wat hom aankyk,

heel die gehangene,

die brood, deur sy vrou gebak,

 

ek hoor, hul noem die lewe

die enigste toevlug.

 

 

Ich höre, die Axt hat geblüht,

ich höre, der Ort ist nicht nennbar,

 

ich höre, das Brot, das ihn ansieht,

heilt den Erhängten,

das Brot, das ihm die Frau buk,

 

Ich höre, sie nennen das Leben

die einzige Zuflucht.

 

Paul Celan – Schneepart [Sneeudeel], 1971, postuum

(vert. Helize van Vuuren, 24 Julie 2020)

 

 

 

Met ‘n veldmuisstem

piep jy hier op,

 

met ‘n skerp

steekhakie,

byt jy jou deur my hemp in my vel,

 

‘n doek,

laat gly jy voor my mond,

midde in my

skadu-beswerende

rede.

 

 

Mit der Stimme der Feldmaus

quiekst du herauf,

 

eine scharfe

Klammer,

beißt du dich mir durchs Hemd in die Haut,

 

ein Tuch,

gleitest du mir auf den Mund,

mitten in meiner

dich Schatten beschwerenden

Rede.

 

Paul Celan – Schneepart [Sneeudeel], 1971, postuum

(vert. Helize van Vuuren, 24 Julie 2020)

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Paul Celan. Vertaling in Afrikaans”

  1. Die m.i. ietwat dialektiese Duits van hierdie verse val pragtig in Afrikaanse nate.

    In party reëls is daar ‘n wins vir die Afrikaanse weergawe. In die vierde reël van die eerste gedig is die Afrikaans kragtiger met die klankherhaling van “heel” en “gehangene”.

    Daar is ‘n interessante verskil tussen die twee tale by “ein Tuch, gleitest du mir auf den Mund,” In Afrikaans is die aksie ietwat minder direk as in Duits. In die oorspronklike “gly” die doek en in Afrikaans word dit “laat gly”.

    Die vertalings laat reg geskied aan die Duits en mens sidder by die gebeure wat jy vermoed agter die verse woed.

  2. Helize van Vuuren :

    De Waal, die gebeure “wat woed” agter die donker verse verwys volgens Barbara Wiedemann na die studente-opstande in Parys 1968.

    En daardie reël, “Ich höre, die Axt hat geblüht” – verkeerdelik deur my onthou en vertaal as “Ek hoor, die byl het weer gebloei” kan ‘n mens nie uit jou geheue kry as jy dit een keer gehoor het nie. Die “weer” moet uit (maak asseblief reg Marlies?). Dit is my verkeerde geheue wat die “weer” daar ingedwing het – geassosieer met Celan se herhaalde terugkeer na dié tema van geweld van mens teen mens, soos in die Berlyn-vers oor Rosa Luxemburg en Karl Liebknecht, “Ich lieg im große Gelausche” (die man moet swem, die vrou het ‘geword tot sif’) of die ‘slagtand wat regeer’ in “Eingedunkelt” [“Ingeduisterd”]. Sy onuitwisbare donkere geheue aan die eintlik ondenkbare en onuitspreekbare vorme van geweld tussen mense, veral ideologies-gedrewe geweld. In sy eie lewe tasbaar en voelbaar gemaak deur wat hy persoonlik moes meemaak en aanskou (die ‘klip in sy oog’), soos Elie Wiesel, Peter Szondi en miljoene ander.

  •