Charl-Pierre Naudé. Die plek van die tragiese

Volgens die filosoof Hans Blumenberg (1920–96)  het Johann Wolgang von Goethe, net bekend as Goethe (1749–1832), die groot Duitse skrywer, dit kort voor sy dood in 1832 betreur dat die denkkategorie van “politieke lot” die plek van die antieke Griekse denkkategorie van “die tragiese” ingeneem het.

Volgens Blumenberg het die ontkenning van die tragiese as kategorie van die denke die heerskappy van twee nuwe kategorieë in die hand gewerk: die delusie van  politieke vryheid en die noodlottigheid van menslike skuld.

Volgens hom speel Napoleon en Augustinus die belangrikste rolle in die “herinvulling”van die antieke kategorie van “die tragiese”. In ’n term van die eietyd sou mens bykans kon sê die katagorie van die “tragiese” was gekaap.

Napoleon se veel aangehaalde oproep aan die mensdom was: Politiek is jou lotsbestemming, mens!” Hy het dit in die gees van die Franse revolusie bedoel van “Maak jouself vry!” Ons weet egter wat Napoleon in effek gedoen het: Veel meer onvryheid as vryheid. Hy het die kategorie van die tragiese – waarmee Blumenberg verwys na die kragte waaroor die mens geen beheer het of selfs kan hê nie – vervang met die kategorie van “die politieke lot”, en self die slagoffer van die tragiese geword.

Napoleon dien as ’n voorbeeld van die mens se strewe om die onbeheerbare, wat dikwels onderwerping van die mens beteken, te onderwerp. Maar toe faal hy. Sy tragedie het later ook die tragedie van die Marxisme-Leninisme geword …

Die krag van die tragiese moet nie onderskat word nie. Veral nie wanneer die geskiedenis vertolk word nie.

Sedert die Christelike teoloog Augustinus die kategorie van die mens se vryheid van denke en keuse ingevoer het, volg “menslike skuld” onvermydelik as die verklaring vir alles wat verkeerd loop. Die tragiese – die geskiedenis as onbeheerbare meester wat menslike vryheid inperk en selfs uitwis – word insgelyks hierdeur na die kantlyn uitgeskuif.

Maar dit beteken nié die tragiese het opgehou gebeur nie. Dit, volgens Blumenberg, en ook volgens Goethe.

Die bevrydingsdenke van die 20ste eeu, met inbegrip die stryd teen kolonialisme en die verdrukkings oraloor, reëel sowel as gewaan, is juis gebou op dié twee “nuwe” kategorieë: politiek as lotsbestemming en menslike skuld.

As iets verkeerd loop, soos in lelik verkeerd, is iemand of iets by verstek skuldig. Want die mens is sedert Augustinus kwansuis vry om die regte besluit te kon geneem het.

Skuld is weliswaar nie ontersaaklik slegs omdat die tragiese ontken word nie.  Neem apartheid as voorbeeld. Was daar skuldiges? Wel, ja. Van hulle het in die tronk beland. Maar die meeste agente sowel as deelnemers is veel meer tragies as skuldig, as mens kyk na die kragte van daardie tye.

Dieselfde geld óók endemiese korrupsie en die vergrype die ANC. Want, glo dit of nie, die tragiese is hier ook weldeeglik aan die werk …  (Die mate waarin die tragiese in hierdie toedrag van sake ’n rol speel, is oop vir ontleding en is ’n onderwerp op sy eie. Ek praat nie van staatskaping nie, wat ’n onverdunde misdaad is.)

Skuld, aandadigheid, tragedie. In trappe van belangrikheid. Maar die grootste hiervan is die tragedie.

Het jy vandag al die gode gedenk? Ek weet, oom Wyk, ek weet: sonder ’n glasie wyn is dit moeilik …

Op ’n ligter maar steeds tersaaklike noot deel ek graag ’n gedig hieronder deur Miroslav Holub, uit Tsjeggies vertaal in Engels.

 

Napoleon

 

Children, when was

Napoleon Bonaparte born,

asks teacher.

 

A thousand years ago, the children say.

A hundred years ago, the children say.

Last year, the children say.

No one knows.

 

Children, what did

Napoleon Bonaparte do,

asks teacher.

 

Won a war, the children say.

Lost a war, the children say.

No one knows.

 

Our butcher had a dog

called Napoleon,

says Frantisek.

The butcher used to beat him and the dog died

of hunger

a year ago.

 

And all the children are now sorry

for Napoleon.

 

(Miroslav Holub)

 

 

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé. Die plek van die tragiese”

  1. Helize van Vuuren :

    Ja, Boetie – treffend, memorabel, jou presiese skrywe hierbo, met uitboulende gedigstorie oor die Groot Vergeet van die kinders.Jou Miroslav Holub se arme geslane, en later verhongerde hond, Napoleon, is in Celan se vers oor die muis, Kafka se Josefine, die voorsanger onder die muisvolk (in die muis-gedig), en die studente deur die Franse polisie “brutaal neergeslaan” tydens die studente-opstande in die nag van 10-11 Mei 1968n (in die “bloeiende byl”-vers.) Ek seg dit maar, want daar is teenoor my gekla oor “waarom so donker, die goed wat jy vertaal?”

    “Donker donker middernag…”,
    dit waarop ons bewend wag.

  2. charl-pierre naude :

    Dankie, Helize. Ja, die ooreenkomste wat jy trek is myns insiens nie ver uit fokus nie. Terloops, ek geniet jou vertalings baie. Nog nie die laaste gelees nie, maar sal nog. Ons as mensdom staan op ‘n naat. Ek praat nou die dag met iemand hieroor. Blykbaar is die sterkonstellasies vanjaar in dieselfde patroon as op verskeie ander groot gewrigte in die verlede terug tot by die Middeleeue. Maar dalk lieg die sterre. Tog, as Nederlandse filosowe na die sterre begin kyk, moet jy weet: daar is ‘n gebrek aan betroubare leestof in die omtes. 🙂

  3. Bernard Odendaal :

    Boeiende skrywe, Charl-Pierre!

  4. Waldemar Gouws :

    Baie dankie, Charl-Pierre, vir die aksent op die tragiese. En as die filosowe in die noorde aandag aan die sterre begin gee (skenk?) is dit gaaf.

    Hier teen ong. 1870 het Nietzsche geskryf: “Maar waar kan ons ‘n voorbeeld van kulturele patologie kry wat deur filosofie gesond gemaak is? Indien filosofie sigself ooit gemanifesteer het as behulpsaam, bevrydend of voorbehoedend, was dit in ‘n gesonde kultuur. Die siekes is egter nog sieker gemaak.”

    Die “mensdom staan op ‘n naat” – ja! En die naat loop van onder deur Kaapstad, na Bethlehem, Volksrust en verder opwaarts.

    Groete

    Waldemar

  5. charl-pierre naude :

    Dankie, kollegas. Waldimar, ek hou van die ironie in “Volksrus”! Maar daai naat is dalk ‘n kraak soos die beiteljie se kraak – hy gaan deur die sterre loop. Die ander twee geleenthede waarop die sterre dieselfde formasie gehad het as nou, is glo met die Hervorming (1517), en daarna met die tyd van die Amerikaanse Vryheidsoorlog (rondom 1776), volgens die filosoof At Verbrugge, soos aan my aangehaal.

  6. charl-pierre naude :

    Ek kon dalk i die skrywe hierbo my kommentaar op Blumenberg bygevoeg het, naamlik dat ek dink dit si nie soseer die bestaan vand aardie denkkatagoriee wat hy noem wat die tragiese uitgeskuif het nie, mar die mens se geneigdheid om denke te reduseer tot die binere. Die tragiese is ‘n tussen-in begrip, ‘n vreemde, grys waarheid, en diesulkes is altyd kwesbaar.

  7. Maria Snyman :

    Die (tragi-komedie van die?) trace / spoor / merk / lyn / gaping / écart /separasie / se-cernere / “secret” / (apartheid?) / verskil (“difference”) / … – à la daardie “Ja, Dronkmakende/Deur-mekaar” denker se “A Taste for the Secret” waarop ek so fikseer? (“Moenie-fikseer-nie.En sy vou letterlik dubbeld. Dis die verskil julle!”, Naudé 2018, p. 344 )

    “Dis belangrik dat die leser die begrip “kwantumheelalle” nie sien as werklikhede wat fisiek langs mekaar bestaan nie, maar eerder wat fisiek “deur mekaar” beweeg, soos ek in die Nawoord verduidelik.”*

    Het my (Ja Deeglike) fiksasie dalk die tragiek probeer terugskryf in die situasie wat jy hier skilder, wonder ek nou Charl-Pierre? Ja, weliswaar op ‘n duiselingswekkende deurstopmanier, soos byvoorbeeld deur die tr. van die Engelse “translation”, of Husserl se tradisie, of sommer net kommunikasiekunde se transmissie, d.i. so op ‘n kwasi-trans of kwasi-trip (en [kwasi-?]trumped-up??!!) manier?

    Die trace / spoor wat so verdwyn soos dit verskyn – “soos ’n vlieënde piering wat geland en weer vertrek het” (Naudé 2018, p. 27), soos die Hide Out Motel, soos Dirkie – wat so vir ‘n wyle by mens verwyl om mens tog dan nie te wil verlaat nie?!

    Die trace/spoor wat oral voorkom waar daar relasies plaas-vind – verhoudinge en stories …

    Ons bly maar in en op die Lyksovlakte (niks daarbuite nie) … van Zondo en sondes … van virusse (biologies & tegnologies) en simptome … van die tragikomiese en komitragiese (?!) wat so via en om die farmakologiese (en/of die sondebok) kan afspeel …

    “In die begin was die poswese.” (The Post Card)

    “In die begin was vergifnis.” (The Gift of Death & Literature in Secret)

    “Ewelewendes”, “ewewêrelde, begin reeds hier, by die opset en samestelling van die boek.”*
    Dalk moet ek ophou om die akademie die skuld te gee!

    “Children, when was
    Napoleon Bonaparte born,
    asks teacher.

    […]

    And all the children are now sorry
    for Napoleon.”

    Bonaparte – On the name (JD)

    “an agitated Penisi can be seen pointing fingers and apparently shouting “f-off, Matatiele boy. Go get circumcised first. Voetsek””**

    Tragies!!

    “TONGE KLAP OOR RAAISELVERSKYNSEL”

    Lekker gelees, Charl-Pierre, en soos dit hopelik duidelik is lees ek ook (weer) aan jou Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey?! (Met Dirkie wat so verskyn-verdwyn het ek baie om oor te probeer dink …)

    * https://www.litnet.co.za/die-ongelooflike-onskuld-van-dirkie-verwey-n-onderhoud-met-charl-pierre-naude/

    ** https://www.timeslive.co.za/politics/2020-07-29-eastern-cape-anc-councillor-recalled-after-f-bomb-go-get-circumcised-rant/

    Via jou stuk intussen ook afgekom op: https://www.ascp.org.au/links/online-resources/266-derrida-reading-circumfession-and-interview-on-religion

  8. Maria Snyman :

    Webmeester, die kommentaarfunksie wil nie my kommentaar hier vashou nie (dit wil eers nie oplaai nie, dan, as dit uiteindelik oplaai, verdwyn dit na ruk weer?). Is daar dalk iets fout met my koekiesstatus? Ek kon jou ook nie met “Kontak” gekontak kry nie? Laat maar weet as daar dalk iets is wat ek miskyk. Dankie, Maria. (Sal nou sien of hierdie kommentaar oplaai?!)

  9. Maria Snyman :

    O, nou bly dinge daar?!
    Ek probeer weer met my kommentaar.

    Die komiese tragedie van die trace / spoor / merk / lyn / gaping / écart /separasie / se-cernere / “secret” / (apartheid?) / verskil (“difference”) / … – à la daardie “Ja, Dronkmakende/Deur-mekaar” denker se “A Taste for the Secret” waarop ek so fikseer? (“Moenie-fikseer-nie.En sy vou letterlik dubbeld. Dis die verskil julle!”, Naudé 2018, p. 344 )

    ʼn dubbelsinnige seëning, ʼn “teëspoedige seëning” … *

    “Dis belangrik dat die leser die begrip “kwantumheelalle” nie sien as werklikhede wat fisiek langs mekaar bestaan nie, maar eerder wat fisiek “deur mekaar” beweeg, soos ek in die Nawoord verduidelik.”*

    Het my (Ja Deeglike) fiksasie dalk die tragiek probeer terugskryf in die situasie wat jy hier skilder, wonder ek nou Charl-Pierre? Ja, weliswaar op ‘n duiselingswekkende deurstopmanier, soos byvoorbeeld deur die tr. van die Engelse “translation”, of Husserl se tradisie, of sommer net kommunikasiekunde se transmissie, d.i. so op ‘n kwasi-trans of kwasi-trip (en [kwasi-?]trumped-up??!!) manier?

    Die trace / spoor wat so verdwyn soos dit verskyn – “soos ’n vlieënde piering wat geland en weer vertrek het” (Naudé 2018, p. 27), soos die Hide Out Motel, soos Dirkie (wat nie op foto’s wil uitkom nie) – wat so vir ‘n wyle by mens verwyl om mens tog dan ook nie te wil verlaat nie?!

    Die trace/spoor wat oral voorkom waar daar relasies plaas-vind – verhoudinge en stories …

    Ons bly maar in en op die Lyksovlakte (daar is niks daarbuite nie) … van Zondo en sondes … van virusse (biologies & tegnologies) en simptome … van die tragikomiese en komitragiese (?!) wat so via en om die farmakologiese (en/of die sondebok) kan afspeel …

    “In die begin was die poswese.” (The Post Card)

    “In die begin was vergifnis.” (The Gift of Death & Literature in Secret)

    “Ewelewendes”, “ewewêrelde, begin reeds hier, by die opset en samestelling van die boek.”*
    Dalk moet ek ophou om die onderwys & akademie die skuld te gee!
    “Children, when was
    Napoleon Bonaparte born,
    asks teacher.

    […]

    And all the children are now sorry
    for Napoleon.”

    Bonaparte – On the name

    “an agitated Penisi can be seen pointing fingers and apparently shouting “f-off, Matatiele boy. Go get circumcised first. Voetsek””**

    Tragies!

    “TONGE KLAP OOR RAAISELVERSKYNSEL”

    Lekker gelees, Charl-Pierre, en soos dit hopelik duidelik is, lees ek ook (weer) aan jou Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey?! (Met D.V. wat so verskyn-verdwyn het ek baie om oor te probeer dink …)

    * https://www.litnet.co.za/die-ongelooflike-onskuld-van-dirkie-verwey-n-onderhoud-met-charl-pierre-naude/

    ** https://www.timeslive.co.za/politics/2020-07-29-eastern-cape-anc-councillor-recalled-after-f-bomb-go-get-circumcised-rant/

    Via jou stuk intussen ook afgekom op: https://www.ascp.org.au/links/online-resources/266-derrida-reading-circumfession-and-interview-on-religion

  10. Marlies Taljard :

    Maria, ek sien jou kommentaar het wel uiteindelik opgekom. Soms lees mens die CAPTCHA-kode verkeerd in en soms is die program sommer net moedswillig. Ek verstaan nie hoekom jy nie by my e-posadres uitkom nie – niemand anders het nog daaroor gekla nie. Probeer dalk net weer.

  11. Maria Snyman :

    Marlies, kan dalk iets vreemd wees op my rekenaar wees??
    Bogenoemde kommentaar is daar – maar nie my C-P N kommentaar nie?
    Kom nie deur na jou of na Nini toe nie, kry “Error 404 – Not Found” by “inhoudsbestuurder”-hiperskakel in “Regelemente”.
    Ek is al gewoond om vir tweede “captch”-kode te vra – voorheen was ek alyd gelukkig met die tweede poging.
    Mag dit dalk iets te doen he met die feit dat ek URL-skakels in my C-P N kommentaar het?

Los kommentaar

 

*

  •