Bertolt Brecht. Vertaling in Afrikaans

 

Bertolt Brecht. Vertaling van Duits in Afrikaans. Vert. deur Waldemar Gouws

 

 

Die minnaars

 

Kyk daardie kraanvoëls in wye kurwende vlug!

Die wolke vir hulle meegegee

trek met hul saam al vanaf die wegvlieg

uit die een lewe in ‘n ander lewe.

Op gelyke hoogte en met gelyke haas

lyk hulle na aan mekaar vir ‘n wyle.

So deel die kraanvoëls met die wolke

die lieflike lug waardeur hulle kortliks vlieg

sodat hulle dus nie nog tyd hier verwyl

en niks anders sien as die gewieg

van die ander ene in die wind, deur beide gewaar:

in die vlug reeds lê hul bymekaar.

So mag die wind hulle wegvoer in die niet;

mits hul net nie vergaan nie of wars van hulself neig

so lank kan niks die twee aantas nie

so lank kan mens hulle maar van enige plek verdryf

waar reën of skote wat klap hul bedreig.

So onder die son en maan elk met amper enerse skyf

vlieg hulle weg, algeheel opgegaan in elkaar.

Waarheen, julle?

Nêrens heen.

Weg van wie?

Van algar.

Julle vra, hoe lank is hulle al saam?

‘n Rukkie.

En wanneer sal hulle uitmekaargaan?

Gou.

Dit lyk so of die liefde van minnaars net nie hou.

 

 

 

 

Die Liebenden

 

Sieh jene Kraniche in groβem Bogen!

Die Wolken, welche ihnen beigegeben

Zogen mit ihnen schon, als sie entflogen

Aus einem Leben in ein andres Leben.

In gleicher Höhe und mit gleicher Eile

Scheinen sie nah bei ‘nander für eine Weile

Daβ so der Kranich mit der Wolke teile

Den schönen Himmel, den sie kurz befliegen

Daβ also keines länger hier verweile

Und keines andres sehe als das Wiegen

Des Andern in dem Wind, den beide spüren

Die jetzt im Fluge beieinander liegen.

So mag der Wind sie in das Nichts entführen;

Wenn sie nur nicht vergehen und sich bleiben

So lange kann sie beide nichts berühren

So lange kann man sie von jedem Ort vertreiben

Wo Regen drohen oder Schüsse schallen.

So unter Sonn’ und Mond’s wenig verschiedenen Scheiben

Fliegen sie hin, einander ganz verfallen.

Wohin, ihr?

Nirgend hin.

                    Von wem entfernt?

                                                  Von allen.

Ihr fragt, wie lange sind sie schon beisammen?

Seit kurzem.

                    Und wann werden sie sich trennen?

                                                                              Bald.

So scheint die Liebe Liebenden ein Halt.

 

 

 

Hierdie gedig het in 1928-29 ontstaan en is deur Brecht (1898-1956) in sy opera “Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny” gebruik. In 1950 het Brecht die teks gewysig.

 

 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Bertolt Brecht. Vertaling in Afrikaans”

  1. CP Naude :

    Kan die dubbelle nie, nie maar in laaste reël ingaan nie. Dit sal ‘n mooi vertaling net versterk, en die rym geensins belemmer nie, dankie Waldimar vir hierdie mooie vertaling.

  2. Waldemar Gouws :

    Dankie vir die gedagtes, Charl-Pierre. Maar in ‘n versreël wil ek soms amper verstik waar die dubbel-nie eis om gepleeg te word. Jy gee my moed.

  3. Dit is baie interessant om te sien watter oplossings Elisabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw en T.T. Cloete vir daardie dubbele nie vind.

  4. Waldemar Gouws :

    Ja, dankie Daniel. Om nou ‘n paar waarnemings kwyt te raak, net die volgende: Eybers verkies die enkel-nie. Daar is regtig letterlik ‘n onaangeraakte mond vol nie’s reg oor haar digjare. Uit “Balans” (1962) se “Pygmalion”:

    “Begeerlik tas hy na die sku kontoer
    binne die onverbiddelike klip
    en rus nie vóór ‘n marmer ooglid roer.”

    En uit “Dryfsand” (1985) se “Ontheemde”:

    “Hier, in die vreemde, en sonder ‘n masker aan…
    Die mense is hier nie minsamer as daar, gewis
    nie toleranter …”

    Van Wyk Louw was pragmaties, soos wat die gedig hom lei. Benewens die dubbel-nie’s kom bv. uit “Alleenspraak” (1935): “Ek het die aarde nie gesien” en uit “Tristia” (1962) lees mens in “XXXII”:

    “ons dor papier kom en vra woorde:
    daar sal geen woorde gegee word, nooit,
    behalwe die ongevraagdes …”

    Opperman benut ook soms die enkel-nie. Uit “Komas uit ‘n bamboesstok” se “Strelitzia en Jangroentjie” kry mens:

    “Toe, toe!
    jy is nog jonk!
    Dis nie vir kyk en ruik
    maar vir gebruik.”

    Cloete versit graag die tweede nie na die binnekant van ‘n volgende reël of glip daarmee sintakties oor na ‘n nuwe strofe. Hy verkies die bevestigende stelling ver bo die negatiewe stelwyse. Uit “Driepas” (1989) se “12. Misreën” kom hierdie voorbeeld:

    “die straat loop weg in die reën
    al die bome hang
    dit lyk of hulle ophou verlang
    het en niemand weet waarheen

    die rivier loop nie …”

  5. Marlise :

    Ek stem nogal saam met Charl-Pierre. Ek sou ook die ekstra nie in die laaste reël wil sien. Dis maar net ‘n ‘gut’-gevoel. Vroeër, met die meer formele verse van Eybers, Opperman, v Wyk Louw, is die nie dikwels weggelaat, wat nogal nie gehinder het nie. Hierdie vers is tog wel vir my meer vloeiend, stromende en daarom is my gevoel ook dat die ‘nie’ op die einde moet wees. Dit sal nie pla nie, want dis ‘n ‘sagte’ nie. Amper nie hoorbaar nie. Ag, dit net my mening … Andersins wel so ‘n lieflike gedig en vertaling.

  6. Waldemar Gouws :

    Baie dankie, Marlise. Die gevolgtrekking wat jy en Charl-Pierre gemaak het t.o.v. die afwesigheid van die tweede “nie” verander nou my idee van hoe die laaste reël van die gedig moet klink.

    Ek sal Marlies vra om die miskende woord sy (sagte, gedempte) posisie te gee aan die einde van die reël.

  •