Charl-Pierre Naudé. N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie

 

N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie

 

Ons bevind ons in die 50ste doodsjaar van N.P. Van Wyk Louw. Geen ander digter in Afrikaans is méér sinoniem nie met die idee van ’n wroeging oor God en sy relevansie vir die moderne mens as juis hierdie digter.

’n Onderafdeling van die Godsgeding in die digkuns, soos dit bekendstaan, is die teodisee-idee in die leterkunde (my beskrywing). Laasgenoemde kom in verskeie vorme voor oor die hele spektrum van digkuns, soms net as ’n flikkering binne ’n reël, soms as ’n strofe, soms as hele gedig.

Terloops, die feit dat “God” in “Godsgeding” of “geding met God”, met ’n hoofletter gespel word is al klaar ’n afsluiting tot deelversameling van die gesprek wat hier moontlik is …

Die impuls om te wil aansluit by hierdie genoemde refleks in die moderne letterkunde, in watter vorm ook al – om die noodsaak vir teodisee te bevraagteken óf om dit te bevestig –is by ons veral deur Louw gevestig.

Hier is ’n “teodisee-flikkering”, lukraak gehaal, en dit uit ’n gedig: “Dat pyn bestaan is onnodig, Heer/ ’n blom het nie tande nie.” Die digter is Breyten Breytenbach, uit Die ysterkoei moet sweet (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1964). En hy roep ’n kwatryn deur N.P. van Wyk Louw voor die gees, wat min of meer ’n teodisee-gedig is, “Ignatius Loyola bid vir sy orde” (Nuwe verse, 1954).

En so kan mens voortgaan met jou kartering van hierdie refleks in ons leterkunde.

Daar is teodisee-momente in die gedigte van Johan Myburg, Nini Bennett, Louis Esterhuizen, en die en daai en dalk bykans álle Afrikaanse digters se werk.

In Myburg, wat pas die Hertzog-prys vir poësie toegeken is, gewaar ek ’n effense renons aan teologiese dogma en iets soos ’n volstaning by die blote misterie van die gewaarwording. By Esterhuizen lees ek ’n negatiewe gevoel, maar sulke afwysings is myns insiens ook alternatiewe “teodisee”-momente. By Bennett sien ek ’n aangryp van die twyfel as positiewe bydrae tot geloof.

Hierdie digters en hoe ek daar te lese gaan is lukrake voorbeelde vir die onderwerp van hierdie skrywe. Hulle val, op dese oomblik, bloot uit my vuis.

Baie interessant is dat die defininisie van “teodisee” wat in die nuutste HAT 6 (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) aangegee word verskil van die definisie in die vroeër HAT. Dit was eers: “Leer van die Godskennis volgens die natuurlike rede”.

In die HAT 6 staan: “Verdediging van die goedheid/ almag van God, gesien in die lig van die bestaan van die bose.” Myns insiens is die nuutste inskrywing enger en meer teologies as omvattend woordkundig gestel. Die nuutste Pharos woordeboek lys beide hierdie betekenisse in baie mooi definisies.

Godsopvattings in die Westerse tradisie (om nie eens te praat van in ander tradisies nie) is van velerlei aard. Daar is byvoorbeeld die monoteïsme (Geloof aan een God), die politeïsme  (oftewel geloof in die veelgodedom), en die afwesige, “God-niks” van die Boeddhisme, om maar net ’n paar te noem.

Interessant is hoe die politeïsme en die monoteïsme vir baie lank in die Westerse tradisie naas mekaar bestaan het, en dalk nog steeds naas mekaar bestaan. Die Griekse gode het nie met die Oud-Grieke verdwyn nie. Die groot Duitse skrywer Johann Wolfgang Goethe, byvoorbeeld, beskryf homself so laat as 1830 as ’n aanhanger van die politeïsme, en hierin was hy nie alleen nie!

As ek myself kan waag aan ’n beskrywing van wat ’n godsopvatting vir my is, sal ek sê:  Dis die beliggaming, in terme van subjektiewe omskrywing, as metafoor, van invoelings oor onbeskryfbare kragte.

In hierdie gees wil ek afsluit met ’n teodisee-gedig van my eie (nog ene, ja …) – hieronder – wat uit my bundel Al die lieflike dade (Tafelberg, 2014) kom. Ek dink die gedig kan dien as kantlyn-illustrasie by bogenoemde bespreking.

Ten slotte, ’n staaltjie: Ek sal nooit een van my grootste ontnugterings as kind, wat grootgeword het met die dogma van die Protestantse God, vergeet nie. Ek het ’n onderhoud in ’n vrouetydskrif met die aktrise, Mia Farrow, gelees. Sy is gevra wat sy die graagste in haar lewe nog sou wou vind. Haar antwoord: “’’n God wat by my behoeftes pas.”

Maar is daar dat meer as een God, was my eerste gedagte. Daar is mos God, en dan is daar die res, wat almal afgode is, dan nie? En is God dan nie die een by wie jy jou behoeftes aanpas nie, eerder as andersom?

Tik my destyds om met ’n veer! Maar deesdae, vele jare later, kan ek ’n agting bymekaarskraap vir wat sy bedoel het. En geldig lyk dit wel.

Graag dra ek my huidige plasing aan Van Wyk Louw op. Daar is geen beter manier vir ’n digter om ’n seminale voorganger te eer  nie as met sy of haar blote self nie.

 

’n Kraak in die pleister

Middellande, van Natal sowel as elders

 

Om oor God te dink

moet mens dalk vergeet

van die groot waarheidskoepel

of die omvattende wand wat alles omsluit.

 

Beter om te soek

na die wink

van ’n klein-klein skeur

in ’n rotsformasie of diep in die brein,

waardeur lig van binne af ánders deurskyn.

 

Die ligte

wat sonderling en oombliklik verdwyn op water

 

of die senuhaartjie in ’n binneoor,

een van die tallose

wat net-net nog lewe in ’n lyk

 

bevat dalk ’n soort ewigheid

wat groter as die heelal

en ánders goddelik

en bestaansgewys verwikkeld is

as die aardbol,

 

want binne sy eie matesis.

Élke flitswêreld het sy grootse katedrale.

 

Elke dwarrelbries dra sy blare

soos die matte van ’n ou beskawing.

 

Die singende luik wat oopmaak op onbevatlike teses

is die pas verbleikte verledetydkeuse.

 

Om (byvoorbeeld) te kies

vir die wonder

om met minder omring te word:

Dis jou verjaardag, en jou geskenk is

ʼn ding minus, wat die somtotaal

van een meer is.

Jy kan nie wág vir die herfs nie

as die bloeisels uit die knop breek;

en jy sien daarna uit dat niemand kom kuier nie

sodat dae wat onvergeetlik was, onbelangrik kan bly.

Om nie vooruit te gaan nie,

uit liefde daarvoor!

 

Die deurtjie wat verbloem

word agter die nog ongeskilderde skildery,

maak oop op ’n trapstel

wat oploop na ’n praalkamer waarin minder

as niks is, jy moet dit net vind –

wat daar is

net vir jóú om die rame op die veelkleurige mis

van molekules

(gasruimteskepe)

oop te gooi teen ’n onverwagte skuinshoek,

sodat protone en elektrone kan inswerm en plons

en aanklots soos vlermuise, soos waansinnige pluimballe

opgeskud uit die ademend deinende, vlooibespikkelde

vangnet-met-sterre buite jou venster.

En dis maar een

van vele heelalle uit die einderlose na binne

en buite werwelende patrone

 

op God se mou; nee ’n baie klein mougod sélf,

wat aankom uit die wapperende klusters pouoë

van wandelende Paisley

en kolkende wolkestelsels

 

in die domein van die ongedinkte.

 

Ek onthou nie meer

hoe ek deur die kier geglip het nie,

deur ’n kraak in die pleister;

of ’n wêreld deur rook gesien het, waarin alles seismies swem

soos van voor ons dit tot vastigheid gedink het –

 

kriewelklein is die mens

en sy vertolkings

op ’n handpalmgrootte stukkie eindeloosheid;

op ’n weerkaatste ruitjie

skaats hy deur die ruimte.

 

Ek stap toe deur ’n woud spierwit berke,

versteen in ’n tydlose winter;

en die enigste monoliet

wat nie groter as die ander was nie

en daarom die grootste,

is Niegod genoem;

 

al vier seisoene was gelyktydig aanwesig:

kaalkeiserskille, elkeen, wat eenselwig

en voortdurend in die weifelende lig vervang is

maar uniform die dooie aarde bedek het,

 

terwyl die sjibbolet – volstrek die enigste

(dus wat nie lote maak nie)

wat ’n gees tot hierdie namaals kan toelaat –

Takbok! is.

 

’n Waas muggies dans in die somerskemer op ’n stoep,

’n kolletjiesproei

wat homself in figure hekel;

 

daar hang dit oor die rietjiestoel

soos ’n ou man wat opstaan,

 

en daar oor die koel plaveisel stap dit

soos ’n jong ma wat haar babatjie sus.

Dit warrel in die gestalte van Ovidius,

 

en vervloei tot ’n boom, ’n voëltjie,

of ’n godheid met ’n boodskap.

 

Die muur met sy ingemesselde rivierklip

loop lui langs die mirt, soos die kolle van ’n luiperd.

 

God, mens, ding:

wolke, elkeen met sy eie spoed.

 

 

Bookmark and Share

27 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé. N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie”

  1. Marlise :

    Lekker gelees hieraan, en sjoe, wat ‘n ongelooflike gedig!

  2. Marlies Taljard :

    Dankie vir die plasing van jou wonderskone gedig, Charl-Pierre.
    Ek dink die voorbeelde van teodisee-gedigte in Afrikaans kan veral aangevul word met die werk van TT Cloete, veral sy Job-gedigte.Teodisee is ‘n ingewikkelde teologiese begrip en sluit, veral in moderne tye, die 2 vrae in: 1. Waarom laat God lyding toe (Of: Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?) en 2. Kan die bestaan van lyding versoen word met die bestaan van God? Ons sien dat hierdie eerlike, langdurige worsteling van die diep gelowige mens met sy God wel ook by Van Wyk Louw voorkom (bv. in Die Hond van God), maar Cloete se werk word as’t ware gekenmerk deur ‘n lewenslange worsteling met die genoemde twee geloofsvrae. Volgens my mening kan die skrywer C.S. Lewis ook genoem word as iemand wat lyding versoen met die bestaan van God en daar is wel al deur teoloë aangevoer dat sy werk eienskappe van teodisee vertoon.

  3. Waldemar Gouws :

    Dankie vir jou treffende gedig en die aanraak van die teodisee-tema hier, Charl-Pierre. Leibnitz het die woord in Frans gemunt uit “theos” en “dike,” geregtigheid. Die verklaring in Collins se woordeboek maak die term vir my duideliker:”the branch of theology concerned with defending the attributes of God against objections resulting from physical and moral evil.”

    Breytenbach se klag, aanklag, beswaar: “Dat pyn bestaan is onnodig Heer” is dus ‘n voorbeeld van die ontstaansgrond vir die teodisee-verskynsel.

    Dat die digter hom/haar in ‘n besonderse verhouding met die godheid bevind, blyk uit hierdie reëls van Ovidius: “There is a god inside us; his movement makes us glow,/ His power owns the seeds of sacred thought./ For me above all it’s lawful to see a god’s face,/ Since I’m a poet or sing sacred themes.” (“Fasti” 6, reël 5-8)

  4. charl-pierre naude :

    T T Cloete is inderdaad ‘n belangrike en ‘n emblematiese voorbeeld van die gelowige kunstenaar se worsteling met hierdie teenstrydighede van die religieuse of die geloofsbelewenis. Ek sou hom kon genoem het. Maar daar is mense wat dit met meer ontsag sou kon doen as ek. Vandaar my stilswye oor Cloete. Hierdie sake is geweldig kompleks, ja. So ek is bly jy wys dit by implikasie uit. Vandaar my verdere problematiserende opmerkings. Geloofsbelewenis en religieuse belewenis, byvoorbeeld, lyk my nie noodwendig dieselfde nie, maar beide kan ewe intens wees.

    Ek het die teodisee-begrip benader vanuit die ander woordeboekdefinisie daarvan, nie die teologiese een nie, wat naamlik lui: “Die natuurlike leer omtrent God vir sover hy deur die rede kenbaar is.” (Pharos, Nuwe Uitgawe). En vanuit daardie hoek lyk die sake net interessanter en nog boeiender, geweldiger.

    In daardie (tweede) definisie van “teodisee” kan “ongelowiges”, soos die digter Czeslav Milosz, ook teodisee’s formuleer. En soms dink ek die sogenoemde ongelowige, soos Milosz, is die Godsbegrip veel meer tot diens, in die veelkantige aandag wat hy daaraan gee, as vele gelowiges. So waar trek mens die streep? Is ongeloof nie maar ‘n vorm van geloof, as dit op ‘n bepaalde manier bedryf word nie? Ek verkies om die wroeging met en oor God, nie te sien as beperk tot die gelowige nie. In elk geval, vind ek begrippe soos gelowige en ongelowige, sowel as teis of ateis, nogal toenemend beperkend soos die konteks der eeue waarin daar gepraat en beleef word aan hierdie begrippe bykans ongendadiglik besig is om uit te brei …

    Terloops, niks is meer ‘n bewys hiervan nie, as die feit dat Milosz saam met die grootste heiliges in Krakau ‘n grafkelder deel nie. Daar het ek ook gaan staan op ‘n kol. Dis ‘n wonderlike skaduplek onder die onbegrypbare son, daardie. (Bietjie koel in die winter dalk.) Die Poolse Katolieke Kerk het hierdie “ongelowige” waardig genoeg gevind om hom daar tussen die heiliges neer te le, iets wat ek vertolk as ‘n besonder aandoenlike en baie tekenende teken van nederigheid deur ‘n groot instelling. (Ek noem Milosz omdat my voorlaaste blog hom ter sprake gebring het.)

  5. charl-pierre naude :

    Marlies, baie dankie vir jou mooi opmerkings oor my gedig wat ek daar ingesluit het.

    Ek wil ook net se: Die bostaande opmerking is in gesprek met jou opmerking, wat net voor Waldimar s’n verskyn.

    Waldimar, jou opmerkings is absoluut tersaaklik, ja, veral die Ovidius-aanhaling. Ja, ek stem saam met wat jy se oor die twee Breytenbach reels.

  6. CP Naude :

    Een laaste opmerking (ten opsigte van Marlies se kommentaar: Ek dink die argumente wat lyding versoen met die idee van God se bestaan, en Cloete sou dalk hierby aangesluit het as hy nog gelewe het, word interessanter en moontliker. (Ek bly by die inhoud van uiteenlopende redevoerings, as ek dit sê.) Na my gevoel,is Milosz se argument in sy beroemde gedig,ondanks die woordkrag van sy argument, nie meer so oortuigend nie.

  7. Marlies Taljard :

    Charl-Pierre, ek hoop nie jy lees my kommentaar as teregwysings nie, wat dit (ek dink jy weet!) nie is nie. Die begrip “teodisee” is ‘n teologiese begrip, maar natuurlik pas ons literatuurwetenskaplikes begripe vanuit alle sfere aan om te probeer sin maak van die kreatiewe geskrewe woord. Cloete het ook nie sy geloof eng binne ‘n dogmatiese raamwerk uitgeleef nie (weet ek wat hom geken het en dikwels met hom daaroor gepraat het). Die worsteling met God of ‘n godheid of ‘n Hoër Teenwoordigheid is so oud soos die mens en altyd geldig. Ons is immers ten dele gees en soek na transendentale sin. Soms wonder ek of alle poësie nie die soeke na sin buite onsself is nie. Jou digkuns is dit beslis wel. Hierdie is ‘n baie interessante gesprek en ek dink die teodisee-begrip in die digkuns kan verskeie nagraadse studente nog lank besig hou. Wat egter belangrik is van dié begrip, is dat dit ‘n ERNSTIGE en ‘n EERLIKE soeke na transendensie behels en dat dit dikwels ‘n digterskap as sodanig betrek, eerder as enkelgedigte.

  8. Charl-Pierre, ‘n interessante gesprek, maar dis nie vir my duidelik na watter Pharos-woordeboek (nuwe uitgawe) jy verwys nie. Seker nie die tweetalige woordeboek wat nie definisies verskaf nie.

  9. CP Naude :

    Nee, o aarde, Marlies. Nee, ek het nie jou pos as teregwysing gelees nie. Dis belangrik om die basiese teologiese betekenis van “teodisee” te benadruk. Soos jy gedoen het.Ek waardeer dit. Dit is tog die “eerste betekenis” van die term. My eie skrywe daarenteen, staan in die teken van die tweede, “gesekulariseerde” betekenis van die term. In ‘n sin kan mens dit die afgeleide betekenis van die term noem. (As my eie toon iets teregwysend gehad het, verskoning hoor… Terloops, ek kan nie jou hele laaste kommentaar op my foon lees nie,sal wel wanneer ek my rekenaar weer aanskakel.Zo ek reageer hier op jou eerste sinne.) Daniel, dis die Pharos Verklarende Woordeboek.

  10. CP Naude :

    O, nou kan ek jou hele kommentaar lees Marlies. Ek stem volmondig met jou saam. Dit gaan oor die transendente soeke. Terloops lees ek vanmiddag n ou opstel van JJ Degenaar waarin hy praat van “taalspel”.Die teodisee-begrip word in uiteenlopende taalspelle gebesig. Degenaar is in hierdie opstel ambivalent oor die waarde van die transendente, vind ek, ondanks, of as gevolg van sy wonderlike diepgaande sekularisering van Christelike etiek. Hy bly ‘n bevloë sekularis, maar dis’n woord waarvan die betekenis sedert sy werk baie verander het. Boonop het die taalspel oor die plek van metafoor in die denke rondom God en teodisee so verander dat die transendente baie sterk terugkom. En ek vermoed dis juis hier, waar ek dalk meer uit Cloete se denke sou kon put. Maar daaroor sal ek jou in ‘n e-pos pols, ek raak nou langdradig.

  11. CP Naude :

    Of, laat ek dit beter stel: daar is meer spelruimte vir die transendente weens die veranderfe plek van metafoor as waarde, vir diegene wat dit as belangrik beskou.

  12. CP Naude :

    As ek so kripties verwys na “metafoor”, praat ek van die denke oor die veronderstelde metaforiese gedaante van die realiteit, soos bedink in die eietydse filosofie, onder meer.

  13. charl-pierre naude :

    Erratum (in een van my kommentare hierbo). Daar staan: “Maar daar is mense wat dit met meer ontsag sou kon doen as ek. Vandaar my stilswye oor Cloete.”
    Ek het bedoel met meer GEsag. Askies.:-)

  14. Breyten Breytenbach :

    ek het so hard probeer
    om familie te mag wees van Cloete
    (gedog miskien van my ma se kant)-
    het selfs in Cloetesville gaan soek
    na genade –
    maar toe spreek hy in die naam
    van sy skynhuilige volksgod die ban
    oor my uit
    en sedertdien struikel ek oor my (vers)voete

  15. Annora Eksteen :

    Jy en jou versvoete struikel allermins Breyten. Jy is helder en duidelik. Cloete is die een wat heiligend skyn… en al huilend voortstrompel. Ons weet daar is ‘n ster in die ruimte genaamd Breyten wat sal aanhou skitterend eerlik eenvoudig en wonderskoon… verlig.

    (Die nuwe ateïsme is ‘n geloof CPN? Wat mense wáárvandaan kry?)

  16. Waldemar Gouws :

    Baie dankie, Breyten. Die dilemma is aards, lokaal, nie aarts nie, en die struikelblok ‘n vonds.

  17. Waldemar Gouws :

    ‘n Resessie vir die resepsie van ‘n treffende gedig. Was die aksent van Bakhtin misplaas in sy strewe om ‘n brug tussen kuns en lewe te bewerkstellig?

    Of daar net twee mense met karikatuur-lange nekke is (soos okapi’s, en opvallend gekleur, nl. pers en geel) wat dit waag om die water te roer, lyk onwaarskynlik.

    Ek wonder hoe die grond onder ons voete lyk: heilig of ongewyd, dun of bevrore, of dalk selfs in traksie.

    Waarheen sou die geding met God kan dwing? Ek het gedog die sens van sensuur is al opgeroes.

  18. charl-pierre naude :

    Breyten, hierdie gesprek sou NIE volledig gweees het, sou eenvoudig nie eg wees sonder daardie pragtige vers van jou hierbo in die kommentaar. “Cloetesville”! 🙂 Vir diegene wat nie weet nie, Cloetesville is ‘n bruin woorbuurt buite Stellenbosch wat tot stand hgekom het deur middel van die “wholesale” verskuiwing van bruinmense uit die gewaande “blanke” dorp, in die tyd van apartheid. Elke leser hier moet sy eie “eksegese” van hierdie vers doen in die lig van bogenoemde gesprek. Die vraag na: Kan pyn en God gelyktydig bestaan, kom hierdeur nogal op ironiese wyse in fokus. Die antwoord sou dalk kon wees: Ja, danksy, JOU, mens, jy, jou soms lotus-lose A-mens! Ek wil egter volstaan by die volgende: Waarvan ek veral hou in Breyten se politieke kommentare deur middel van die digkuns, is hoe die dimensie van humor ‘n speling bring vir ‘n soort veelkantigheid, wat onder meer, by gebrek aan ‘n beter woord, plek laat vir vergifnis.

  19. charl-pierre naude :

    Annora, ek verloor jou nou. Ek weet nie wat jy bedoel met “nuwe geloof” en ook nie wat jy bedoel met “ateisme” nie. Het dit te doen met my woord “transendensie”? Daarme bedoel ek die strewe na die nog-buitemenslike, met ander woorde die God-delike, wat deur ons as mense menslik gemaak moet word. Daar is niks in hierdie strewe waarop ‘n gelowige hom voor die bors hoef te stuit nie. Ek dink persoonlik Nietzsche se verwoording daarvan is een van die mooistes. Maar dis al op baie maniere gestel, en onoortreflik so, deur Christus self in die Bybel.

  20. charl-pierre naude :

    Waldimar, jy maak ‘n enigmatiese opmerking. As jy bedoel dat ons gesprekke nie naastenby uitkom waarby ‘n gedig wat daarin slaag om te spreek, uitkom nie, is ek dit met jou eens. ‘n Gewone gesprek – soos hierbo in die kommentare – se grootste waarde – vir my – le hierin: dat dit probeer reik na die digkuns, maar nie kan nie. En dis ook maar oukei, of hoe? Ons herinner onsself dan aan dit waaroor Versindaba gaan … ! 🙂

  21. charl-pierre naude :

    Vir Waldimar: soms is ons, ons almal, maar lotuslose a-mense. En soms is ons mense.

  22. Breyten Breytenbach :

    Beste C-P: Dis altyd ‘n plesier om ‘n Saterdagoggend in Newwernewwerland te kan oopmaak met ‘n skrywe van jou. Glo my, jy verbly hierdie ou skobbejak se hart. Wat ek snodeloos agtergelaat het om te sê is hoe sterk daardie vers van jou is, die een wat op veel meer geloofwaardige wyse na méér beduie as wat die opstel oor godsoeke ooit kon doen.

    Cloete? Tja, dis natuurlik altyd maklik (en nie juis baie braaf nie) om ‘n ontslape ikoon aan die kneusbares beet te kry, veral nou hy nie meer daar is om op sy knieë te gaan en te bid vir die sondaar wat nie weet wat hy doen nie. Iemand wat hom Anderkant raakloop moet tog mooi verduidelik dat dit maar net ou laai van die heiden in die heining is om verby sy mond te wil praat. Oom Tao (Martiens Versfeld) het by geleentheid gemompel: “Die tong dink hoeka hy is slimmer as die mond.” Waar is die kies dan wanneer ons dit laat gebeur asof daar nie ‘n keuse is nie?

    Vergifnis is belangrik! (Dis byna net so belangrik soos ‘aanvaarding’…)

    Indien hy (en jy)(en djille) my dit dit sal vergewe – ek kon my self net nie weerhou van die verdere (skoor)soeke nie… :

    ek het so hard probeer
    om familie te mag wees van Cloete
    (gedog miskien van my ma se kant)
    het selfs in Cloetesville die spoor gaan soek
    na gene by ontstentenis aan genade –
    maar toe spreek Hy mos in naam
    van Sy skynhuilige volksgod die soet
    verdoemende banvloek
    oor my uit –
    en sederdien struikel ek oor my (vers)voete

    Wat darem nie beteken dat die edik die rede sou wees waarom ek aan die drink geraak het nie. Of ten minsjte nie die enigsjte nie.

  23. Breyten Breytenbach :

    DIE GROOTVERGEET
    (vir Charl-Pierre Naudé)

    Hopelik bestaan die Grootvergeet
    ook uit ‘n duisternis klein vergiffinkies –
    want waaraan sal ‘n boom se drome geken word
    as dit nie was vir klein inkgoedjies
    se spatsels,
    vir die geraas vinkies in die takke nie?

  24. Marlies Taljard :

    Wanneer Charl-Pierre die begrip “teodisee” gebruik en wanneer ek na Cloete se poësie verwys, doen ons dit binne ‘n akademiese konteks en nie as deel van ‘n gesprek oor gelowig-wees of Christen-wees of met verwysing na die oppervlakkige “pienk literatuur” nie. Teodisee is ‘n akademiese term wat binne die teologie voorkom (ek publiseer Maandag ‘n onderhoud met Cas Vos op Versindaba waarin hy as akademikus en teoloog die begrip deeglik definieer en uiteensit). Wat belangrik is, is dat teodisee nie ‘n term is wat slegs op Doppers of slegs op Gatjiepônners of op Afrikaanse “godsdienstiges” of Apostolies of Moesliems of Hindoes, ens. van toepassing is nie. Dit het te make met ‘n ERNSTIGE en OPREGTE (dikwels lewenslange) soeke na antwoorde op algemeen-menslike vrae – in hierdie geval vrae oor die saambestaan van goed en sleg; donker en lig; boosheid en verhewenheid; pyn en geloof in die Goeie. Dit is nie ‘n problematiek wat slegs aan dogmatiese denke eie is nie.
    As iemand wat eens teologie studeer het en op 18 deur polio permanent gebreklik en in pyn gelaat is, is dit vir my vanselfsprekend dat Cloete lewenslank met dié vrae gespook het. Hy het hom verset teen mense wat hom in die blik van “godsdienstige digter” en “Christelike digter” wou druk. Lees gerus sy laaste twee bundels … daarna sal niemand weer na hom as Potchefstroomse Dopper verwys nie. Ek weet nie of hierdie problematiek ateïste of agnostici gespaar bly nie, maar vir hierdie argument is dit seker nie ter sake nie … Charl-Pierre se gedig is ‘n pragtige illustrasie van die term sonder om soetsappig of aangeplak aan te doen. Dit geld vir die mens as sodanig te alle tye

  25. charl-pierre naude :

    DIE GROOTVERGEET’ is pragtig, Breyten.Ja-ja, met jou eens, met jou eens. Ek self sal dit meer dikwels probeer onthou. Dankie vir so ‘n mooi moment op ‘n Maandagoggend.

    Wat my opval is hoe daardie vers vol donker inkwoorde is. Maar, tog, alles daarin “flikker”!(Dis iets wat geen opstel kan doen nie.)

    Marlies, dankie dat jy in jou laaste opmerking die gesprek omraam het. Kom ons kyk wat se Cas.

  26. Annora Eksteen :

    Annora: “Die nuwe ateïsme is ‘n geloof CPN? Wat mense wáárvandaan kry?”

    charl-pierre naude :
    September 5th, 2020 at 9:25 am
    “Annora, ek verloor jou nou. Ek weet nie wat jy bedoel met “nuwe geloof” en ook nie wat jy bedoel met “ateisme” nie. Het dit te doen met my woord “transendensie”? Daarme bedoel ek die strewe na die nog-buitemenslike, met ander woorde die God-delike, wat deur ons as mense menslik gemaak moet word. Daar is niks in hierdie strewe waarop ‘n gelowige hom voor die bors hoef te stuit nie. Ek dink persoonlik Nietzsche se verwoording daarvan is een van die mooistes. Maar dis al op baie maniere gestel, en onoortreflik so, deur Christus self in die Bybel.”

    Jammer Charl-Pierre. Ek het vinnig en verkeerd gelees en gedink jy beskryf ateïsme as ‘n geloof. Nuwe ateïsme is dieselfde as ateïsme. (Ek het nie geskryf ‘nuwe geloof’ nie.) Vir my omskryf nuwe ateïsme maar net die ateïsme van die ateïste wat in ons tyd daaroor argumenteer.

    Die definisie van ateïsme is myns insiens nie beperkend nie. Dit is die ongeloof of gebrek aan geloof in die bestaan van ‘n god of gode. (Geen godsoeke meer nie, inteendeel die genieting van ‘n godlose lewe my mede-ape. Vrek verlossend as jy my vra. Maar ja, vir hierdie argument nie ter sake nie.)

    Ek voel egter dat die teodisee-idee (soos ek die definisie verstaan) nie in ateïste se skryfwerk of gedigte dan, kan voorkom nie. Ek weet nie of Degenaar ‘n ateïs was nie.

    (Of by betragting – dalk is nuwe ateïsme soos ek – ek was voorheen so halwe Christen-tipe, nou al meer as ‘n dekade is ek ‘n ateïs. Nuwe ateïs?)

    O. Ek sien nou: jy vra die vraag of ongeloof nie maar ‘n vorm van geloof is nie. Nee. Dit is nie.

    (Ek weet nie waar mense dit vandaan kry om ateïsme as ‘n geloof te beskryf nie.)

    En nee, my kommentaar het nie te doen met jou woord ‘transendensie’ nie. Christus en die Christus-skrywers het hom(hulle)self weerspreek. Wat Nietzsche geskryf het, weet ek tans nie.

    Ek wil voorts argumenteer dat alle kragte wetenskaplike beskryfbaar is, dat ons niks gees is nie, maar dan dwaal ek verder af van die teodisee-onderwerp (en lyk my die genoemde transendentale) in die werk van gelowige, of half-gelowige (transendente?) digters wat worstel met dinge wat vir my deur evolusie (natuurlike seleksie / ontwikkeling)verklaarbaar is. (Ek dwaal af. Alweer. Skies!) Moet my nie verloor nie – ek probeer hard om myself helder te betik. Ek voel ek was getik toe ek nog geglo het…

    Ek verstaan en waardeer die afsluitende omraamde kommentare oor die akademiese omvatting van die begrip in die kuns van gedigte.

    Ek staan egter tans nog op my punt bo genoem, maar het gelees wat Cas Vos beskryf.

    Ja vergifnis is goed. Net so goed soos om te erken as mens verkeerd was en jammer te s^e. So ploeg voort mar moet nie te veel swoeg … julle wonderlike kunstenaars.

  27. Annora Eksteen :

    Pardon!
    Ja. Ek sien nou teodisee kan wel in ateïste se skrywe en gedigte voorkom.
    Ek het myself verkeerd bewys deur ‘n paar werke te bestudeer.

Los kommentaar

 

*

  •