Die wit pad
Vir NPvWL
Al met ’n wit pad langs die bruin
Romeinse legioene het ook hier gedraf
Belge, Bataviërs, Friese gestraf, gesnoei
blonde vrouevlees deurgedraf
saad in die modder gelaat waaruit
soms Boergondies uitspattig maar styf
’n deftigheid, ’n hoflikheid
van jas, hoed en sjaal sou spruit
tot waar jy nou moet twyfel tussen wit of swart
vir die stropdas by jou toga
vir die eregraad in die stip skadu van ’n domtoring,
’n du nader aan professorale weledelgeleerdheid.
Ná die carrilon beier ’n verhewe U,
hoë koue paaie, ’n aristokratiese ideaal.
Buite op ’n plein loop son-blink duiwe onversteurd,
oor ’n oude gracht skeer ’n windvlaag:
uitgelate stalhings wat verkwik rimpeltjies blaas
áánblaas aan ’n óú vermoede
alles tesame is net een Groot Vertelsel
die wit pad vurk ewegoed na Gunsfontein
of áf met Verlatekloof na winterweiding
onder Jafta, Josef en September se velskoensole
onder die moftrop se swartblink drollie-tjies:
voetpad en klipsweet, spekbos wat spou – o!
die bloubos het die goue pit.
© Wium van Zyl, 2020
‘n Pragtige gedig, Wium. Inhoudelik ryk in die subtiele gesprek met die verlede en Louw én met die hede en die toekoms, ook tegnies absoluut voortreflik.
Hierdie is ‘n toonbeeld van digkuns in ‘n soort klassieke Afrikaanse styl. Die selfsekerde stem span so mooi met die tema van huiwerende verval. ‘n Pragtige gedig, soos lanklaas gelees. Wonder of daar weer ‘n bundel van jou sal kom.
‘n Formidabele vers, Wium, met dié helderbeskrewe vurk in die pad tussen wit of swart, tussen Gunsfontein en Verlatekloof. Als so heldersiende saamgetrek van vroeg tot laat.
Asof op een posseël…
En dan die slotpunt, na die pit.
Om van te ween…
Skryf nog!