Ek het eintlik hierdie die onderhoud met Lynthia Julius bedoel vir vrouemaand, wat pas verby is, hoewel ek dink mens behoort nou al ‘n vrouedekade uit te roep, as mens na die nuushooftrekke kyk. Ongelukkig het Lynthia-hulle toe ‘n dood in die familie gehad wat ons tydsberekening so ‘n bietjie omver gewerp het. Nou het daar egter weer ‘n nuwe krisis opgeduik wat inspeel op die titel van Lynthia se bundel – die hare-kwessie en al die pyn en woede wat deur ‘n enkele advertensie aangerig is.
Die bundel “Uit die kroes” bly ‘n goeie aanknopingspunt vir ‘n gesprek oor vorue, vroueregte, vroue-onderdrukking en vrouemaand in Suid-Afrika. Ek het heerlik gelees aan Lynthia se eerlike antwoorde op my vrae. Dankie Lynthia, dat jy ten spyte van lewenskrisisse met my gepraat het.
Marlies Taljard: Daar is twee belangrike gedigte in “Uit die kroes” wat verwys na herkoms. In “Ontheemding” (p.41) skryf jy:
as ek in Springbok kom is ek te stad
in Kimberley te Nama
En in “Die intellektualisme van goed” (p.54-55) staan:
Ek wou hardloop
die Noord-Kaap al in
verby Griekwastad, Groblershoop, Upington, Keimoes,
Kakamas, Pofadder, Aggeneys
ek wou hardloop en hardloop tot in Mamma se huis (…)
Vertel tog seblief vir ons iets oor jou grootwordjare, jou grootwordplekke en die wyse waarop dit jou lewensiening en natuurlik jou digkuns beïnvloed.
Lynthia Julius: Ek is gebore in Springbok en het grootgeword in Kimberley. Maar my hart bly altyd in Namakwaland. Ek het nie aangepas in Kimberley alhoewel ek al die jare hier gebly het. Toe ek klein was het ek elke keer as ons uit Springbok ry heel pad Kimberley toe gehuil. My ma-hulle het dit altyd die ‘Tranedal’ genoem. My leefwêreld is onlosmaaklik deel van my gedigte. Die skoonheid van die Noord-Kaap, die mense. Ek sou nie kon skryf soos ek skryf as ek nie ’n Noord-Kapenaar was nie.
MT: Lynthia, wanneer jy skryf oor die vrou Sara (p.7), oor Aurora (p.11), Amria van Bengale (p.12), “die meid wat haar wangedra het” (p.13) en al die baie ander vrouekarakters in die bundel, hoeveel daarvan is (verkapte) outobiografie? Sou jy die bundel “Uit die kroes” as (outo)biografies beskou, of as verwysend na die vrou as sodanig – die argetipiese vrou … of dalk die vrou in Afrika? Is daar ‘n verskil tussen al dié vroue?
LJ: Dis nie vir my outobiografies nie. Die gedigte is hulleself. Na ek dit geskryf het het hulle nie meer aan my behoort nie. Elkeen het aan die vrou behoort oor wie ek geskryf het. Dit was nie my storie nie, dit was hulle s’n. Die karakters is gekies oor hulle ander vroue en hul rol verteenwoordig. Die vrou van Afrika, die vrou wat ‘other’ is. Hulle is hulle eie agente van die wêreld. Ek is aangetrokke tot karakters van my eie kultuur en grootword, maar ek wil nie hulle stories net myne maak en hulle as myne eis nie. Ek wil plek los vir die leser om te vereenselwig met die verskillende vrouens.
MT: In die titel, “Uit die kroes” resoneer die uitdrukking “deur die smeltkroes gaan” duidelik saam. Volgens die primêre bronne oor liminaliteit (soos Van Gennep, Turner en Eliade) is pyn en verwonding een van die belangrikste aspekte van die liminale toestand (soos dit byvoorbeeld in inisiasierites voorkom) ten einde ‘n nuwe identiteit te konstrueer. Daar is talryke gedigte in jou bundel wat oor fisieke sowel as geestelike pyn handel. Is dit ‘n pyn wat uiteindelik tot ‘n soort bevryding kan lei, of is dit tevergeefse pyn? Is dit pyn waaruit daar uiteindelik nuwe identiteit kan groei, en sou dit kon lei tot bevryding van die ou, gestigmatiseerde identiteit wat deurgaans uit die gedigte haar stem laat opklink? Sou ‘n mens jou bundel as ‘n metafoor vir inisiasie kon beskou?
LJ: Ek glo nie pyn kan tevergeefs wees nie. Dit is soos Eugene Marais gesê het; ‘Alle bewussyn is pyn.’ Dis vir my hartseer dat dit so moet wees en voel soms onregverdig, maar die mens is mos, maar ’n gekompliseerde ding. Die loutering is ’n seer proses, maar hoe sal jy maak? Dit aanvaar en aangaan. My bundel kan as ’n metafoor vir inisiasie beskou word. Ek dink nou aan Totius se ‘O, die pyn gedagte.’ Dat so ’n goeie gedig uit soveel pyn moet kom.
MT: Daar is verskeie gedigte in jou bundel wat my letterlik na my asem laat snak het. Met verwysing na enkelgedigte, wat is volgens jou mening die grootste onreg wat teenoor vroue gepleeg word, in Suid-Afrika én elders?
LJ: Die feit dat mans hulle baas gehou het oor vrouens en hulle stem van hulle af geneem het. Daar’s baie goed wat ek in die lewe nog sal oor kom, maar ’n man sal my nie besit nie. Die vrouens voor my tyd het te hard geveg daarvoor. Om te kan besluit en nooit daarvoor verskoning te vra nie is vir my kardinaal. Dat hulle mans se besitting gemaak was is vir my die grootste onreg wat teenoor vroue gepleeg was en nog steeds in sommige plekke plaasvind. Daai goed speel nie op my tv nie.
MT: Die voor-die-hand-liggende betekenis van “kroes” slaan op hare, soos in die slotgedig (p.82-83):
ek was te kroes om ‘n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees
ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees (…)
Kan jy, met verwysing na die bundel “Uit die kroes” vir ons as lesers die dilemma skets wat die tema van die bundel vorm, maar ook hoe (dele van) die dilemma op alle vroue van toepassing is. Indien jy ons Suid-Afrikaanse samelewing kon nuut maak, hoe sou jy dit doen? Verwys gerus terug na die gedigte in die bundel.
LJ: Vrouens is al die jare voorgesê hoe hulle moet lyk en hoe hulle moet wees. Vir my is die ergste dat vrouens ander vrouens verdruk het met die ideologieë van mans oor vrouens. Ek het laas ’n aanhaling gelees wat my geruk het. Dit lui; ‘We teach our sweet little girls to be liars and fakers from a young age: No, I’m not hungry. Wow, that feels great. No, I don’t blame you. Yes, I love you. No, I’m fine.’ Indien ek dit nuut kon maak sou ek vrouens leer om nie vir ’n man te skrik nie. Om luidkeels te praat oor wat haar nie lekker sit nie, oor wat haar ongemaklik maak. Ek sou vrouens leer om hulle waarheid te sê en nie eenmaal verskoning te vra daaroor nie. Om nie hulleself aan die brand te steek om enigeen warm te hou nie. ’n Gedig wat hieroor praat is, Die vrouens in my familie; Die vrouens in my familie het hulle stemme ingeboet vir hulle mans s’n.
Lekker gelees aan die onderhoud. Ek geniet jou bundel sommer baie, Lynthia – dit wat so maklik lyk en boekdele spreek.
Insiggewende onderhoud met n belangwekkende nuwe digter.