Die meeste sterre is lankal dood deur Johann de Lange. Human & Rousseau, 2020.
Resensie: Stefan van Zyl
In ʼn jaar gekenmerk deur verlies is Johann de Lange se mees onlangse bydraes tot die Afrikaanse poësiekorpus ʼn uiters welkome aanwins. Binne ʼn paar maande ná sy sestigste verjaarsdag, verskyn sy dertiende digbundel, Die meeste sterre is lankal dood (2020), sowel as ʼn tweede bundel kwatryne, Duimnaelsketse (2020), én Oopkardoes (2020), ʼn versameling van Hennie Aucamp se boertige ryme waarvan hy die samesteller is.
Die meeste sterre is lankal dood word opgedra aan Joan Hambidge en “al my mooi dooies” wat dui op die retrospektiewe en elegiese aard van die verse in die bundel. Die woord “sterre” verwys op figuurlike vlak na beroemdes of mense wat in een of ander opsig uitblink. Op letterlike vlak is daar die meer konkrete verwysing na die sterre in die hemelruim. Soos enige astrofiel weet, is die sterre wat saans op enige gegewe tydstip vanaf die aarde waargeneem kan word slegs vroeëre weergawes van sigself aangesien sterlig duisende jare neem om die aarde te bereik. Dit beteken dat aardelinge as ʼt ware terugkyk in die verlede en dat die meeste sterre wat waargeneem word, lankal nie meer bestaan nie. Hierdie betekenisse sluit ook aan by die uittreksel van Emily Dickinson se vers “One Sister have I in our house” wat as motto voorin die bundel verskyn.
Al die temas wat Johann de Lange se digkuns kenmerk, is ook in hierdie bundel teenwoordig in die vorm van natuurverse, religieuse/spirituele verse, wetenskapsverse, (homo-)erotiese verse, verse oor digterskap, herinnering, verlies, afskeid, veroudering en heelwat intertekstuele verse wat in postume gesprek tree met bekendes wat lankal dood is. Die bundel bestaan voorts uit ses afdelings: “Inskaduwings van lig”, “Die sysies & die spreeue”, “Vergete vuur”, “ʼn Beiteltjie”, “Alles van waarde” en “Gebedewiel”. Elke afdeling word voorafgegaan deur ʼn motto wat telkens ʼn aanhaling uit die werk van ʼn bekende digter is (William Butler Yeats, Boris Pasternak, Sappho, Basil Bunting, Erica Jong en William Shakespeare).
1. Inskaduwings van lig
Die verse in die eerste afdeling handel oor musiek, visuele kuns (skilder Richard Hamilton en kunsdief Stéphane Breitwieser), ʼn koorddanser, die skrywer Jean Genet, die Griekse mitologie en digterskap. Die openingsvers vestig die idee dat De Lange digkuns aanwend om mense in woordbeelde te verewig: “Soms tuur / ek na hoe lyne op ʼn vel / papier tot mens verdig” (p. 11). Dit sluit aan by die titel van die bundel, want hoewel die meeste sterre lankal dood is, beskik die digter oor die vermoë om sodanige sterre weer “lewend” te maak in die verse wat oor hulle geskryf word. Die laaste vers in die afdeling sluit aan by die eerste omdat dit iets van De Lange se ervaring van digterskap laat deurskemer:
Digter al digterby (p. 21)
Om met woorde
die onsegbare te sê,
die hoogste berg te bestyg
waar die lug dun raak,
of af in die onbewuste dieptes
waar diamante vorm –
Om die teks
van miljoene jare
in die yslae
van Antarktika te lees,
of die ringe van boomstamme
op land.
Om omsigtig
die smeltkroes
van die vulkaan te nader
waar die vel begin
wegskroei soos papier.
2. Die sysies & die spreeue
De Lange se vermoë om treffende beeldwêrelde binne die bestek van enkele woorde op te roep word in hierdie afdeling getoon in natuurverse wat indrukke van verskillende omgewings, natuurlewe en -verskynsels is. Onderliggend aan hierdie verse is egter die belewing van veroudering en dood soos gelees kan word in die versreëls “Pen op papier / teken ek als op, skrywende tot & met” (p. 26) en “Bome laat hulle blare gaan, / winters kom, tot 90 keer” (p. 49). De Lange weet hoe om verskillende versvorme behendig aan te wend ten einde bepaalde boodskappe oor te dra, soos in die twee haikoes en die twee odes gesien kan word. Benewens die landskapsverse is daar ook verse oor insekte, seelewe, voëls, voedsel en rotskuns. Die afdeling word dus ook ʼn soort inventaris van die Suid-Afrikaanse natuurlewe en dien as literêre bewaring van spesies.
3. Vergete vuur
Die titel van hierdie afdeling herinner aan Sheila Cussons se vers “Twee winter-akwarelle van Amsterdam” uit haar debuutbundel Plektrum (1970) wat intertekstueel met die skilderkuns in gesprek tree. Die motto vooraf is ʼn vertaling van die liriese Griekse digteres Sappho se “Fragment 16” deur Anne Carson wat onder meer die tematiek van homoseksualiteit te berde bring. Die verse in hierdie afdeling handel oor die liefde, begeerlikheid, seksuele genot, (homo-)erotiek en verlange. Dit is opvallend dat De Lange se homoërotiese verse hier meer subtiele verwysings en innuendo’s bevat sonder die eksplisiete geil ruigheid van ander soortgelyke verse in sy oeuvre. Daar is wel steeds ʼn speelsheid teenwoordig en heelwat word aan die leser se verbeelding oorgelaat. Bewuswording van veroudering (“deur my stroom die water / vir kwalik sestig jaar / van goue stroom tot druppel-kater”, p. 53) en eensaamheid (“Net ons, van kus tot kus alleen met ons lus, / is ingegrendel vir die eensame nagarbeid”, p. 55) kom verder in hierdie afdeling aan bod. Laasgenoemde aanhaling kom uit een van twee verse getiteld “Hebban olla vogala” wat moderne herskrywings van die Oudnederlandse teks uit die elfde eeu is en met die bundeltitel resoneer want, nes die lig van vergane sterre, inspireer hierdie teks steeds eeue later hedendaagse digters. Daar is ook ʼn treffende homoërotiese vers oor die digter Kavafis, sowel as ʼn cruise-vers en ʼn vers oor die kompleksiteit van heteroseksuele mans wat seksuele ervarings met ander mans het. Die afdeling word afgesluit met die vers “Eerste dinge” (p. 65) wat ʼn beskrywing is van die digter se skynbaar vredige geroetineerde bestaan saam met sy katte wat bes moontlik die plek van mense ingeneem het om die eensaamheid te verdring.
4. ʼn Beiteltjie
Die digterlike gesprek met NP van Wyk Louw wat oor dekades strek, vind ook in hierdie bundel neerslag met die afdelingtitel wat ʼn direkte verwysing is na Louw se bekende vers, “Die beiteltjie”, wat vir die eerste keer in Nuwe verse (1954) verskyn en alom geïnterpreteer word as metafoor van die digter se vermoë om deur middel van poësie die wêreld te deurgrond. Dit is voorts uiters gepas om intertekstueel na Louw te verwys in die vyftigste herdenkingsjaar van sy sterfdatum. Die naasmekaarplasing van Cussons en Van Wyk Louw in die bundel herinner aan De Lange se vers “Wordende naak” (geneem uit ʼn nagelate vers van Louw) waarin Cussons, volgens Kannemeyer in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 (2005), die spreker is wat mymer oor haar liefdesverhouding met Louw.
Die eerste vers in hierdie afdeling is ʼn gelaagde intertekstuele simulakrum van ʼn 1930-epigraaf deur WH Auden wat opgedra is aan die skrywer Christopher Isherwood. Die afdeling bevat ook ander intertekstuele verse oor Pablo Picasso, Francis Bacon, Leonardo da Vinci, Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Elsa Joubert en Rembrandt van Rijn wat volmaak aansluit by die eerste vlak van interpretasie van die bundeltitel omdat die meeste sterre inderdaad lankal dood is.
Dood begin (p. 73)
Dood begin by die voete,
sê die man in die grys trui
wat hy al gaande ontgroen het,
sy slape aangedaan vergrys
van al die ontslapenes & die af-
gryslike dinge wat agter hom lê,
ligter by die dag & nader aan die hand.
Die man trap water, sou mens dink,
maar sy voete is aan die brand:
dis sole oor die kole, vuurloop &
-doop, voetverse, & draadspring.
Hy was glo as jongman al te grys,
hart op die mou & bo sy jare wys.
Die ongedanste dans is aangedaans,
ʼn wuif van die hand na die mond,
elke woord ʼn wond, oordag gedroom,
& die hand ʼn psalm, ʼn rooiborsduif.
5. Alles van waarde
Die titel van hierdie afdeling verwys na die bekende versreël “alles van waarde is weerloos” soos dit in die Nederlandse digter Lucebert se vers “De zeer oude zingt” voorkom. Dié vers is interessant genoeg vir die eerste keer in dieselfde jaar as Louw se Nuwe verse in die tydskrif Galerie Zuid gepubliseer. Daar is elegiese besinnings oor “ʼn Lewe aan woorde toegewy” en pogings om “in die laatnag ʼn laaste wêreld neer te pen” (p. 81), ʼn vers oor Ernest Hemingway en een elk opgedra aan Judith Mason en Joan Hambidge. Die digter keer dan inwaarts in ʼn stel kort verse wat eensaamheid, verlies, tydsbesef en die dood as temas het. Hierdie verse dien as teenvoeters van verganklikheid en is geskrewe verlengings van ʼn lewe gevul met indrukke en ervarings – veral wanneer die religieuse/spirituele inslag in ag geneem word:
Laatnagskietgebed (p. 89)
Mag die einde my onverhoeds bevry,
nie ʼn lang af- & inwag van die dood
met ʼn lyf wat moedig & bloedig stry.
Laat my stil die stroom ingly soos ʼn boot.
6. Gebedewiel
In die Tibettaanse Boeddhisme word die Sanskrit mantra om mani padme hum dikwels aan die buitekant van ʼn gebedewiel geskryf met die idee dat wanneer die wiel gedraai word, die mantra die wêreld ingestuur word. Die voorafgaande motto, “What’s past is prologue”, is ʼn kort aanhaling uit The tempest van William Shakespeare en sluit aan by die gebedewiel omdat dit verwys na die sikliese aard van die lewe. Die eerste vers in die afdeling dui op die invloede wat ander mense (in hierdie bundel veral digters) op alle aspekte van ʼn mens (of digter) se bestaan het:
Van Lascaux tot nou (p. 95)
Deur die woord & in-die-woorde-van
raak ons deelagtig aan tallose selwe, vrou of man,
wêrelde, beskawings & rites,
& herskep ons geskiedenis teen gewelwe as mites.
Dié vers hou verband met die voorblad van die bundel wat lyk soos verweerde Latynse manuskripte wat onwillekeurig die idee van palimpses oproep. Ander verse in die afdeling dui op ʼn nuwe begin; die intense genotlike ervaring van kos as die versmelting van goddelikheid en natuur; en die ontmitologisering van konvensionele beskouings, soos in die slotvers, “Sonsverduistering” (p. 99), waar die “bruin seun” (oftewel Jesus) “uit sy grafdoek opgestaan” het. Die bundel self word dus ʼn uitgebreide metafoor van die lewensiklus want die einde van een ding is dikwels die begin van ʼn ander.
Met Die meeste sterre is lankal dood het Johann de Lange ʼn fyngeweefde mikrokosmos geskep waarin hy op Lasarusagtige wyse sy dooies aan die vergetelheid ontruk om hulle op papier in die gewraakte jaar 2020 te reïnkarneer. Die bundel is myns insiens ʼn hoogs aan te bevele literêre panoptikum waarin De Lange as deurwinterde digter omsigtig met die “ster-heet lasso / van weerlig” (p. 96) verse met ewigheidswaarde byeengebring het.
Dankie, Andries. In Afrikaans (en Engels) is die normale volgorde “vuur & ys”. Wilbur het dit omgeruil t.w.v. die rym: fire / lyre. Aangesien ek nie die rymskema kon handhaaf nie, het ek teruggekeer na die bekende volgorde. Maar miskien sal die binnerym “vuur” / “natuur” beter werk as hulle mekaar direk opvolg: ys & vuur / natuur & kuns. Dalk moet ek dit tog verander!
Ek hou baie van die vertaling, Daniel. Veral die “onhaalbare toonverstellings” en die “klooster se prieel”. “Goedheid en genade” ook ‘n mooi keuse vir “sweetness & light”. Mag ek vra hoekom jy “vuur” en “ys” in die vertaling omgeruil het?
My onvolmaakte poging om Wilbur se tegnies perfekte vers te vertaal:
&
‘n hangskouerfiguur van al die geskarrel
met vragte, heen en weer – of miskien ‘n lier
of sleutel verwring deur onhaalbare
toonverstellings of ‘n strik om losbandige
ranke te knoop aan ‘n klooster se prieel:
goedheid & genade, vuur & ys,
natuur & kuns het jou gebeente
uit lit geruk – arme karweier ampersand
Daniel & Nicolaas, is om woorde nie uit te skryf nie nie dalk effe unbecummings nie?
Vir Nicolaas:
&
Richard Wilbur
A slopeshouldered shape from scurrying burdens
Backward and forth, or perhaps a lyre
Or a clef wrung wry in tuning untunable tones,
Or a knot for tugging an out-of-hand
Vine to the trellis in clerical gardens:
Sweetness & light, ice & fire,
Nature & art have dissocketed all your bones,
Porter, poor pander ampersand.
(From: The Beautiful Changes and Other Poems, 1947)
Ek wonder maar nog altyd oor die onophoudelike gebruik van & en waarom hierdie digter ‘n broertjie dood het aan die woord ‘en’. Soos Gert Vlok Nel se i ipv ‘n. Miskien weet iemand … Doen dit iets vir die gedigte, beteken dit iets of is dit maar ‘n snaaksigheid?
Mooi resensie! Ek wil graag byvoeg dat die omslag ‘n afbeelding bevat van die perkament waarop “hebban olla vogala” deur ‘n monnik as “probatio penne” – die uittoets van sy nuwe gansveer – neergekrabbel is.
Wat ‘n uistekende bespreking is hierdie nie. Wel gedaan, Stefan van Zyl. Wanneer ‘n resensent reg laat geskied aan ‘n enorme digterskap soos Johann de Lange s’n, kan ‘n mens net hande klap en dankbaar wees.