Beste Marlies Taljard,
Ek weet nog steeds nie wat om te sê nie. En hierdie is nie ‘n huldiging van Ampie Coetzee nie. Dié kom hopelik later, ter gelegener tyd, wanneer die lig minder swaar geword het om te verdra.
Maar ek het vanmiddag, so op ‘n Sondag, onthou van ‘n briefwisseling met Ampie, op sigself raar, van baie jare gelede – en dat ek dit wou inkorporeer by die binnensmondse mompelteks waarmee ek besig is. Op ‘n stadium het ek gekyk na die brief wat hy vir my gestuur het en dié is nou soek. Miskien het hy dit saamgeneem. Ek het wel my antwoord op sy vraag wat ek dan hierby insluit. Kortliks: ek dink die kernbekommernis was dat dit nie veel sê om te sê: “die gedig is die betekenis van die gedig” nie. Hy het my bietjie in die bek geruk deur daarop te wys dat metafore tog iets moet beteken. Daar is ook ‘n leser wat in aanmerking geneem moet word, after all. Ons het daaroor gepraat. Hy moes geweet het hy het my aan die hoek en was dalk net te sagmoedig om my in te katrol.
Hiervandaan dan die ‘antwoord’ (indien ‘n vis ‘n verklaring sou hê om aan te bied). Sien u wat ek bedoel met metafore wat hand-uit ruk? Maar voor dit, en presies soos dit tot op datum in die onafgemaakte en onafgewerkte manuskrip staan, en nie eens gevil met die skubbe skoongeskrop of andersins getierlatyn nie, my nagboeknotas. U mag dit gebruik soos dit hier is.
Met hartseer groete,
B
(Die ‘leser’ in die teks, wat nie ‘Leser’ is nie, is bra Ampie. En waarna die verwysing is in die eerste paragraaf van die brief weet ek nou nie meer nie. Dalk ‘n operasie.)
______________________________________________________________________________________________________________________________________________
Nou word dit ´n bietjie rof. Maar die einde is in sig. (Die einde is altyd in sig…) Ek luister nou na « Waterblommetjies in die Boland » – verlang na mense watt ek nooit weer gaan sien nie.
ek sê vir ons – voorwaar voorwaar
die mens is ‘n tweegesig al kermende
om ‘n laaste rymwoord vir die toemaak
van die donker gedig:
maar wanneer dit kom by die aangesig tot aangesig
se onder vier oë spreek
van die eenoogstaar
het ons net die blinde lens van ons lewens
om ons dood se sagte vlees te beskerm
From: Breyten Breytenbach: Sent: 01 July 2012 11:12 PM To: Ampie Coetzee Subject: ‘k wou nog net sê
Kleiboetatjie,
Eintlik slegs om jou die allerbeste toe te wens vir die bewerkinge van agter af hierdie komende week as ek dit reg het. Dis nou te laat om van geslagsvoorkeur te verander maar mag die gevroetel hier aan jou agterdeur op soek na die knip nie te veel van ‘n onaangename ervaring wees nie.
En het ek reg verstaan dat jy werk aan my “onvoltooide vers” uit Beginsel? Indien wel wil ek voorstel dat jy met die ander oog ook loer na “Boland, ‘n reisrefrein” uit Papierblom. Veral omdat dit in Montekie geskryf is – die Engelse weergawe is in Dog Heart. Sterkte! Muskadelmoed!
Liefdegroete
Buiteblaf
En na aanleiding van ons gesprek van vandag oor foële en ferlore begrippe:
nou se tyd
tot die mate dat ek vanaf die begin
geweet het woorde is geen dekking
van die werklike nie
dink ek nou aan die einde
ek het tog gesê
wat gesê kon word
met die bevrediging dat jy van meet
af, leser, net soos ek ook lig-lig deur die gedig
kon loop soos in ‘n kloof matelose voëlgekwetter
om op die ou einde, soos ek sê,
te sê: dit wéét ek ten minste :
dat ek fokôl verstaan
———————————————–
gee my jou hand, Leser –
saam het ons land en sand bereis in woorde
om tot stomme verwondering te kom
by die stiltes van voëlsang
anderkant die drif
waartoe alle stemme gedryf word
waar die skrif te water mag gaan
waar die weerlig ons met ‘n vuurtong slaan
om miskien te laat te weet
so soos alle wete ‘n nalaatsel is
dat ons eenmalig mens was, leser –
uit klowe in die berg
en holtes in die see
vir die walvis se doodskreet om te weergalm.
gee my jou hand
vir die saam-vashou van die een
enigste onkenbare lyk-fetus wat tussen ons lê
en nog beweeg : hierdie hart
miskien
indien
daar geen poësie is nie
sal ons
van self
van die voëls leer
_______________________
(‘k ek en moet)
‘k wou nog sê
ek het niks om te sê nie
en doen dit hier
met oorgawe
_________________________________________
ek het meewarig
bewondering vir dié en vir daai
wat weet hoe belangrik dit is
om in enige en alle omstandighede
opstandig te wees en op te stry
en bly bakkelei
al is dit ook slegs as bekrekkers
maar wees my genadig,
leser – die tyd (en jy)
het my getoor
ek kan my sjelf nie meer hoor
redeneer nie
vergun my
om my te verlaat
op die dubbele ontkenning
so eier aan ons taal,
laat my toe om te faal
en oop te bly vir verliesverskrikte ontstrikking
en kaal anderkant uit te kom
by ontstentenis aan ‘n tuiste
waar geen vink weet van kwetter,
ten minste is daar
nie meer kak en betaal nie,
(die voorgaande strofe, leser, eindig
nou wel met ‘n komma
maar hier wil ek die punt neerlê
en nie in die wind nie :
laat die pluimsaad waai
waar dit wil
waar daar niks is )
vergun my om melk te gaan koop
waar geen melk ooit weer te vind sal wees
en die boer se koei se uier
lewendig afgekap is
vir ‘n vleisie
vir dié
wat nog sin het
om op die ondermaanse
te kuier en braai
met bies en met bees
en braaf bek te rek
met hand om die blaas
van die eie trompet
ek het ‘n hoesie,
die een been begin sleep soos ‘n lam vlerk
my saam na vergeet-om-te-loop,
en ek onthou nie meer so mooi
waar ek die melk wou koop
om saam met die vleisie te geniet
by die toegooigeboorte
van vers en van kapittel
vergun my om die oulaas te smaak
van die niet,
nog ‘n handvol lig te steel
en dit te verdraai
om as oorwinningsvlugvlag te vou
om die seerwoordkeel –
die bladsy om te blaai
en my met omtes-stilbly
se klaroen te versoen
