Ronel de Goede. Ballade van die honderd dae
Korona-gedigte
Ballade van die honderd dae
’n Wintervers
Die branders suis, die dae sleep.
Ek sit aan tafel en lees koerant:
“Syfers styg”. “In virus se greep”.
Wat gaan word van die siekes in ons land?
Hul “spartel om asem” en “verdrink” op ’n streep.
’n Malariapil maak mens glo “bestand”.
Kom ons drink maar ’n glas op die valreep!
Wat gaan word van die virus in ons land?
Die wêreld verstom: “Ekonomie in sy maai”.
“Miljoene ly honger”. “Gebrek aan kontant”.
Die radio rep: “Kospakkies geskaai”.
Wat gaan word van die armes in ons land?
“Miljarde vir noodhulp”. “Vingers in die laai”.
“Werkloosheid neem toe”. “Dromkrappers astrant”.
’n Stad onder beleg – boekaniers in Valsbaai!
Wat gaan word van die kapers in ons land?
Die skedelvlag die waai: “Baba verkrag”.
“Boer vermoor”. Selfone gons: “Iemand
wat ons ken”. “Rowers skiet geldwag”.
Wat gaan word van die mense in ons land?
“Bejaardes gemartel”. “Seuntjie val in skag”.
“Vrou gesteek”. En so gaan dit voort, want
dis ’n gekkeskip – sonder kwarantynvlag!
Wat gaan word van die moordplaag in ons land?
L’Envoi
Hoe kan ’n mens dit alles verklank?
Wat gaan word van die siekes van ons land?
Ek sit aan tafel en lees koerant –
vol selfverwyt; een voet op die loopplank.
Wat gaan word van die armes van ons land?
Wat gaan word van die ménse van ons land?
© Ronel de Goede, 4 Junie 2020
Slim gedig, Ronel, en mooi inspeling op Peter Blum se “Ballade van die getroude bemindes”.
Dankie, Zandra. Waardeer.
Erkentelik ook teenoor BB se ballade.
Groete
Ronel
Stem saam met jou, Zandra. Wat die gedig so treffend maak, is dit gaan oor verskrikking, en om so iets met ‘n toon van vermaaklikheid oor te dra, sonder ontering of skending van die tema van die lyding,is ‘n koorddans.