Marlise Joubert. Rapsodie vir ‘n regterskouer

 

rapsodie vir ʼn regterskouer

 

 

i

van hierdie ledemaat

weet sy min

 

sy registreer net die skade

ná die operasie, byvoorbeeld:

die arm het vergéét

hoe om te omhels, hoe om te tango

hoe om te skep, hoe om te gryp –

elke vinger het alle letters verloor

en tussen hand en woord

is geen bestaan nie

 

soms klavier die naels ritmies

op die tafelblad die brandende

pyn van onhoorbare komposisies

lê sy verdoof in die swart hangmat:

sal die gelapte spier oplaas ongeskeur

ʼn landskap weer verken?

 

om te swem met woorde

is ʼn daad

is lééf

miskien genade?

 

 

ii

sy sou graag meer wou sê

 

alles benoem en versoen

maar haar skryfhand

kan die taal nie rangskik nie

 

sinne rafel uit, hou halfpad op

kies ʼn hasepad tussen struike in

dus, skuif sy alles oor na links

eweneens onbeholpe om letters

netjies te boekstaaf

 

maar links weet niks

hoor niks, klank en sien niks

loop ‘n slakkepas met ʼn vadem

sleepsel, onleesbaar soos hiëroglief

 

ná ʼn leeftyd van skryf is die linkerhand

ongeleerd en sy het geen geduld

om so ʼn dom hand te skool nie

 

die regter sal nog lank

weg wees met sabbatsverlof

 

inmiddels doen sy niks nie

 

gedigte moet gaan slaap

tong in die kies

liefs nie nou opstaan

om te wil dans nie

 

 

iii

ná vyf weke

roer die arm uit verstramming

begin vingers stokkerig te draai

en lok bekende elemente nader

die hand ʼn windpomp wat opeens

asem skep

 

stadig kring die skadu’s los

 

o kyk,

sy dryf die borsel deur haar hare

sy roer haar koffie om

nie soos tant koba se groottoon nie

maar met die regterhand

 

helaas, daarna roep die skouer halt

die bo-arm skuur tot stilstand

en die pols treur kragloos

soos ʼn tjankhond teen haar bors

 

wanneer is sy oor die hond se stert?

 

daar is beslis nog maandelank

se matelose belemmering

 

immobiliteit skop wortelvas

soos ʼn kantelboom wat aanhou

hurk en staan, presies daar

waar dit staangemaak is

 

voordat takke hoegenaamd

ná twee seisoene van fisioterapie

hul vrugte werp

 

 

© marlise joubert / jan. 2021

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Marlise Joubert. Rapsodie vir ‘n regterskouer”

  1. Waldemar Gouws :

    Hoe jammer oor die pyn en belemmering, maar jy sal altyd ‘n skouer aan die woord hê, Marlise. Voorspoed!

  2. Marlise :

    Dankie Waldemar!

Los kommentaar

 

*

  •