De Waal Venter. Net pietersielie

 

 

 

Net pietersielie

 

Net pietersielie

en ’n takkie

suurlemoen-verbena.

 

Roket se neutegeur

in jou mond

en donker, diep

koffie by jou neus.

 

Net kanferfoelie

en ’n blaartjie

van tamatie

het jy nodig.

 

Het jy nodig

om mens te wees,

te weet jy is hier

saam met

haar

wat ruik soos weilande,

die glimlag van appelkose,

nat grond na die reën,

vars sonskyn deur die klam wolke.

 

Net pietersielie

en die ander klompie

het jy nodig

om hier te wees.

 

© De Waal Venter, 2021

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Net pietersielie”

  1. Annora Eksteen :

    Jy seker jy is nie familie van Boerneef nie? xx 😉

  2. Dalk Ons is mos maar almal familie van van een of ander graad. Maar Boerneef was darem ‘n meester van speelse liriek!

  •