Oppad see toe
ek stap in by die padstal
êrens naby Memel
opsoek na iets
wat moontlik
niks kan wees
en dis ʼn “môre oom”
wat my begroet –
dit voel
of ek
ewig snuffel
na niks
en ek dink
aan die gerintinkel
van ʼn ver
afgeleë winkel
aan en aan die gesnuffel
en dan dans ek
ampers
in haar vas:
“Jammer my baas”
sê sy
met ʼn tikkie vrees in haar oë
en ek antwoord:
“Nie baas nie
– tjommie!”
haar verbasing
ʼn groot
sigsag glimlag –
ʼn droomgesig
wat alles
van gister wis
en straks alles
van gister wil uitwis
sy slaan oor
na die derde persoon:
“Sophie se knieë
seer vandag –
Sophie sy werk so hard”
en dan om doodseker te maak:
“Jy, Tjommie?”
– “Ja, jou tjommie
nie jou baas nie”
en aan en aan
my gesnuffel
terwyl sy met seer knieë
die tafels buite die padstal vee
en ek dink
aan Sophie se moeder
wat algar dood is
aan gister se reuke
en wanneer dit tyd is om te groet
om my roete
na die see te volbring
en daar sterretjies skitter
oor die buitelyne
en donkerkant van dié gedig
is dit Sophie wat glimlaggend koebaai sê: “Thando!”
en dan met ʼn skuinskop-nabetragting: “Kakulu!”
© Bester Meyer, 2021