Osip Mandelstam. Vertaling in Afrikaans

 

Osip Mandelstam. Vertaling van Engels in Afrikaans. Vert. deur Helize van Vuuren.

 

‘n Ekstra dag

 

Die liggaam van Arshak[1] is ongewas en sy baard het verwilder.

Die koning se vingernaels is gebreek, en houtluise kruip oor sy gesig.

Sy ore het dof geword van stilte, maar ooit het hul na Griekse musiek geluister.

Sy tong is seer van tronkbewaarderskos, maar daar was ‘n tyd toe dit druiwekorrels teen sy verhemelte gedruk het, en dit so rats was as die puntjie van ‘n fluitspelerstong.

Die saad van Arshak het verdor in sy skrotum en sy stem is so yl soos die geblêr van ‘n skaap.

 

Koning Shapukh[2] – dink Arshak – het my in sy mag,  en nog erger, hy het my lug vir homself gesteel[3].

Die Assiriër klou aan my hart.

Hy is die kommandeur van my hare en my vingernaels.  Hy kweek vir my my baard en sluk vir my my spoeg, so gewoond het hy geword aan die gedagte dat ek hier is, in die fort van Aniush.

 

Die Kushan mense het gerebelleer teen Shapukh.

Hulle het deur die grens gebreek op ‘n onverdedigde plek, soos deur ‘n sydraad.

Die Kushan-aanval het Koning Shapukh geprik en gepla, soos ‘n ooghaar in sy oog.

Albei kante (vyande) kyk skeeloog, sodat hul mekaar nie hoef te sien.

‘n Sekere Darmastat, die goedhartigste en bes opgevoede van die eunugs, was in die middel van Shapukh se leër, het die kommandeur van die perderuiters aangemoedig, sy pad gewurm tot in sy meester se guns, hom weggeraap, soos ‘n skaakman, uit die gevaar, terwyl hy heeltyd in vol sig was.

Hy was goewerneur in die provinsie van Andekh in die dae toe Arshak, met sy fluweelstem, nog bevele gegee het.

 

Gister was hy koning maar vandag het hy in ‘n gleuf geval, opgekrimp in sy maag in, soos ‘n baba, en hy verwarm homself met luise, met plesier aan die jeuk.

 

Toe die tyd kom vir sy beloning, het Darmastat in die Assiriese oor ‘n versoek ingesit wat gekielie het soos ‘n veer:

Gee my ‘n pas na Fort Aniush. Ek wil dat Arshak een ekstra dag kry, vol klank, smaak, en reuk, soos dit eers was, toe hy homself geamuseer het met jag of bome plant.

 

          – Osip Mandelstam – uit Reis na Armenië, 1933 in Sowjet-tydskrif,       Zveda (Prosavers-uittreksel uit ‘n Engelse vertaling-met-eindnote van Sidney Monas, 2011; ©Afrikaanse vertaling en titel Helize van Vuuren)

 

[1] Koning van die Arshakide dinastie, wat Armenië regeer het van 63-428 v.C. In die vierde eeu is die koninkryk verdeel tussen die Romeinse en Iranese invloedsfere.

[2] Shapur, of Sapores (Grieks) of Pahlavi Shahpur II (310-79), het die Romeine in 363 verslaan (dood van Julian), en Armenië verower; hul het ‘n poging aangewend om Zoroastrianisme te vestig oor die Christelike Armenië. Shapur deur die Parthiese Koning Arshak opgesluit in ‘n fort,  waar hy later selfmoord gepleeg het. Ten spyte van die politieke onrus tipies van dié tyd, is die vyfde eeu wat dié gebeure gevolg het, die Goue eeu van Armeense kultuur.

[3] Die prosavers handel oor die legendariese stryd tussen die konings Arshak en Shapukh, en kan verstaan word as verwysend na Stalin se onderdrukking.  Ook na Mandelstam se ballingskap-omstandighede. En die seker wete van sy einde wat wag.

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Osip Mandelstam. Vertaling in Afrikaans”

  1. Russies (die bronteks?) is nie vir my toegangklik nie. (Wat ’n jammerte!). Dus lees ek hierdie vertaling as ’n oorspronklike teks, sonder om vergelykings te tref met die bronteks.

    As Afrikaanse prosagedig is dit treffend. Die meeste mense met ’n Afrikaanstalige agtergrond sal seker dadelik aan koning Nebukadnesar dink as hy lees:

    “Die liggaam van Arshak[1] is ongewas en sy baard het verwilder.
    Die koning se vingernaels is gebreek, en houtluise kruip oor sy gesig.”

    Ek wonder of die oorspronklike teks so sterk beeldend as die Afrikaans is: “saad het verdor in sy skrotum” en “sy stem is so yl soos die geblêr van ’n skaap”.

    Dit is eintlik verstommend hoe kragtig en veelsydig taal kan wees. Osip Mandelstam skryf ’n gedig in Russies (?) en hier kom dit te staan in ’n soepel, spontane Afrikaans. Natuurlik moet mens die vertaler darem ook ’n bietjie krediet gee daarvoor ;-)>

    Zeer bedankt vir jou aanbod van hierdie stukkie ontroerende taaluiting uit ’n vreemde kultuur, Helize.

  2. Helize van Vuuren :

    Ag, ek is bly IEMAND vind aanklank by wat (eers na herhaalde lees en herlees, bygesê) ook vir my ‘n besonder verrykende teks is. Die “een ekstra dag” vol ryk sintuiglike waarneming, wat die intens-gehegte onderdaan aan sy opperheer van eens wil skenk.

    En ja, De Waal, die oorspronklike teks het net soveel direkte, konkrete beelde – ek het so na as moontlik vertaal. Weliswaar nie uit die Russies nie. Ek het twee Engelse vertalings van die REIS NA ARMENIë tot my beskikking gehad, een van Clarence Brown (1965, herdruk telke male tot in 2002) – plek-plek meer langdradig en lomp, as dié van Sidney Monas uit 2011. Maar nagenoeg en byna identies wat die beelding betref, dat mens kan sien dit is vertalings van die Russies (die versoek wat soos ‘n VEER kielie in die oor, die verwarming aan die luise).

    Armenië is waar die berg Ararat geleë is, en waar Mandelstam alleraangrypends skryf oor Armeens as taal (in 1933 – ek vertaal in Afrikaans, die taal waaruit ek op hierdie moment intens identifiseer met Mandelstam se beskrywing van Armeens, intens bedreig). In dié passasie uit die werklik aangrypende, surrealisties-poëtiese prosa-essay van Mandelstam, skryf hy oor sintuiglike waarneming tydens sy ballingskap daar:

    Die tande van jou visie verkrummel en breek as jy vir die eerste keer kyk na Armeense kerke.
    Die Armeense taal kan nie verweer nie; sy stewels is van klip (…)Waar kom die taal se traksie vandaan? Hoe om dit te verduidelik? Wat maak sin daarvan?
    Ek het die vreugde ervaar van klanke uit te spreek, verbode vir Russiese lippe, geheime klanke, verworpe, en miskien, op een of ander diep vlak, beskamend.
    Helder water het gekook in ‘n pewter teepot en skielik is ‘n knyp wondebaarlike swart tee daarin gegooi.
    Dis soos ek gevoel het oor die Armeense taal.

    Ek het in myself ‘n sesde sintuig gekweek, ‘n ‘Ararat’ sintuig: die sintuig van aangetrokkenheid tot ‘n berg.
    (Mandelstam 1933)

    Miskien iets wat alle Bolanders voel? Die sintuig vir die berge wat jou oral omring. Martin Versfeld se berge, WA de Klerk se berge, Henri en Marie Snyders se berge…

  3. Mandelstam het baie liefdes gehad en baie gely. Hy het uiteindelijk gesterf van koue en honger in ‘n Russiese strafkamp. Mens wonder of ‘n digter so intens moet leef om verse soos hieronder te kan skryf? Of kan ‘n besadigder lewe ook boeiende (bloeiende) poësie oplewer?

    Gedig uit sy Kamen’-reeks:

    from Stone: 24
    BY OSIP MANDELSTAM
    TRANSLATED BY CLARENCE BROWN AND W. S. MERWIN
    Leaves scarcely breathing
    in the black breeze;
    the flickering swallow
    draws circles in the dusk.
     
    In my loving
    dying heart
    a twilight is coming,
    a last ray, gently reproaching.
     
    And over the evening forest
    the bronze moon climbs to its place.
    Why has the music stopped?
    Why is there such silence?
     

    Kamen’: 24

    Blare wat skaars asemhaal
    in die donker wind;
    die flikkerende swael
    trek skemer sirkels.

    In my liefdevolle
    sterwende hart
    word dit skemer,
    ’n laaste ligstreep, skugter beskuldiging.

    En oor die nag se bos
    klim die brons maan in sy plek.
    Waar’s die musiek?
    Dis dan so stil?

  4. helize van vuuren :

    Dankie, De Waal – maar daar’s ook die teenargument, van stilte, sentraal by Mandelstam “Silentium” in KAMEN [KLIP] en Celan (“Argumentium e silentium”, in Von Schwelle bis Schwelle/Van drumpel na drumpel, 1955) dit is ‘n argument gebaseer op stilswye, daarop gebaseer dat iets nie gesê word nie). Soos in die Aphrodite-uit-die-skuim gedig van Mandelstam, “Silentium”:

    Sy is nog nie, is onontstaan,
    musiek is sy en woord
    so leef deur hul verweefdheid,
    al wat asemhaal en leef

    In see die asem, rustig, altyd,
    en lig deurgroei die ruim;
    uit die vat, wat blouïg skemer,
    styg vleuelbleek die skuim.

    O kon ek tog, met hierdie mond,
    so ‘n eerste stilte wees,
    ‘n kristalle toon, meteen net uit die grond,
    en so gebore: rein.

    Bly, Aphrodite, hierdie skuim,
    jy woord, gaan, bly musiek.
    Van hart uit, skaam jou, hart, wat sy
    begin en grond ontstyg.

    (Osip Mandelstam, ©vert. HvV: na die vertaling van Paul Celan 1959)

    Dis opvallend dat Celan al vyf jaar tevore sy “Argumentium e silentium” geskryf het (volgens Barbara Wiedemann 2003:640), na versvertalings van die Franse digter René Char, aktief in die verset tydens WO II.

    Maar meer pertinent nog, is Breyten Breytenbach se eie driedelige versreeks, “Silentium” in op weg na kû (2019 – reeks 9.9-9.9.2.1, bladsye 214-216). Ontstaan in Spanje rond 29/12/2017, volgens datering by die tweede gedig. Hier net enkele reëls uit die eerste gedig, wat laat dink aan “oerghoeroe” Louw en die “rooi lint” om die handbeentjie van die vergete, gestorwe kind (in “Klipwerk). Vergete, nes daar vergeet is om die gestorwe digter se as af te haal (JC Steyn in sy Louw-biografie, band II,1998):

    ‘n lewe wat so mooi kon sing
    voor die gat gegrou in die koue grond
    waar oerghoeroe se asem
    o voorsaat afstammeling
    in woordewant toegevou
    afgelaat is om tot vergeet gedoem
    onder vaalgras in die grint
    soos ‘n lint of kind sonder hare
    te vergaan tot laat gaan

    En wrang en pynlik dié reëls aan die slot:

    nooit weer die taal
    soos die agtergedagtes van voëls

    Net stilte.

  5. Dit is opmerklik hoe die begrip van “stilte” verskeie digters aangyp deur verskeie tydperke en tale. Daar is sekerlik talle redes daarvoor – sou die “woordeloosheid” van stilte byvoorbeeld juis uitdagend en stimulerend wees vir mense wat met woorde werk?

    In die gedig hieronder beskryf die Sweedes Nobelpryswenner, Tomas Tranströmer, hoe hy byna verongeluk in sy motor en hoe oorweldigend die stilte ná die geknars van die ongeluk vir hom was.

    Ensamhet

    Här var jag nära att omkomma en kväll i februari.

    Tomas Tranströmer

    Eensaamheid

    I

    Hier het ek amper omgekom een aand in Februarie.
    My motor het sydelings op die ys gegly, uit
    op die verkeerde kant van die pad. Die aankomende verkeer –
    hulle ligte – het nadergekom.

    My naam, my dogters, my werk
    het losgeglip en stil agtergebly,
    al hoe verder. Ek was niemand
    soos ‘n seun op ‘n speelgrond omring deur vyande.

    Die aankomende verkeer se ligte was geweldig.
    Helder lig op my terwyl ek beur aan die wiel
    in ‘n deurskynende angs, vloeiend soos eierwit.
    Sekondes word langer – skep ruimte daar –
    word groot soos hospitale.

    Ek kon amper net so bly
    en ‘n oomblik asemhaal
    voor ek verpletter word.

    Toe kom daar ‘n vastigheid: ‘n bietjie helpende sand
    of ‘n wonderlike windvlaag. Die kar kom los
    en swaai dwars oor die pad.
    ‘n padteken skiet op en knak – ‘n skerp knal –
    vlieg die donkerte in.

    Toe is daar stilte. Ek sit terug in my gordel
    en kyk hoe iemand aankom deur die warrelende sneeu
    om te sien wat oorgebly het van my.

    Uit: Alles keer om” SAAWK 2020