weggooikind
onthou jy die tyd toe ek agter die dameskoshuis sou wag
totdat jy stilweg by die badkamervenster uit slier
en ons in opstand teen die kilheid van tyd saam padlangs vlug?
soos murg tot been was ons verknog aan mekaar
saam het ons getuur na flonkerende straatligte van ‘n sterwende dorp
ek onthou hoe jy jou tong vrypostelik in my mond kon druk
(toe geglo dit was die naaste wat ek ooit aan die hemel sou kom)
ek glo steeds aan ‘n onblusbare en sluis-voluit-oop-liefde
dis beter om jou hart onkondisioneel oop te sluit
ten spyte van die wete dat die uurglas altyd vir alles sal uitloop
onthou jy die skuimpies wat uit ons monde bruis –
geweefde suikerspinnerakke tussen lippe wat skei?
daar waar jy nou is – voel jy soms ‘n brand binne woed –
gister se jeugvlamme wat hebsug uit die hart se holtes oproep?
dis tien jaar later en jy het ‘n man en ‘n huis en ‘n hond
selfs ‘n kroos met krultone wat reeds vorm vat binne jou lyf
maar hiervan moet jy nooit vergeet óf anders versin:
onskuld was óns liefde se weggooikind
© Johann van der Walt, 2021