PEN Afrikaans. Nuusbrief: April 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans besorgd oor taalbeleid en -praktyk aan die Universiteit Stellenbosch

’n Aantal gebeure het die afgelope weke saamgeval om die kwessie van taal by die Universiteit Stellenbosch opnuut op die spits te dryf. Die universiteit se hersiene konseptaalbeleid is vir kommentaar gepubliseer en die amptelike konsultasieproses is onderweg. Daar was ook ’n senaatsbesluit dat, met inagneming van die impak van die Covid-19-pandemie en die groter werkslas op personeellede, alle kursusse aan die universiteit slegs in Engels aangebied word vir die eerste semester van 2021. Verder was daar gerugte oor gevalle van taaldiskriminasie in koshuise, waar Afrikaanssprekende studente na bewering belet is om in hul moedertaal met mekaar te kommunikeer.

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers, vertalers en ander belanghebbendes wat in die Afrikaanse taal werk. Alhoewel ons as vereniging nie primêr in die onderrigsfeer werksaam is nie, sou dit kortsigtig wees om te dink dat taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch ons en die Afrikaanse skryf- en leserspubliek nie raak nie. Inteendeel, die versterking en uitbou van Afrikaans, ook as onderrigtaal, is uiteraard van groot belang vir ons en ons lede.

Deur lidmaatskap van PEN International, die wêreld se voorste skrywersvereniging, verteenwoordig ons ons lede in die internasionale konteks en onderskryf ons die organisasie se doelstellings. PEN International is gerig op die bevordering van letterkunde, die beskerming van uitdrukkingsvryheid en die handhawing en uitbou van taalregte regoor die wêreld.

Teen hierdie agtergrond lewer ons oorhoofs kommentaar oor bogenoemde verwikkelinge wat taal by die Universiteit Stellenbosch betref en waarvan ons met kommer kennis neem.

Die bestuur van PEN Afrikaans se uitgangspunt is dat die Afrikaanse taal ’n nasionale bate is en ’n waardevolle hulpbron wat ingespan kan en, veral in die Wes-Kaap, móét word ter wille van toegang tot kennis en daarmee saam ekonomiese bemagtiging. Dit is tot voordeel van alle sprekers van Afrikaans en daarmee saam tot voordeel van Suid-Afrika.

Die universiteit se konseptaalbeleid is op die oog af ten gunste van meertaligheid, en spesifiek die aanwend van Afrikaans, Engels en isiXhosa as onderrigtale van die universiteit. Die gebruik van Afrikaans en isiXhosa is egter onderworpe aan soveel voorwaardes en kwalifikasies, en die klem op inklusiwiteit deur middel van Engels as verstektaal is so sterk, dat dit aanleiding gee tot ’n diskrepansie tussen die ideaal van meertaligheid en die praktyk van eentaligheid wat na bewering toenemend op die US-kampus toegepas word.

Om eentaligheid en ’n gedwonge verengelsing as primêre taaloplossing te sien om integrasie en transformasie na te streef, is nie net verbeeldingloos nie, dit is ’n verskraling wat skade aanrig. Dit is skadelik vir die tale wat uitgesluit word en vir die mense wat in daardie tale leef, werk en, seker die belangrikste in die konteks van die universiteit as instansie: leer. Die bewese waarde van moedertaalonderrig moet nie uit die oog verloor word nie.

PEN International se Girona Manifes oor Taalregte, wat PEN Afrikaans ten volle steun, meld onder meer: “Elke taalgemeenskap het die reg dat sy taal as ’n amptelike taal in sy gebied gebruik word” en “Alle mense leer om te praat in die hart van ’n gemeenskap wat aan hulle lewe, taal, kultuur en identiteit skenk.”

In die Wes-Kaap praat bykans die helfte van die bevolking Afrikaans.

As die universiteit die plaaslike gemeenskap wil dien en meertaligheid wil bevorder, moet die uitsonderlike reëling ten opsigte van Engels as enigste onderrigtaal in die eerste semester van 2021 ’n uitsondering bly. Dit is reeds ’n verreikende inkrimping van taalregte. Die instansie moet hom verder daadwerklik daartoe verbind om Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale te ontwikkel en te versterk sonder al die voorwaardes wat in die konseptaalbeleid raakgelees word.

Die konseptaalbeleid se nie-erkenning van Afrikaans as inheemse taal is, soos verskeie kommentators al uitgewys het, problematies en ook foutief. Die Departement Afrikaans en Nederlands verwoord dit as volg in ’n ope brief aan die rektor:

“Die uitsluiting van Afrikaans uit hierdie groep tale is eerstens wetenskaplik foutief en tweedens ideologies gekleur. Die verklaring is dalk dat hierdie bewoording gewoon oorgeneem is om met die oorhoofse beleidsdokument te strook, maar dan moet hierdie feit eksplisiet gestel en gekontekstualiseer word deur ook ondubbelsinnig te sê dat die universiteit beslis die taal Afrikaans as die inheemse taal beskou wat dit is. Dit is immers ook hoe taalkenners dit beskou.”

PEN Afrikaans skaar ons sonder voorbehoud by die brief van die Departement Afrikaans en Nederlands en moedig die universiteisbestuur aan om ernstige oorweging te skenk aan die inhoud daarvan.

Klik op die skakel vir die volledige brief.

Ons neem verder met kommer kennis van gerugte dat studente in informele kontekste verbied word om Afrikaans te praat. Indien dit die geval is, veroordeel PEN Afrikaans hierdie optrede as outoritêr en diskriminerend.

Ons doen ’n beroep op die Universiteit Stellenbosch om sterk standpunt in te neem teen antagonisme jeens sprekers van Afrikaans op kampus of in koshuise, en om daadwerklik ’n kultuur te kweek van nie net verdraagsaamheid nie maar wel ’n viering en bevordering van meertaligheid ter wille van inklusiwiteit en akademiese uitnemendheid.

Dit behoort duidelik genoeg die universiteit se beleid te wees – in woord en in daad – dat daar weinig ruimte is vir misverstande in koshuise, lesinglokale, raadsale en elders.

 

Lede uitgenooi om insette te lewer: taal by die Universiteit Stellenbosch

PEN Afrikaans nooi ons lede uit om insette te lewer oor taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch. Hier is Breyten Breytenbach se kommentaar, wat hy op ons versoek gestuur het en wat ons met groot waardering deel. Ons hoop om ‘n verskeidenheid skrywers se stemme te laat hoor. Ons hoor graag van julle by penafrikaans@gmail.com of op ons Facebook-bladsy.

Oral in die wêreld kom universiteite tans te staan voor oorlewingsprobleme en ’n bevraagtekening van hulle funksie in die oorgang van gemeenskapsgebaseerde hoër-onderwysinstellings grotendeels befonds en bemagtig deur openbare owerhede na navorsingsinstitute gefinansier deur en in diens van die plaaslike en internasionale privaatsektor. In hierdie aftakeling van wat die instansies vroeër beliggaam het en die “evolusie” na ’n nuwe paradigma word die geesteswetenskappe en lettere duidelik nie meer gesien as bindende faktore in die maak van ’n gedeelde grond vir veral gefragmenteerde gemeenskappe nie. Die geleentheid om volwaardig te ontwikkel tot ’n vrydenkende en eties-gefundeerde mens tussen haar of sy medemense is klaarblyklik nie meer die norm of selfs die bestaansrede van wat ons nog oudergewoonte “universiteite” noem nie. Daarby saam het institusionele onverdraagsaamheid en benepenheid in die boelie-gedaante van rassialisme, wokeness en ‘n cancel culture Kultur nie net die leer-instellings maar ook die groter gemeenskap soos ’n virus getref.

Ek het nooit enige formele verbintenis met Stellenbosch Universiteit gehad nie (and my other habits are clean too). Soos die meeste Afrikaanstalige skrywers was en bly ek egter trots op die gehalte onderrig en die kritiese omgang met kernkonsepte van die Departement Afrikaans aldaar – van hoe die nodige wordwoord in diepte bestudeer en krities aangegee kon word. Hulle kon kers vashou by enige soortgelyke instansie, ook internasionaal. Wanneer so ’n leerskool – as eerste en laaste skans teen verdomming en verontmensliking, téén die barbarisme van die buk-gedienstiges – oplaas kapsie maak teen die doodskrif aan die muur, spreek dit boekdele. Dat hulle, al is dit per implikasie en ook al kom dit seker te laat, die reaksionêre Bestuur in die glibberige bek ruk, strek tot hulle gesamentlike eer.

Die denkfout soos verteenwoordig deur dié wat eng en bekrompe is, is dat die wegdoen met die gegewe en die gawe van ons diversiteit sal lei tot ’n meer homogene en effektiewe eenheid terwyl presies die tenoorgestelde waar is – soos enige omgewingskenner en bioloog vir ons kan bewys. Selfs in ’n byna volledig gesentraliseerde Jakobynse staat soos Frankryk word die jongste amptelike vrystellings en voorskrifte betreffende die hantering van die wêreldwye pandemie nou reeds, behalwe vir die amptelike standaard Frans, in vier streekstale beskikbaar gemaak en gebruik. Mens lééf van tekstuur! Indien die huidige veronderstelde laissez-faire taalbeleid so moet voortgaan om soos te veel agteruitgang in Suid-Afrika ‘n fait accompli te word is ons aandadig aan ’n misdaad teenoor die toekoms. Maak dit dan nie saak dat Afrikaans en haar lewende variante, almal inheems ontstaan uit die vermenging van hoop en van ontbering, veel oper staan en baie meer kennis dra van die sogenaamd dominante Globish as wat andersom die geval is nie?

Ek is bewus daarvan dat die Afrikaanse Departement soos ook van die ander wat weerstand bied teen die kultuurmoord (maak nie saak hoe daar gelieg word om die meelopers en kollaborateurs se onaanvaarbare en dodelike beleid te bewimpel nie) nie iemand soos ek se steun nodig het om te weet wat reg en wat onverhaalbaar verkeerd is nie – en dat my ontsteltenis hulle saak miskien selfs skade kan berokken. En tog is ek bly dat hierdie geleentheid my gegun word om via ’n internasionaal erkende groepering van plaaslike betrokkenes by die literatuur – al die literature – PEN Afrikaans, vir wie die moedertaal ook die hartstaal is, sterkte en volharding en moed vir die stryd toe te wens aan die Department Afrikaans van daardie beskamende “universiteit”.

Jonathan Ball (1951 – 2021)

PEN Afrikaans het met leedwese verneem van die gevierde uitgewer Jonathan Ball se afsterwe op 3 April, nadat longkanker drie maande vantevore by hom gediagnoseer is.

“Hy het geglo in die mag van tale en boeke en die plek wat dit inhou in die samelewing, ’n formidabele uitgewer wat geweet het wat gepubliseer moet word,” sê Eugene Ashton, uitvoerende hoof van Jonathan Ball-uitgewers.

Ball het Jonathan Ball-uitgewers in 1976 gestig en dit word vandag as die voorste verspreider en uitgewer van algemene Engelse literatuur in Suid-Afrika beskou. Ashton vertel dat Ball die Afrikaanse boekemark ook baie hoog geag het en gereeld boeke in Afrikaanse vertaling wou publiseer. Lees gerus hier meer.

Hy word onthou vir sy belesenheid, sy humorsin, sy passie en fyn aanvoeling vir boeke, sy belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek, en die diep spore wat hy in die plaaslike uitgewersbedryf getrap het. Mag hy in vrede rus. Ons meegevoel aan sy naasbestaandes.

Wenners aangekondig: die UJ-pryse 2021 en NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd

Die wenners van die 2021-UJ-pryse asook die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is sedert ons vorige nuusbrief aangekondig.

Ryan Pedro ontvang die 2021 UJ-debuutprys vir sy digbundel Pienk ceramic-hondjies en die 2021 UJ-prys word toegeken aan ’n vorige wenner van sowel die UJ-debuutprys as die UJ-prys, Willem Anker, vir sy roman Skepsel.

[Lees die volledige persverklaring hier.]


NB-Uitgewers het ook die wenners van hulle Groot Afrikaanse Romanwedstryd bekend gemaak.

Die wenners in die kategorie vir gepubliseerde skrywers is:

Derde prys: Eugene X deur Kirby van der Merwe
Tweede prys: Die getuienis deur Francois Smith
Eerste prys:  Simoelégri deur Jaco Fouché

Sien hier vir meer inligting.

Hartlik geluk aan al die wenners!

 

Welkom aan nuwe lede

Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:

Jana Luther
Adele Vorster

Ons is bly om julle in ons midde te hê.

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Daar is hierdie keer ’n nuwe toevoeging: die Boeken uit het Huis-aanbieding oor Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls. Boeken uit het Huis is ’n reeks gesprekke oor Afrikaanse letterkunde wat deur die Week van de Afrikaanse Roman in samewerking met die Taalunie en die ZuidAfrika-huis aangebied word. Kyk ook na die besondere gesprek tussen Jolyn Phillips en Yves T’Sjoen wat op 25 Februarie uitgesaai is en waarmee hierdie reeks gesprekke afgeskop het: https://youtu.be/oH6llBWz4wU


Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in April 2021

Laastens deel ons oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. ’n Spesiale geluk aan Bernard Odendaal, een van ons gewaardeerde bestuurslede, met die verskyning van Nootvat. Kwashaal. Stapel.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Bookmark and Share

Comments are closed.