Met die oog op môre: ‘n versdrama deur Antjie Krog. Protea Boekhuis, 2020.
Resensie: Alwyn Roux
Met die oog op môre (2020) deur Antjie Krog is ʼn versdrama wat die deerniswekkende verhaal vertel van die vriendskap tussen koning Moshoeshoe I van Basoetoland (die hedendaagse Lesotho) en die Franse sendeling Eugène Casalis. Die verhaal speel af teen die agtergrond van die 19e eeuse geskiedenis van die Basotho-nasie. Moshoeshoe spreek die wens uit om nader te beweeg aan die “aanspreiende wit wêreld”: “Ek wil iemand/ hê wat my band met hulle onderhandel,/ iemand uit die aanspreiende wit wêreld./ Al my spioene sê waar sendelinge/ is, is daar vrede. Ek soek dus …/ ʼn sendeling …” (bl. 12). In die tweede bedryf se eerste toneel word ons voorgestel aan die sendeling Eugène Casalis, wat op ʼn dag deur die koning van Basoetoeland versoek word om hom te besoek. Dié oproep is vir Casalis bevestiging van sy goddelike roeping om die evangelie te verkondig. Alhoewel hulle aanvanklik met verskillende agendas bymekaar kom – koning Moshoeshoe I om politieke redes en Eugène Casalis as deel van sy sendelingsopdrag – verander hulle verhouding gou tot ʼn vriendskap wat die uitkyke van beide karakters se menswees op kardinale wyse verander. Hierdie vriendskap tussen Moshoeshoe en Casalis is dan ook die katalisator vir die gebeure wat in die versdrama volg.
Die dramastuk sentreer veral op die karakterontwikkeling van koning Moshoeshoe I en Eugène Casalis. Casalis vertel aan ʼn ouer sendeling, Maeder, dat die koning werklik ʼn komplekse karakter is (bl. 19). Hierdie direkte karakteriseringsmetode volg ná afloop van die slottoneel van die eerste bedryf, waarin die koning se idealistiese ideologie deur ʼn vertelling van drie ou mans geïllustreer word. ʼn Jongman kom by drie ou mans aan vir wie hy ʼn skaap bring. Hy wil weet waarom die koning dié drie mans versorg en deel ag van sy familie en tog moet hulle eenkant op die berg bly. Die drie ou mans vertel dat hulle tydens ʼn hongersnood die koning se oupa geëet het. Die koning stel hulle egter nie tereg vir hulle kannibalisme nie; inteendeel, hy vaardig ʼn eienaardige bevel uit dat die moordenaars versorg moet word deur die mense in die stat sodat hulle nóóit weer sal honger sal ly nie. Dié reaksie van die koning is sprekend van sy toekomsvisie (“met die oog op môre”), wat soos volg deur Moorosi, ’n vriend van die koning, belig word:
Jongman:
Ek verstaan dit nie!
Moorosi:
Toe die koning sien ons is
almal stomverbaas, ja selfs aggressief,
laat hy al sy mense kom en vra ons:
mag mens ’n ander mens doodmaak omdat
hy skadelik is? Ek wil skadelike
gedrag stop, maar hoe stop ek dit sonder
om self ook skadelik te raak? Toe niemand
hierop antwoord nie, sê hy: Die manier waarop
’n mens die skadelike onskadelik
maak, is belangrik vir die pad waarin ons
wil hê ons toekoms vorentoe moet loop.
Nou, hoe op aarde stry ’n mens hierteen? (bl.17-18).
Die vraag kan gevra word of daar waarheid te vind is in Moshoeshoe se etiek van die skadelike onskadelik te maak sonder om self skadelik op te tree? My gevoel is dat die belangrikheid van die versdrama juis hierin verskuil lê. Mens sal byvoorbeeld kan dink dat hierdie gedagte veral as deel van ʼn “Christelike werklikheidsiening” beskou kan word. Dit sou immers verkeerd wees, aangesien dié “Christelikheid” vanuit die staanspoor deur die teks gedekonstrueer word. Dit vind eerstens plaas deurdat die verhoogdekor “binne ʼn witkleurige raamwerk of omlyning [plaasvind] wat te alle tye sigbaar vir die gehoor moet wees” (bl. 6). Dié raamwerk beklemtoon die gekonstrueerde aard van die dramastuk, wat beteken dat die betekenisse vanuit ʼn posisie van wit bevoorregting bekyk word en op ʼn akitewe wyse deur die leser/aanskouer losgetorring moet word, of in Eugène Casalis se woorde, die noodsaak “om jouself uit ander hoeke te sien” (bl. 25).
Koning Moshoeshoe I se vrou, ’Mamohatho kritiseer byvoorbeeld die sendelinge se sendelingsmissie as ʼn instrument van uitbuiting en kolonialisering: “Maar hy [Eugène Casalis] kom uit ʼn wêreld wat net in húlle god kan glo, terwyl/ hulle stilletjies eintlik staatmaak op geweld en geld” (bl. 39). Moshoeshoe, meen Casalis, leer die Basotho “niks nuuts behalwe lees en skryf nie, want/ hulle het nog altyd aan ʼn Skepper/ geglo – ʼn Almagtige God waaraan/ die voorvaders jou bind, wat leiding gee” (bl. 26). Casalis spreek dan ook al meer die begeerte uit om deurdrenk te word van ander maniere van dink en nie sy eie werklikheidsiening heeltyd voorhou as die volkome waarheid nie:
Casalis:
Ek wíl gepor, gekneus en oopgeruk word
deur ander maniere van dink, ek wil
beheer opgee, my uitkyk ontwrig, al
my sekerhede uitmekaar geskeur, ek
wil in ʼn ander vel stap … my oorgee aan
die Basotho, eenvoudig leef – net een
van die geringstes, sonder hierdie … haag
van mag, hierdie pantser van blinde ekheid. (b. 29)
Tog hou Casalis vol dat Moshoeshoe hom deur die loop van die dramastuk moet bekeer. Moshoeshoe sê aan Casalis, met spesifieke verwysing na die Christelike geloof, dat “jy [Casalis] moet weet, ek bestaan ook buite jou/ gedagtes, jou oë; ek is ʼn mens wat/ regverdig wil leef op hierdie aarde” (bl. 35). Dit speel terug op die feit dat die Afrikakultuur van die Basotho’s al meer verwring word deur wit mense, ʼn gegewe wat op ekstratekstuele wyse ook in die geskiedenis voltrek.
Dié dat Moshoeshoe homself al meer oopmaak aan Casalis bring ʼn spanning tussen Moshoeshoe en ’Mamohatho, sy familie en later ook sy eie mense. ’Mamohatho sê aan Moshoeshoe: “Mense wat net/ met geld meet, sal mos nie ons maniere/ van leef verstaan, wat nog te sê respekteer” (bl. 40); verder ook, “Intussen loop jou kinders/ se koppe leeg van Bosothokennis/ en dool ons almal verdierd hier rond soos/ die sendelinge ons van mekaar afsny” (bl. 41). Moshoeshoe word ook deur ’Mamohatho daaraan herinner dat hy die mag het om die wittes te verjaag: “Jy, koning Moshoeshoe-Moshoaila,/ jy het die grootste weermag in hierdie/ geweste. Jy’s gewapen! Jy’s berede!” (bl.42) In hierdie opsig kan ’Mamohatho gesien word as Moshoeshoe se gewete, maar in die vyfde bedryf word gesuggesreer dat hy sy vrou vermoor, en daarom ook sy gewete.
Krog se versdrama is prysenswaardig. Die grond van die Basotho’s word hoe meer die tydverloop in die dramastuk deur die Boere en kolonialers bedreig en afgeneem tot waar dit aan die einde van die dramastuk ʼn kroonkolonie van die Britse Ryk word en as protektoraat van die koningin beskerm word (bl. 89). Die groter geskiedkundige raamwerke waarbinne die kleiner verhale afspeel word deur beurtsang tussen koor en imbogni belig. Krog wend haar dan ook deurlopend tot die gebruik van reisverhale van die karakters – vergelyk byvoorbeeld Casalis se vertelling toe hy die eerste maal na Thaba Bosiu toe gegaan het om die Moshoeshoe te ontmoet (bl. 22-23). Dié dramategnieke speel terug na die versdrama se oorsprong in die Griekse drama. Verder kan ook genoem word dat die versdrama in vyfvoetige jambes vertel word, wat die belangrike plek van taal as ruggraat van die versdrama onderstreep. Belangrik, egter, is om te noem dat die vers in die versdrama nie as ʼn “dekoratiewe” element gesien moet word nie, maar as ʼn tegniese vorm, waarvan Krog ʼn meester is. Deur die skryf van die versdrama sluit sy haar dan ook aan by ander digters wat dié vorm bedryf, soos T.S. Eliot, William Yeats, N.P. van Wyk Louw, C.Louis Leipoldt en D.J. Opperman (vgl. Cloete, 1992:552).
ʼn Belangrike vraagstuk, wat op ʼn implisiete wyse deur Krog in die versdrama vooropgestel word, is die vraag of ʼn wit skrywer enigsins ʼn verhaal van die Basotho’s mag vertel. Tegnieke soos dié van die wit raamwerk, wat dan en wan deur swart karakters afgebreek word, beklemtoon die nosie dat dit bloot ʼn gekonstrueerde vertelling is, wat nie staatmaak op “waarheid” of die “histories-korrekte” voorstellings van die karakters nie. Krog noem ook in ʼn skrywersnota: “Die breë verhaallyn en visies kom uit die bronne in die bibliografie, maar vir die tonele, karakterinlewing en taalgebruik dra my verbeelding die blaam” (bl. 94).
Die versdrama verbind historiese gegewens met filosofiese brandpunte van die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing en belig hoe die swart liggaam vanuit ʼn wit perspektief gemarginaliseer word. Hierdie kwessies word ingelui deur ʼn aanhaling van Frantz Fanon uit sy boek Black skins, White Mask (1986 [1952]): “… I am being dissected under white eyes, the only real eyes. I am fixed. Having adjusted their microtomes, they objectively cut away slices of my reality. I am laid bare. I feel” (motto tot die versdrama). Hierdie aanhaling word onder andere in ʼn monoloog deur Moshoeshoe óf die akteur wat Moshoeshoe speel (keuse hang van die regisseeur af – vergelyk die toneelaanwysings in bedryf vier se derde toneel) voorgehou aan die gehoor. ʼn Tweede motto, wat meermale geïntegreer word tot die spraak van die ouer sending, Maeder, en Arbousset, is geneem uit Samuel Beckett se dramastuk Watt (2009 [1953]), wat veral wys daarop dat hulle met hul wit teologie totaal uit voeling is met die geweste waarin hulle hulself bevind. Vergelyk byvoorbeeld die dialoog tussen Arbousset en Maeder in die vierde bedryf se tweede toneel, wat terselfdertyd ook Waiting for godot (2011 [1954)] deur Beckett en Rosencrantz and Guildenstern are dead (1969 [1967]) deur Tom Stoppard as belangrike intertekste aktiveer.
Krog se taalgebruik by monde van die verskillende karakters is dan ook lofwaardig. Vergelyk byvoorbeeld Moshoeshoe se metaforiese taalgebruik in die eerste toneel: “ek droom om ʼn verenigde nasies/ te stig – my oog is op môre en hiervoor/ vleg ek reeds ʼn mat dig van mens en bees/ en veld, ʼn mat van genoeg … van saamwerk” (bl. 11). Dan is die integrasie van die Sesotho-dialoog besonder goed gedoen wat geloofwaardigheid aan die versdrama verleen asook historiese gevoeligheid. Weens die feit dat Eugène Casalis se Sesothomagtig was, het hy ʼn koorstuk geskryf, “Lona ba ratang ho phela”, wat deur die koor op bladsy 24 gesing word, waarvan die gesang ook in die bylaag van die dramastuk opgeneem word, voorsien van ʼn Afrikaanse vertaling en ʼn YouTube-skakel waar die musiekstuk geluister kan word: https://www.youtube.com/watch?v=QkeR65otjKE.
Of dié versdrama koning Moshoeshoe I se ideaal van die skadelike skadeloos te maak deur self nie skadeloos te wees nie dekonstrueer, is gewis. Teen die einde weeklaag Moshoeshoe oor sy verlore koninkryk, wat nou ʼn Britse protektoraat is:
Moshoeshoe:
Ek is bedek met skaamte. ʼn Groot smart
dra ek: my koninkryk is nooit herstel nie.
Ek is ʼn held wat tot niks gekrimp het.
ʼn Oorblyfseltjie word skielik beskerm.
Bring liewer! Ag, bring tog! Laat kom my beeste!
Bring my beeste uit die veld … ek hoor hulle …
Daar! Hoe pensdiep wei hulle in die rooigras!
Gaan lees koning Moshoeshoe I se hartroerende monoloog op bladsy 89. Hierin roep hy sy beeste, wat elk ʼn storie uitmaak van by wie hy hulle gekry het, wat die bou van die Basotho-nasie veronderstel. Hy roep dan die beeste en deel hulle uit.
Die een groot vraag wat die versdrama aan lesers stel, is hoe mens die teks kan lees. Teoretiese kaders wat onmiddellik aan gedink word, is die postkolonialisme en dekolonisering. ʼn Postkoloniale perspektief kan byvoorbeeld aandag skenk aan hibriditeit en kreolisering. Dit sal interessante interpretasiemoontlikhede van Krog se versdrama oopsluit.
Bibliografie
Cloete, T.T. 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: Van Schaik. http://www.litterm.co.za/.