Gode
Thales
van Milete
had hierdie wete:
“Die gode is in alles.”
Soos die bome in ’n park.
Soos voëljies in ’n pastei;
of ’n vlei vol riete.
Die gode neem hul intrek by die wysgere.
En sotte is insgelyks
met dié windstorms besete.
Jy kry hul
in ongereptes.
Sowel as in resepte.
In ruimtetuie,
houtperde;
die wetenskap;
stommelend in erdekruike
kom die gode tydens aardskuddings aangeskommel.
’n Leërmag
bestaande uit ’n enkele manskap,
is mos ’n god.
Beskroomdes,
voortvarendes,
so hovaardig, eintlik, die skames.
Verreken ook die dromendes.
En harige stoutes
in die gewade
van dames.
Te vinde
as rosyntjies.
Lede van ’n volk.
In ’n kworum van sade.
Korrels.
Atome.
In die geringste klone.
My teekoppie van vanoggend
het heeldag
in die son op die tuintafeltjie gestaan.
Nadat ek dit geledig het
tot die droesem.
’n Koppie wat skyn met ’n randjie goud.
Nou is dit laat,
en word dit koud.
Ek vou my hande
om die porselein
en hou die getaande warmte
en verdwene inhoud
teen my wang,
’n omkringde leegheid.
Die gode is in alles.
© Charl-Pierre Naudé, 2021